Mynbou kyk terug op 2020
Mynbou kyk terug op 2020

Mynbou kyk terug op 2020

Die Kamer van Mynwese het verlede week uitgebrei op dié sektor se jaarlikse prestasies en afname in beleggersvertroue.
Augetto Graig
Augetto Graig – “Covid-19 het die mynbousektor in 2020 hard getref. Die pandemie het grotendeels bygedra tot werksverliese van meer as 1 700 en 'n inkrimping in groei in die sektor van 14,5%,” sê die uitvoerende hoof van die Namibiese Kamer van Mynwese, mnr. Veston Malango.

Hy sê die ineenstorting van kommoditeitspryse vroeg verlede jaar het saam met onderbrekings in die voorsiening van onder meer plofstowwe en 'n tekort aan personeel weens Covid-19 vererger. Die gepaardgaande inperkings het boonop vervaardigingsbedrywighede beperk.

Die Kamer van Mynwese het Donderdag hul verslag oor prestasies in dié sektor in 2020 bekend gemaak en ook toekennings vir veiligheid aangekondig.

Swakop Uranium se Husab-myn is as die veiligste in sy kategorie aangewys, saam met ander wenners Weatherly Mining, Reptile Uranium, Sperrgebiet Diamond Mining en Orano Mining Namibia.

Malango het klem daarop gelê dat die mynbousektor verlede jaar steeds 'n inkomste van N$33,95 miljard gegenereer het, waarvan 33% op plaas­like aankope bestee is en altesaam 74,5% binne die land se grense gebly het. Dié prestasie is danksy die erkenning van die ministerie van myne en energie dat mynbou noodsaaklik vir die ekonomie is en om toe te laat die sektor se bedrywighede kan bykans normaal voortgaan.

Die oorspronklike inperking wat op 28 Maart 2020 op die mynbousektor van toepassing was, was volgens Malango onvolhoubaar. Met spesifieke maatreëls wat geïmplementeer is, kon dié sektor Covid-19-positiewe gevalle by werksplekke beperk tot 343 teen 11 Desember 2020, met 77% wat herstel het, 22% wat steeds aktief is en die verlies van twee lewens.

Ander verwikkelinge laas jaar sluit in onder meer die plasing van Namib Lead and Zinc onder instandhouding met 'n verlies van 129 werksgeleenthede; die staking van mynbou by Skorpion Zinc se oopgroefmyn waar sowat 1700 werksgeleenthede verloor is; en ook by die Tschudi-kopermyn. By Tschudi word oorskotvoorraad vervaardig en eksplorasiegate geboor en Skorpion het met die aanpassing en uitbreiding van sy raffinadery begin.

B2Gold gaan ook met sy N$850 miljoen ondergrondse uitbreiding voort terwyl Debmarine se N$7 miljard AMV3-diamantskip na verwagting in 2022 in diens sal tree, aangesien die MV Grand Bankas tot September 2022 nie in gebruik is nie.

Volgens Malango is die grootste kommer dat Namibië verlede jaar met 33 plekke in die Fraser Instituut se indeks vir mynboubestemmings geval het, en vanaf die eerste plek in Afrika tot nommer vyf.

Volgens die instituut skrik onsekerheid oor regeringsbeleid en kommer oor beskikbaarheid van bekwame werkers beleggers af.

Dit ten spyte daar­van dat 97% van die 8 353 werknemers wat op 31 Desember 2020 voltyds in die sektor gewerk het Namibiers was, saam met 917 tydelike werknemers en 5 321 kontrakteurs, om altesaam 14 591 werksgeleenthede verlede jaar te skep.

Die minister van myne en energie, mnr. Tom Alweendo, het bevestig Namibië is nie gereed om mynboulisensies op te veil nie, maar sê die gesprek oor dié moontlikheid duur voort.

Hy het uitgebrei oor die opskorting van nuwe eksplorasielisensies tot volgende maand, wat die ministerie kans gee om sy stelsel op te ruim en te verseker alle lisensies voldoen aan die toepaslike wetgewing.

“Alhoewel eksplorasielisensies net tot sewe jaar mag duur, is daar aansoeke wat van tien tot 15 jaar op ons stelsel bly. Dit is onaanvaarbaar,” sê hy.– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!