Myne: Regering wil skep
Myne: Regering wil skep

Myne: Regering wil skep

Volgens die minister van myne en energie se voorstelle wil die regering gratis aandele in mynmaatskappy bekom en die minister wil besluit watter mine­raalregte opgeveil kan word.
Augetto Graig
Augetto Graig – Die minister van myne en energie, mnr. Tom Alweendo, het gister gesê hy wil die Wet op die Myn en Prospektering van Minerale, no. 33 van 1992, wysig vir die staat om gratis aandele in mynmaatskappye te bekom.

Die wysiging sal ook voorsiening maak vir die betrokke minister om te kan besluit watter
mineraallisensies opgeveil kan word.

Volgens die minister duur die proses om wetgewing te wysig voort en baie van die ­besonderhede moet nog gefinaliseer word, maar dat dit beoog om 'n komitee op die been te bring om raad aan hom te verskaf, veral met die opveiling van lisensies.

Op die vraag oor hoeveel aandele die staat sal oormerk in mynboumaatskappye, het Alweendo gesê: “Daardie gesprek is nog nie gefinaliseer nie.”

“Ons wil die wet verander om te verseker Namibiërs neem deel,” het hy gesê.

Op vrae van die koerant het hy uitgebrei dat Namibië, “as 'n nasie 'n stelsel moet ontwikkel vir 'n ­kapitaalmark waar fondse ­ingesamel kan word”.

“Ek stem saam 'n manier om ­kapitaal in te samel, is nodig. Meeste buitelanders samel geld op die kapitaalmark in. So lank as ons nie kan deelneem in eksplorasie nie, sal dit moeilik wees om in mynbou deel te neem,” het hy oor Namibiese eienaarskap in die mynbousektor gesê.

Alweendo het hierdie ­inligting verskaf tydens 'n geleentheid by die ­ministerie se hoofkantoor oor die einde van 'n agt maande lange mora­torium op aansoeke vir eksplorasie­lisensies wat môre aanbreek.

Die minister het ook 'n prysver­hoging in dié opsig aangekondig, na 'n aanpassing waar inflasie sedert die vorige prysaanpassing in 1990 in ag geneem is.

'n Aansoek vir 'n uitsluitlike prospekteerlisensies kos nou van N$10 000 vir grondgebied kleiner as 20 000 ha tot N$50 000 om aansoek te doen vir 'n gebied van ongeveer 100 000 ha. Om die lisensie en mynregte te registreer, kos nou N$10 000 vir 'n uitsluitlike prospekteerlisensie op 'n gebied kleiner as 20 000 ha, en N$50 000 vir 'n gebied van ongeveer 100 000 ha.

'n Aansoek vir 'n mynboulisensie vir 'n onderneming met 'n bruto inkomste van minder as N$10 miljoen is N$5 000, en vir 'n mynboulisensie vir maatskappye met meer as N$10 miljoen se bruto inkomste, is dit N$25 000. Om vir 'n lisensie vir die behouding van mineraalafsettings aansoek te doen, is N$25 000, en nog N$25 000 om dit te laat registreer as dit goed­gekeur is. Vervoerpermitte kos nou N$250 elk en uitvoerpermitte N$500 elk.

Die moratorium was nodig om 'n agterstand en vertraging rakende ­finalisering van aansoeke reg te stel.

“Daar is 'n nuwe manier van dinge doen,” sê die minister, en nog wysigings in terme van aanlyn ­aansoeke en rekenaargebaseerde prosesse met minder menslike ingryping word oorweeg.

Aansoeke sal van nou af binne drie maande afgehandel word, met groter klem op die beskikbaarheid van alle ­betrokke inligting en ­geskeduleerde terugvoering om voor die tyd aansoeke, wat nie aan wetlike ­vereistes voldoen nie, af te keur.

Die ministerie het tans 939 myn­regte toegeken en geregistreer, insluitend die wat hernu moet word. Daar is 1 005 uitsluitlike prospektering wat aktief is, en 155 aktiewe mynboulisensies, met vyf lisensies wat toegeken is om mineraalafsettings te behou.

Op 1 Desember 2020, toe die moratorium afgekondig is, het die ­ministerie meer as 500 aansoeke nog nie ­geprosesseer nie. Tans is ongeveer 100 aansoeke steeds uitstaande.

[email protected]


FOTO
Die minister van myne en energie, mnr. Tom Alweendo, het gesê hy wil die Wet op die Myn en Prospektering van Minerale van 1992 wysig. Foto Augetto Graig

Kommentaar

Republikein 2025-04-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer