Mynbou hervat met mening
Mynbou hervat met mening

Mynbou hervat met mening

Klipmyn-ondernemings was die swaarste getref sover dit die mynboubedryf betref.
Andrew Poolman
Augetto Graig



Die ministerie van myne en energie verwag die meerderheid van die land se groot myne moet deur die huidige fase van inperking volle produksie hervat, sê die ministeriële woordvoerder, mnr. Andreas Simon.

Die meeste gesondheidsmaatreëls wat in reaksie op die uitbreek van Covid-19 ingestel is, moet ook voortduur, sê hy.

Beperkings in mynbou is deur president Hage Geingob ingestel met die aankondiging van 'n landswye noodtoestand op 17 Maart, asook die eerste fase van die nasionale inperking vanaf 28 Maart tot 5 Mei. Die inperking is nou in sy tweede fase en sekere beperkings is verlig.

Myne het die spesifieke voorsorgmaatreëls wat hulle toepas, vir goedkeuring by twee ministeries (mynbou asook gesondheid en maatskaplike dienste) ingedien. Verskeie mynpersele is besoek en inspeksies is uitgevoer vir verifiëring, leiding en konsultasie, sê Simon.

“Ongelukkig kon die ministerie nie al die myne besoek nie, maar die gesamentlike poging deur die ministeries en die myne het tot toepaslike maatreëls gelei om die verspreiding van Covid-19 te bekamp. Hierdie proses duur gedurende die noodtoestand voort,” sê hy.

Volgens hom beplan die regering verrassingsbesoeke by myne tot die einde van die noodtoestand, wat nog tot September strek.

Volgens Simon is sommige myne hard getref deur die virusverwante inperking, terwyl ander net gedeeltelik geraak is.

“'n Paar kleiner mynbou-operasies, veral klipmynondernemings (betrokke by marmer, graniet, kalksteen, sandsteen en leiklip) het hul operasies geheel en al gestaak.

“Ons sien die Husabmyn, Walvisbaai Salt and Chemicals, De Beers Holdings en Dundee Precious Tsumeb het redelik goed gevaar deur hierdie vreeslike tyd,” sê hy.

Volgens mnr. Mark Hoffmann, 'n kenner van klipmynbou, was die swaarste slag vir die bedryf nie die staking van mynboubedrywighede nie, maar eerder die beperkings op internasionale reise.

Hy sê die hoofmark, byvoorbeeld vir Namibiese marmer, is internasionale kopers, wat fisies die land moet besoek om oor bestellings te besluit.

“Hulle kan nie 'n klipblok kies sonder om dit self te sien nie. Dit is soos die koop van 'n mode-item. As ons hierdie maand myn, sal die bondel blokke baie verskil van laas maand of volgende maand se blokke. Wat gekoop word, moet by die argitek se ontwerp en die betrokke bouprojek pas,” sê hy.



VERLOOR BUITELANDSE MARKTE

Sodra reisbeperkings dit moeilik maak om 'n steen se gehalte te verifieer, sal groot en belangrike bouprojekte spoedig vir Namibiese stene verlore raak ten gunste van verskaffers wat makliker bereik kan word en goedkoper vervoerkoste bied, sê Hoffmann.

Hy sê klipmynondernemings in Namibië gaan reeds die laaste twee tot drie jaar deur moeilike tye omdat die internasionale mark baie kompeterend is, en omdat Namibië ver van sy mark geleë is, in vergelyking met byvoorbeeld Turkye, Italië, Griekeland of Pole.

Ander lande bied aansporings om hul klipprodukte meer kompeterend te maak, maar hierteenoor het Namibië onlangs nuwe uitvoerheffings ingestel, sê hy.

Mnr. Boeta van Niekerk van Granite World Namibia, wat granietblaaie sny, stem saam dat die bedryf 'n “helse knou” weg het.

“Myners kry swaar. Almal moes toemaak en uitvoere is stopgesit,” vertel hy. “Hier staan 'n magdom graniet wat ons nie kan uitvoer nie, selfs nou nog nie,” sê hy.

Volgens Van Niekerk is daar vir sy besigheid hoop, want sy kliënte in Suid-Afrika en Europa soek steeds die produk. “Mense sal nog blaaie koop, net miskien twee maande later. Hulle soek dit,” sê hy.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!