Myburgh dra span na finaal

Krieket
Tielman van Lill
Tielman van Lill

Wessel Myburg se onoorwonne 98 lopies van 102 aflewerings (8x4, 1x6) vir Wanderers 2 in Pionierspark teen Gobabis 1 in Krieket Namibië se eerste liga 40-beurt semifinaal, het Saterdag grootliks vir sy span se oorwinning van ses paaltjies gesorg.

Terwyl Wanderers se eerste span geduldig ‘n klipgooi weg by die CCD-velde gewag het dat die kolfblad moet droog word sodat sy 50-beurt premierliga-botsing teen CCD Tigers kan begin, het sy tweede bestes gaan veldwerk doen nadat Gobabis die val van die munt reg voorspel het.

Dié botsing tussen Tigers en Wanderers moes weens ‘n nat kolfblad afgelas word, en die gasheer sal moontlik deur Krieket Namibië oor die vingers getik word. Later die namiddag het reën opnuut versoorsaak dat die wentotaal in die semifinaal tussen Wanderers 2 en Gobabis 1 van 166 na 148 aangepas moes word, nadat ses boulbeurte verlore gegaan het.

Gobabis, wat vanjaar goed gevaar het, se eerste drie kolwers is goedkoop vir 25 lopies laat stap. Gerrie Odendaal kon 18 lopies van 69 balle insamel voor een van Michael Durant se draaiers hom geflous het en hy deur paaltjiewagter Wessel Myburgh gestonk is.

Morné du Plessis se openingsmaat was minder gelukkig en word vir sewe van Steven Delport se boulwerk deur Collin Schoonbee uitgevang. Pieter Nel, wat Du Plessis vervang het, word Delport se tweede slagoffer op nul toe hy Nel boul.

Met slegs 18 lopies vir die verlies van twee paaltjies op die telbord was die besoekers vinnig kniediep in die moeilikheid, maar WM Blaauw slaan ‘n uitstekende 33 van 32 balle (2x4, 2x6) terwyl die bouler Kobus Brand (24 l, 20 b, 1x4, 2x6), kaptein Schalk van Eck (20 l, 15 b, 2x4, 1x6) en Jasper Engelbrecht (24 l, 18 b, 1x4, 2x6, nie uit nie) Gobabis se kolfbeurt anker.

Wouter Barnard drie, Lappies Labuschagne twee, J. Blaauw vier en Stefan Bezuidenhout sewe lopies se kolfbeurte word egter vinnig deur Wanderers se boulers kortgeknip, terwyl Barnard uitgehardloop word.

Vir Wanderers neem Herchelle van Wyk 4/48 (8 boulbeurte), Michael Durant 2/23 (8 bb), Steven Delport 2/19 (8 bb) en Martin van Niekerk 1/21 (6.3 bb) om Gobabis in 38.3 boulbeurte vir 165 lopies uit te knikker.

Wanderers moes ‘n teiken van 166 lopies jaag om te wen, maar reën het ‘n aangepaste wentelling van 150 vir hom vooberei wat in die 30ste beurt behaal is. Die gasheer was egter vroeg in die sop op 4/59.

Myburgh, wat ‘n reusebeurt gespeel het, moes sien hoe kaptein Tiaan Louw, sy openingsvennoot, vir vier lopies (13 aflewerings) deur Kobus Brand skoongeboul word. Collin Schoonbee (15 l, 28 b, 2x4), Michael Durant (nul, 3 b) en S. Rossouw (nul, 1 b) word die slagoffers van Jasper Engelbrecht wat al drie boul.

Dit is egter Myburgh en Wian Loubscher as nommer sewe-kolwer (23 l, 36b, 2x4, nie uit nie) wat Gobabis se hoop verydel om in die finaal teen Windhoek Hoërskool Old Boys Circket Club Vintage te speel.

Brand het met sy 19/1 as lenige bouler in sy sewe boulbeurte beïndruk, want hy staan slegs 2.7 lopies per beurt af en uitoorlê die ervare Louw terwyl Jasper Engelbrecht nie verder op sy 3/39 in sy sewe boulbeurte kan voortbou nie.

Wandrers 2 en WHSOBCC V sal volgende Saterdag mekaar in die finaal pak.

Kommentaar

Republikein 2025-04-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer