Myne steun welvaartsfonds
Augetto Graig
Die kwessie van 'n soewereine welvaartsfonds vir Namibië is Woensdag by die Namibiese Kamer van Mynwese se jaarlikse konferensie geopper en is ten volle deur die sektor gesteun.
Mnr. Steve Galloway, 'n mynboukenner, het die inisiatief sterk gedryf gedurende sy voorlegging oor korporatiewe bestuur in die mynbousektor.
Hy sê die stigting van so 'n fonds moes jare gelede al plaasgevind het en dat die mynbousektor veral daartoe moet bydra omdat die ontginning van natuurlike hulpbronne nie volhoubaar is nie.
“Die hulpbronne behoort nie aan ons nie, maar aan ons kleinkinders se kinders,” sê hy, en dis hoekom Namibië hulpbronwins moet deponeer vir die toekoms.
Ná Galloway se toespraak het mnr. Zebra Kasete, voorsitter van die konferensiesessie en tweede visepresident van die kamer van mynwese, die kans gebruik om die sektor se steun vir dié voorstel uit te spreek.
“Die kamer staan bankvas agter hierdie inisiatief. Ons smeek die regering al lankal vir 'n soewereine welvaartsfonds,” het hy gesê.
SENTRALE ROLSPELER
Galloway het die voorstel gemaak in die konteks van die groter verantwoordelikheid wat hy voel mynbou moet neem vir die algemene welvaart van die bevolking.
Hy sê die nuwe Value Reporting Foundation, onder leiding van mnre. Mervyn King en Michael Bloomberg, bevorder die internasionale aanneming van goeie maatskaplike en omgewingsbestuur, bekend as ESG.
Hierdie benadering tot korporatiewe bestuur beskou menslike, maatskaplike, intellektuele en vervaardigde kapitaalbestuur as kernfaktore vir volhoubare ondernemings.
Dit vereis ook dat die mybousektor in Namibië die regering moet help om ambisieuse teikens vir hervorming teen 2030 te haal.
Waar die regering tekort skiet, moet die privaat sektor ingryp, volgens hom.
“Plaaslike mynboumaatskappye kan byvoorbeeld die inisiatief neem en sowat 260 verlate ou myne oraloor die land rehabiliteer,” sê hy.
Volgens Galloway moet die mynbousektor die leiding neem in die oorgang om ESG-beginsels te implementeer, en het die plaaslike bedryf reeds getoon dit is moontlik.
“B2Gold is die mees volhoubare mynboumaatskappy ter wêreld,” sê hy, en dat Namibiese mynmaatskappye oor die potensiaal beskik om die beste ter wêreld te wees.
“Mynbou en inligting en kommunikasietegnologie moet die dryfveer agter die vierde nywerheidsrevolusie wees,” sê hy. “Mynbou het reeds 'n groot bydrae gelewer.”
Galloway sê ander sektore van die ekonomie moet die mynbousektor se voorbeeld volg, en dat veral staatsondernemings nog nie die nuutste King4- of Namcode-regulasies volledig toepas of aangeneem het nie. Selfs die ministerie van myne en energie se bestuur is soms onvoldoende.
Die minister van myne en energie, mnr. Tom Alweendo, was teenwoordig by die geleentheid, en het erken: “Daar was verval in bestuur en ook klagtes oor deursigtigheid.”
Die moratorium op nuwe eksplorasie-aansoeke van nege maande wat pas verstryk het, het die ministerie 'n kans gegee om hul stelsel te hersien en te verbeter.
Moontlikhede vir groter outomatisering van aansoekprosesse word ook ondersoek, sê hy.
Die bestuur van staatsondernemings moet mettertyd aanpas by die wet op staatsondernemingsbestuur van 2019 en dus verbeter, sê hy.
“Dié is 'n belangrike kwessie,” sê hy. “As bewaarders (van Namibië se hulpbronne) moet ons ons sokkies optrek.”
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie