Mynbou skop die jaar af met u2019n knal
Mynbou skop die jaar af met u2019n knal

Mynbou skop die jaar af met ’n knal

Nuwe tegnologie, nuwe uitbreidings, nuwe ooreenkomste. . .
Augetto Graig
Augetto Graig

Mynbou in Namibië het 2022 op volle vaart binne gestorm met verskeie verwikkelinge kort ná die Nuwejaar.

Trigon Metals het reeds op 5 Januarie die vervaardiging van die eerste koperkonsentraat in jare uit die historiese Kombat-myn aangekondig, voor die volgende dag se nuus dat B2Gold sy Ondundu-goudprojek aan Osino Resources verkoop.

Verlede week het Gratomic die nuutste in verband met sy hoëtegnologie aanpassings tot sy Aukam-grafietverwerkingsaanleg gedeel. Gratomic beoog om vanjaar 20 000 ton grafiet van ’n hoë suiwerheidsgraad te lewer.

Syfers uit die Namibiese sentrale bank se verslag van September 2021 dui dat minerale 51% van alle Namibiese uitvoere in die tweede jaarkwartaal uitgemaak het. Die mees merkwaardige uitvoere was ongeslypte diamante ter waarde N$1,7 miljard en uraan van N$2,4 miljard.

Ander mineraaluitvoere wat die Bank of Namibia (BoN) vermeld, was lood ter waarde van N$116 miljoen en sinkuitvoere van N$260 miljoen. Verwerkte diamante het goed bygedra tot die land se inkomste, terwyl die uitvoere van goud, sout, mangaan, dimensionele klippe en marmerstene ook in die verslag genoem word.

Die mynbousektor is afhanklik van wêreldmarkpryse, wat nie altyd voorspelbaar is nie.

Die markprys vir uraan dreig gereeld om op te skiet, maar het vanjaar nog net US$45,5 per pond bereik, ten spyte van onrus in Kazakstan waar die grootste uraanmyn ter wêreld, Kazatomprom, geleë is. Kenners sê US$60 is die mikpunt waar myne in sorg en instandhouding weer in produksie gebring sal word.

Intussen baat die meerderheid Namibiese uraanmyne uit hul verbintenis met China deur ’n gevestigde mark vir hul produksie.

Die diamantpryse versterk sedert 2020 oor die algemeen, en vir Namibië is die afwagting op die regering se vennootskap met De Beers (Debmarine Namibia) se splinternuwe N$7 miljard diamantskip voor einde Maart ’n groot verwikkeling. Die spesiaal geboude mynbouskip sal na verwagting diamantproduksie uit die see met 35% verhoog, terwyl Debmarine reeds die meeste tot die land se diamantinkomste bydra.

In November laas jaar het B2Gold ’n rekord kwartaallikse goudproduksie by Otjikoto-myn van 68 959 onse behaal. Sy onlangse verkoop van die Ondundu-projek bring ’n totale koopprys van US$15 200 000, in ’n kombinasie van kontant, uitgestelde kontant en aandele in, volgens Osino se vrystelling.

Nog ’n goudmyner, QKR, het laas jaar ontvangs geneem van sy nuwe Swiss Tower Mills vertikale kragmeul VPM10. Volgens im-mining.com sal hierdie 1 600 kW stelsel voor die einde van 2022 by die uitgebreide Navachab-aanleg in volle werking wees.

Verder vorder en ontwikkel die smeltbedrywighede ook plaaslik, met Dundee Precious se Tsumeb-smelter wat gedurende die vierde kwartaal van 2021 ongeveer 52 000 ton komplekse koperkonsentraat verwerk het, ondanks ’n stilstand van agt dae om ’n waterlekkasie in die afgasstelsel te herstel. Gevolglik het die smelter vir die 2021-kalenderjaar ongeveer 189 700 ton komplekse konsentraat verwerk – effens laer as die hersiene riglyn van 195 000 tot 200 000 ton, lees die maatskappy se nuusvrystelling op 10 Januarie.

Vedanta Zinc International se Skorpion-sinkmyn en smelter word nog uitgebrei en opgradeer, terwyl die ander myn op Rosh Pinah, Trevali se Rosh Pinah Zinc, die nuutste tegnologie inspan om sy ondergrondse myn te vergroot.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-02-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer