Mynbou sku vir pandemie
Mynbou sku vir pandemie

Mynbou sku vir pandemie

Produksie met bestaande ertsvoorraad gaan voort terwyl oopgroef- en ondergrondse bedrywighede stilstaan.
Augetto Graig
Augetto Graig - Mynbou in Namibië duur voort ten spyte van die afskaal van bedrywighede weens die uitbreking van Covid-19 in die land.

“Op die oomblik kan produksie soos normaal voortgaan aangesien erts uit bestaande voorraad verwerk word, maar volgens die inperkingsmaatreëls is produksie uit die oopgroef- en ondergrondse gebiede beperk,” sê die Namibiese Kamer van Mynwese se uitvoerende hoof, mnr. Veston Malango.

Die AfriTin-tinmyn op Uis is ’n voorbeeld hiervan, waar mynbedrywighede in die oopgroefmyn tot stilstand gekom het.

Die verwerkingsaanleg word steeds aangevul uit voorraad wat voorheen opgebou is.

AfriTin meen hulle sal hul uitvoere in die middel van April steeds betyds kan lewer.

"Dit is ongekende tye vir die mynbousektor sowel as vir die wêreld as geheel,” sê mnr. Anthony Viljoen, uitvoerende hoof van AfriTin Mining Limited.

“Ons sal minimale mynbou- en verwerkingsbedrywighede hê. Ek troos my daaraan dat die myn geïsoleer is, met baie min mense wat deur die gebied beweeg.

Maar ons vat geen kanse nie. Ons maak voorsiening vir streng higiëne, handhaaf sosiale afstand en ons monitor ons werknemers vir enige simptome van die virus,” sê hy.

Malango erken Skorpion Zinc het wel 1 500 werknemers uit diens gestel en die Namib Lead and Zinc-myn se afskaal van produksie beïnvloed nog 130 mynwerkers. Hierdie twee myne word tydelik in ’n staat van sorg en instandhouding geplaas, sê hy.

“Gedurende die inperking is myne in Namibië nie toegemaak of opdrag gegee om bedrywigheide te staak nie. Hulle is deur die ministerie van myne en energie tot minimale bedrywighede voorgeskryf of net aktiwiteite wat volgehou moet word om mynbedrywighede vinnig te hervat nadat die inperking opgehef is,” sê hy.

“Elke myn het sy eie gestruktureerde plan geïmplementeer om mynbou-aktiwiteite af te skaal en die aantal personeellede per skof te verminder,” sê hy.

Volgens Malango moes bedrywighede by Skorpion Zinc in elk geval stop om die gevaar van die verswakking van oopgroefhellings te ondersoek.

“Die besluit om die Skorpion-myn vanaf April 2020 in ’n staat van sorg en instandhouding te plaas, is as gevolg van die onstabiele en onveilige struktuur van die mynput en val toevallig met die inperking saam,” sê hy.

“Hierdie verswakking van oopgroefhellings is ’n ernstige risiko vir die veiligheid van werknemers, met die potensiaal om ’n groot aantal sterftes te veroorsaak as bedrywighede onder die omstandighede sou voortgaan,” sê hy.

Malango sê North River Resources het 129 permanente werknemers van Namib Lead and Zinc-myn uit diens gestel as gevolg van die negatiewe bedryfsomgewing wat deur die Covid-19-pandemie veroorsaak is.

Laer pryse vir lood in kombinasie met die inperkingsmaatreëls maak bedrywighede onekonomies weens die kleinskaalse bedrywighede en die kort lewensduur van die myn, sê hy.

Verdere werksverliese word deur die nywerheid verwag soos kontrakteurs en diensverskaffers deur verminderde bedrywighede geraak word, sê hy.

Of mynbou in Namibië die Covid-19-pandemie gaan oorleef, sê Malango, hang van inperkingstydperk af.

In die tussentyd ondersteun die nywerheid die regering se pogings om die virus te bekamp.

Dundee Precious Metals Tsumeb het N$5 miljoen aan die Tsumeb-distrikshospitaal geskenk.

Debmarine Namibia het 20 ventilators ter waarde van N$9,9 miljoen aan die regering geskenk, die De Beers-groep het N$15 miljoen geskenk en Rössing N$200 000.

QKR se Navachab-goudmyn het Maandag (13 April) watertenks vir die nedersetting op die dorp, kos vir die kwesbares en beskermende klere vir die polisiestasie op Karibib geskenk.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!