Mynbouministerie vorder N$330 miljoen minder in
Mynbouministerie vorder N$330 miljoen minder in

Mynbouministerie vorder N$330 miljoen minder in

Die ouditeur-generaal het versoek dat beter beheer uitgeoefen moet word om onderbesteding te vermy.
Augetto Graig
Augetto Graig – Die ouditeur-generaal, mnr. Junias Kandjeke, het onlangs sy verslag oor die ministerie van myne en energie se boeke vir die finansiële jaar tot 31 Maart 2020 voor die parlement ter tafel gelê. Hy het groot lof gehad vir veral die inligting wat verskaf is rakende die prestasie van beamptes.

Die ministerie het meer as N$19 miljoen minder bestee as waarvoor begroot is, en Kandjeke beveel beter beheer gedurende die opstel van die begroting aan om dié kwessie in die toekoms reg te stel.

Hy stel ook voor dat die ministerie 'n ouditkomitee op die been bring om onafhanklike boekhouraad en -oorsig te bied.

In terme van inkomste het die ministerie amper N$330 miljoen minder ingevorder as waarvoor begroot is.

Die grootste tekort is weens diamant-tantieme wat sowat N$561 miljoen minder as verwag was.

Hierdie tekort is weens 'n afname in die hoeveelheid karaat wat vervaardig is, volgens die verslag.

Daarteenoor is N$970 000 meer ingevorder deur aansoekgelde vir eksklusiewe eksplorasielisensies en mynbouregte weens 'n toename in aanvraag.

Mineraaltantieme – anders as die vir diamante – was amper nog N$231 miljoen meer as wat verwag is weens verbeterde markpryse vir onedel metale en seldsame metale. Nuwe mynbou-onderneming het ook tantieme gedurende die betrokke boekjaar begin betaal.

Die besteding op die ministerie se geologiese opname was meer as N$2 miljoen minder as beplan, onder meer weens 'n vertraging in die projek om geotegniese data te ontwikkel

weens die intrede van 'n beoordelingspaneel.

Alhoewel die projek geadverteer kon word, was daar nie genoeg tyd in die boekjaar om die tender toe te ken nie, luidens die verslag.

Altesaam 14% van die begroting vir geochemiese steekproefnemingsopnames in die verskillende streke kon nie aangewend word nie, aangesien die weermag se helikopterdienste, soos volgens beplanning, nie beskikbaar was nie.

Ten opsig van kapitaalprojekte kon die ministerie niks aan die konstruksie van streekkantore op Swakopmund bestee nie, ten spyte van 'n begroting van N$700 000 vir die boekjaar.

Altesaam N$2,2 miljoen van die begrote N$4,1 miljoen vir die uitbreiding en opknapping van geboue is bestee.

Die ministerie kon wel N$8,9 miljoen van net meer as die begrote N$9 miljoen op rekenaartegnologie bestee, en het die oorgrote meerderheid van die begroting van N$27,48 miljoen op landelike kragvoorsiening uitgegee.

Die ministerie se projek om klein­skaalse mynbou op Khorixas te ondersteun, is deur die kontrakteur gekniehalter wat met die bouproses sloer.

Ná die opskorting van die kontrak moes konsultante genader word om onder leiding van die Verkrygingswet van 2015 weer die bouproses voort te sit.

Hierdie vertraging dra ook by tot ongebruikte fondse waarvoor begroot is vir die betaling van nutsdienste, brei die ouditverslag uit.

Ander groot projekte waaraan die ministerie werk, sluit in die nasionale lugfoto-geofisiese opname, die databasis vir berging van geologiese monsters, streekgeologiese­ ­kartering, die plaaslike geochemiese steekproefnemingsopname, geïntegreerde geofisiese interpretasie in die streke, ingenieurs- en omgewingsgeologiese assessering, die opgradering van geolaboratoriums en opleiding van ­personeel, en die Namibië Energie-instituut (NEI) wat N$3 miljoen ontvang het.

[email protected]

FOTO
Die ministerie van myne en energie het net minder as N$2,1 miljoen op streeksgeologiese kartering in die boekjaar tot 31 Maart 2020 bestee. Foto mme.gov.na

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!