Myne gaan sowat 1 500 werkers aflu00ea
Myne gaan sowat 1 500 werkers aflu00ea

Myne gaan sowat 1 500 werkers aflê

Kommoditeitspryse bring mynwerkers in Namibië se werksekerheid in die gedrang.
Augetto Graig
Augetto Graig - Die Mynwerkersunie van Namibië (MUN) se sekretaris-generaal, mnr. Ebben Zarondo, het gister by die vakbond se hoofkantoor in Windhoek gesê hulle is teleurgesteld oor die werksverliese waaronder die mynboubedryf tans gebuk gaan.

“Nagenoeg 1 500 mense in diens van myne gaan binnekort hul werk weens afleggings verloor. Maatskappye soos die Langer Heinrich-myn, Namibia Tantalite Investment, Nec Stahl, Protea Mining Chemicals, Ubisen Services en Nu Diamond gaan afleggings doen,” het hy gesê.

Die 600 werkers wat by die Langer Heinrich-uraanmyn afgelê gaan word, het vandeesweek weer eens betoog en ’n klagskrif aan mnr. Cleophas Mutjavikuae, goewerneur van die Erongostreek, oorhandig, berig Adolf Kaure.

Dié werkers word afgelê as deel van die myn se sorg- en instandhoudingsaksie. Dit beteken werksaamhede by die myn word tydelik gestaak tot kommoditeitspryse verbeter.

Mnr. John Kwedhi, sekretaris-generaal van die Namibiese Vakbond vir Vervoer- en Verwante Werkers (Natau), het gesê die media het onlangs berig oor planne om die Tschudi- en Otjihase-myne ook te sluit, wat werksverliese sal verdubbel.

Zarondo het gister by die vakbond se hoofkantoor in die hoofstad ’n beroep op die regering gedoen om landswette op beleggers en maatskappy-eienaars af te dwing sodat aan Namibië se arbeidswette voldoen moet word - veral wat die regte van werkers en werksekerheid betref.

“Die ministerie van myne en energie moet streng maatreëls by die toekenning van mynboulisensies in werking stel om afleggings te vermy en werksekerheid te voorsien,” het hy gesê.

Die vakbond versoek ook dat die regering maatskappye wat hul werksaamhede staak se mynbouregte opskort en aan diegene toeken wat met werksaamhede kan voortgaan om sodoende werksverliese te vermy.

“Dit is duidelik dat maatskappye wat onder sorg en instandhouding geplaas is, dit as kostebesparingstaktiek gebruik. Sodra kommoditeitspryse verbeter, stel hulle werkers weer aan en betaal weer eens onvoldoende lone, wat die lewens van Namibiese werkers raak. Dit veroorsaak ook dat hongersnood, armoede en haglike werksomstandighede in Namibië voortgesit word,” het hy gesê.

“’n Maatskappy kan nie net ‘n mynboulisensie kry en slegs vir twee of drie jaar werksaam wees nie. Ons het langtermynbeleggers nodig omdat dié toestande mense se werksekerheid raak,” het hy gesê.

“Ons veroordeel die gedurige afleggings in die mynboubedryf ten sterkste,” het hy gesê.

Zarondo sê mynboubeleggers in Namibië stel nie belang in goeie werksomstandighede of die verbetering van Namibiese mynwerkers se lewens nie. Inteendeel, hulle misbruik die werkers, terwyl hulle die land se hulpbronne tot hul eie voordeel ontgin, sê hy.

“Ons maak op die regering vir beskerming in moeilike tye soos dié staat,” het hy gesê.

Tog wil dit voorkom of die regering buitelandse mynbouers beskerm deur die goedkeuring van onder meer sowat 7 706 werkspermitte vir die 2017-’18 boekjaar.

“Ons wil weet hoekom die regering nie ons opleidingstelsel waardeer nie. Ons het plaaslike professionele lui wat steeds werkloos is en ook afgelê word. Van die werkspermitte word deur vakbonde soos die MUN bevraagteken, maar word steeds deur regeringsbeamptes goedgekeur,” het hy gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!