Mylene en man agter tralies
Mylene en man agter tralies

Mylene en man agter tralies

Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Die veroordeelde bedrieër me. Mylene Jooste en haar bekende man, die sielkundige dr. Ockert Jooste, is Vrydag in hegtenis geneem en sal vandag in die Windhoekse landdroshof om borgtog aansoek doen.
Polisiewoordvoerder adj.komm. Edwin Kanguatjivi het bevestig dat die Joostes Maandag in die hof verskyn het in verband met veel­vuldige klagte van mense wat bloutjies met dié egpaar geloop het toe hulle eiendom by hulle wou huur.
Volgens die koördineerder van misdaadondersoeke in die Khomasstreek, adj. komm. Sylvanus Nghishidimbwa, het die Joostes op klagte van bedrog en diefstal onder valse voorwendsels verskyn en is dié sake na die polisie se eenheid vir ernstige misdaad verwys.
Verskeie klaers kla al maande lank by Republikein oor die Joostes. Volgens die klaers teken hulle huurkontrakte met die Joostes en betaal die deposito’s. Sodra hulle wil intrek, kom hulle voor dooiemansdeur te staan of die huis is glo intussen aan Angolese verkoop. Verskeie klaers het al met hul kinders op straat beland en het geen heenkome gehad nie.
“Dit was regtig ’n verskriklike tyd vir ons en ons het darem op die nippertjie ’n ander huis gekry. Finansieel was dit ook moeilik, want ons moes wag om die Joostes se deposito terug te kry en ’n tweede deposito op ’n ander huis betaal,” het ’n klaer aan Republikein gesê.
Een van die eiendomme ter sprake is op die hoek van Von Falkenhausen-­­­ en Coetzeestraat in Pionierspark waar verskillende soorte eiendomme, soos ’n huis en woonstelle, op die een erf geleë is.
Republikein het die klaers aangeraai om klagte by die polisie aanhangig te maak, maar telkemale het hulle kop uitgetrek, weens beweerde intimidasie van dr. Jooste.
Volgens die klaers het die Joostes die deposito’s nooit aan hulle terugbetaal nie en hulle het glo telkemale belowe “om volgende week te betaal”, wat nooit gebeur het nie.
’n Eiendomsagent wat die verhuring van die eiendom in Pionierspark behartig het, het ook ’n klag by die polisie aanhangig gemaak.
“Die Joostes het vir my en my eien­domsagentskap as ’n sagte teiken gesien,” het die eiendomsagent gesê.
Die verhouding tussen hom en die egpaar het ook versuur en dr. Jooste het die volgende SMS aan die eiendomsagent gestuur: “Ek stuur my vrou om die deposito op te tel en na mevrou [. . .] toe te vat. Ons kan nie die koerantpublisiteit bekostig nie. Groete Ockie.”
Volgens die eiendomsagent het Mylene vir hom ’n blanko huur­kontrak gevra.
“Ek het getuies dat ek ’n skoon huurkontrak vir haar gegee het.”
Nou is hy spyt dat hy dit vir haar gegee het “wat ek vermoed hulle tydens hul skelmstreke gebruik het”.
Mylene het reeds tronkstraf uit­gedien nadat sy op ’n klag van bedrog skuldig bevind en tot sewe jaar gevangenisstraf gevonnis is. Sy is ná drie jaar in die gevangenis weens goeie gedrag vrygelaat.
In Desember 2010 was sy weer agter tralies, maar is later weer op borgtog vrygelaat.
In 2013 is sy van dwarsboming van die gereg aangekla wat spruit uit ’n vervalste mediese brief wat Mylene glo van dr. Anelle Zietsman van die Dr. A. Bernard May Kankersorgsentrum verkry het. In die brief is aan­gevoer dat ene M. Swanepoel medies ongeskik is om verhoor te word. Ander vanne wat Mylene gehad het, is onder meer Swanepoel en Van Rensburg.
Sy is weer in hegtenis geneem, maar borgtog is weer aan haar toegestaan.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer