Mynbou-ekspo uitgestel
Mynbou-ekspo uitgestel

Mynbou-ekspo uitgestel

Die Namibiese Kamer van Mynbou het hul jaarlikse konferensie tot September uitgestel.
Augetto Graig
Augetto Graig - Die Namibiese Kamer van Mynbou (CoM) het sy jaarlikse mynbou-ekspo weens die uitbreking van die nuwe coronavirussiekte, Covid-19, in Namibië uitgestel.

Die beplande ekspo en die gepaardgaande internasionale konferensie sal nou op 2 en 3 September by die Windhoek-skougronde plaasvind.

Dié aankondiging is Maandag deur die kamer se uitvoerende hoof, mnr. Veston Malango, gemaak.

Hy sê ná die staatshoof, pres. Hage Geingob, op 14 Maart die uitbreking van die nuwe virus aangekondig het, is alle massabyeenkomste landswyd vir 30 dae opgeskort.

Derhalwe die besluit om die ekspo uit te stel.

“Die kamer neem met kommer kennis van die vinnige verspreiding van Covid-19 in ander lande, en sal dus nou die omstandighede in Namibië dophou.

“Enige nuwe verwikkelinge kan tot verdere besluite lei. Alle belanghebbers sal betyds ingelig word van enige groot veranderinge of besluite,” sê hy.

Volgens Malango is die veiligheid, gesondheid en welsyn van alle deelnemers aan die ekspo en konferensie die kamer se eerste prioriteit.

Die CoM is toegewy daaraan om die nodige voorsorg voor en gedurende die geleentheid te tref.

“Die 2020 Mynbou-ekspo en -konferensie sal te alle tye ’n hoë standaard van netheid en higiëne handhaaf,” sê hy.

“Bo alles wil die kamer die mynbougemeenskap daaraan herinner om hulself in dié tydperk voortdurend veilig en gesond te hou,” sê hy.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer