Mynbestuurder oor oortyd gedreig
Mynbestuurder oor oortyd gedreig

Mynbestuurder oor oortyd gedreig

‘n Wag is aangestel om ‘n werknemer te beskerm wat ’n dreigbrief ontvang het.
Otis Finck
face="Verdana" >

Otis Finck op Swakopmund - ’n Bestuurder van Swakop Uranium, wat die Husab-myn besit, se lewe is weens ‘n oortydbetalingkwessie in gevaar.

Mnr. Timo Ipangwela, hoof van mynbedrywighede by die maatskappy, het ‘n brief van ‘n anonieme skrywer ontvang waarin hy beveel word om die skrywer se oortydgeld binne enkele dae te betaal.

Republikein is in besit van ’n afskrif van die brief.

Die Mynwerkersunie van Namibië (MUN) se Husab-tak het dié optrede ten sterkste veroordeel.



Me. Rebekka Bengela, die MUN se sekretaris, sê die vakbond beskou die inhoud van die brief as lewensbedreigend.

“Dié optrede kan rampspoedige gevolge hê. Ons kan nie sulke gedrag verskoon of ondersteun nie, aangesien dit ‘n strafbare oortreding is om iemand se lewe te bedreig. Ons moedig ons lede aan om hulle van onwettige dade te weerhou en te alle tye van interne kommunikasiekanale gebruik te maak.”

Die vakbond het ‘n beroep op die Husab-mynbestuur gedoen om die voorval te sien as bewys daarvan dat oortydbetalingskwessies en ander onopgeloste dispute emosionele en geldelike druk op werknemers plaas.

“Die MUN moedig derhalwe die maatskappy aan om die unie onnmiddellik in die verband te betrek. Ons het ‘n ooreenkoms wat verseker belangrike kwessies word bespreek, en dat vreedsame oplossings te alle tye gevind word.”

In die brief sê die skrywer glo dit is ‘n skande dat Husab, wat homself ‘n maatskappy van wêreldgehalte noem, werkers oortydgeld skuld. Hy stel ook ultimatums en maak etlike dreigemente.

“Ek gee die maatskappy 20 dae. Indien nie, sal iets verskriklik gebeur en die Namibiese nasie sal geskok wees. Dit klink dalk soos ‘n grap, maar iets onverwags sal gebeur. Hoor my mooi.

“Ek kan nie so lank vir my geld wag nie en wil dit voor die einde van die maand hê. Praat met jou baas. Jy kan die inhoud van die brief uit eie keuse en op eie risiko ignoreer. Iets erg sal gebeur. Ek pers nie die maatskappy af nie. Gee aandag hieraan voor dit te laat is.”

Me. Frieda Abraham, Swakop Uranium-woordvoerder, sê die bestuur sien die kwessie in ’n baie ernstige lig – veral teen die agtergrond van die skietvoorval in April op Arandis.

Tydens die voorval is die direkteur en adjunkdirekteur van die Namibië Instituut vir Mynbou en Tegnologie (Nimt), mnre. Eckhart Mueller en Helmo Hellwig, doodgeskiet.

“Dit is skokkend. Ons weet nie waar die brief vandaan kom nie. ‘n Uitgebreide ondersoek word gedoen. Die sekuriteitsafdeling werk ononderbroke. ‘n Inbellyn is beskikbaar vir mense om inligting anoniem te verskaf.

“‘n Beloning van N$10 000 word aangebied vir enigiemand wat kan aandui waar die brief vandaan kom en wie dit gestuur het.”

‘n Sekuriteitswag is vir veiligheidsredes by Ipangwela se huis aangestel.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer