My mamparras van die jaar
My mamparras van die jaar

My mamparras van die jaar

Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Daar was sekere mense wat in 2017 hul name lelik met 'n plank geslaan het.

My mamparras van die jaar is beslis die Mugabes van Zimbabwe. Hulle het die hand van hul mag van byna drie dekades oorspeel. Toe hulle hul oë uitvee, het die weermag 'n vreedsame oorgang in Zimbabwe bewerkstellig. Dít alles oor Gucci Grace die perke van haar magsbehepteid en geldgierigheid oorskry het. Boonop het sy diplomatieke immuniteit in Suid-Afrika gekry nadat sy 'n model in 'n Sandtonse hotelkamer glo aangerand het. Haar seuns is net sulke bedorwe brokkie-mamparras wat gespog het "pappa besit 'n hele land".

Nou hou die Mugabes lekker vakansie in Singapoer en DisGrace se ses lyfwagte moet haar steeds oppas. Ons hoop maar die nuwe Zimbabwiese regering is nie ook mamparras nie.

Die staatshoof van een van ons buurlande, pres. Jacob Zuma, is ook 'n groot mamparra, maar een met meer as 'n kat se nege lewens. Hoe hy ná al die beweerde misdaad soos verkragting, bedrog, korrupsie, staatskaping en Gupta-gate nog aan die stuur van 'n land staan, gaan my verstand te bowe. Dankie tog die ANC kon dié naweek 'n nuwe president kies.

Op 'n ander vasteland is pres. Donald Trump van Amerika steeds vir my 'n massiewe mamparra en so ook elke Amerikaner wat vir hom gestem het. Sy blaps van die jaar was toe hy nie die Parys-klimaatsverdrag onderteken het nie.

Hy en Kim Jong-oen is vir my soos twee klein mamparra-seuntjies wat spog: "Kyk, myne is tog groter as joune!"

Die twee se ego's is groter as die bomme wat hulle bou.

Die mamparra-woord van die jaar is beslis 'n Trump-skepping: Niemand weet steeds wat covfefe beteken nie. Niemand op aarde weet ook presies waar in Afrika “Nambia” is nie.

As Trump bedoel het Nambia is Namibië "met fantastiese openbare gesondheidsorg", was hy beslis nog nie in ons staatshospitale nie. Gaan kyk hoe hardloop die hordes kakkerlakke in die damesbadkamer op vloer 6 in Windhoek Sentraal rond.

Wat my bring by ons plaaslike mamparras: Vir my was die grootste tragedie van die jaar klein Clinton Swartbooi wat sedert September met gebrande voete moes ly en knap voor hy 'n ortopeed sou sien, gesterf het.

Dít nadat hy in twee staatshospitale in die land behandel is, glo net met koorsmedisyne. Klein Clinton se sterfte wys nie net vingers na die swak bestuur van ons openbare gesondheidstelsel nie, maar ook na 'n gebrek aan medemenslikheid.

Op ekonomiese front is die resessie en die ramp met die SME Bank soos basaarpoedings wat in ons gesigte gegooi is. Toe tref die poedings ook die ryk Stellenbosse boytjies Christo Wiese en Markus Jooste van Steinhoff.

Op omgewingsfront is elke liewe Namibiër wat rommel strooi 'n mamparra.

Ook dié wat steeds val vir die kleingeld wat internasionale sindikate hulle betaal om renosters, olifante en ietermagôs te stroop.

Ook dié wat gemsbokke met klippe vrekgooi en maai onder ons boere se beeste en wild met hul bosslaghuise.

Namibiërs wat onverskillig en dronk bestuur en onskuldige lewens op ons paaie eis, is ook moedswillige mamparras.

Geseënde Kersfees, ry veilig en mag 2018 minder mamparras oplewer.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!