My manewales met mnr. Stokgogga
Daar gebeur dinge in jou lewe wat jy nie sommer vergeet nie. Ek het onlangs een van daardie oomblikke beleef. Al die elemente was daar vir ’n epiese liefdesverhaal-oomblik. Ons het diep in mekaar se oë gekyk, en jy kon die spanning in die lug met ’n mes sny. Hy kyk vir my, en ek vir hom, en jy het sommer geweet iets groots is op pad.
Maar ongelukkig is my lewe nie ’n sprokiesverhaal nie, en is hierdie situasie nie wat jy dink nie. My knight in shining armour was nie ’n knight nie, maar eerder ’n stokinsek wat my persoonlike spasie binnegedring het.
Ek en stokgogga was minder as 30 cm van mekaar af in ‘n voertuig; ek het amper gedooi. Dit was naby genoeg dat ek in sy klein stokogies kon kyk, iets waaroor ek steeds nagmerries kry.
Almal wat my ken, sal weet ek hou nie baie van goggatjies nie. Ek het niks teen hulle nie (behalwe as dit spinnekoppe is, want dié haat ek meer as draf), maar ek sal verkies as ons eerder op afsonderlike paadjies loop.
Ons klim die een oggend in die motor op pad werk toe. Ons besef toe ons sal seker êrens brandstof moet ingooi as ons nie wil stap nie, en stop noodgedwonge by die vulstasie.
Ek sing heel lekker saam met die radio, ons betaal en maak gereed om te ry. My liefste ma wag tot ek die motorenjin aangeskakel het en reeds begin ry het om iets met my te deel. Sy sê ek moet op die dashboard van die motor kyk. Ek wil nog wonder, toe wonder ek nie meer nie.
Net langs die stuurwiel sit mnr. Stokgogga. Op daardie oomblik het ek myself amper natgemaak. Ons het ’n Nissan Micra – wat ‘n groot hart het – maar nie binne baie groot is nie. Dus is daar nêrens om heen te gaan nie. Ek is vas oortuig goggas kan vrees ruik, want toe besluit hy dit is tyd om te loop; hy word duidelik aangepor deur die vrees in my oë.
Ek kan nie stop nie, want dit is spitsverkeer. My ma smeek my om net die voertuig op die pad te hou.
Ek begin snaakse klein gilletjies gee, want hoe meer ek probeer om te bedaar, hoe nader kom hy. Ek probeer skuif, en sit later so te sê op my ma se skoot, terwyl ek nog my hande op die stuurwiel hou.
My ma lag haar dood; en ek wil eintlik net huil.
Die verkeer beweeg teen ’n slakkepas, maar mnr. Gogga het seker sy Red Bull gedrink, want dié is vasbeslote om my ‘n hartaanval te gee. Hy begin later teen die dak oploop en is basies reg bo my kop.
Ek weet dit is net ’n onskuldige insek, maar op hierdie punt het ek geweet as hy nou sou val, sou dit my einde wees.
Elke motor voor my besluit hulle gaan vriendelik wees, en gee vir al wat ‘n motor, kind, hond, blaar en stuk gras is toe, en niemand is bewus van die chaos in die wit Nissan Micra nie.
Teen die tyd wat ons by die werk aankom, sit ek al amper op die dak én my ma is histeries. Gogga is steeds besig met die roetes van Vader Cloete. Ek was nog nooit vreeslik flexible nie, maar toe ons stop het ek soos ‘n wafferse gimnas by die deur uitgegly en in die proses dit reggekry om nog my handsak en waterbottel te gryp.
Mnr. Gogga het net vir my gekyk, so asof hy nie heeltemal verstaan waaroor die bohaai gaan nie.
Ek weet ek is eintlik ’n baba, maar dit is ook reg met my.
Ek hou rêrig net nie baie van goggas nie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie