Mynskag word dalk lokaas vir toeriste

Die Tsumeb-dorpsraad sal binnekort die moontlike ontwikkeling van die De Wet-mynskag op die dorp bespreek.
Augetto Graig
Augetto Graig - Die ikoniese De Wet-skag, hysbakkamer en ystertoring wat jare lank ‘n baken op Tsumeb is, gaan dalk in ‘n toeriste-trekpleister omskep word.

Dit is verlede week deur Weatherly Mining Namibia se kommunikasiebeampte, me. Juanita Potgieter, bevestig. Die mynboumaatskappy is gereed om die eienaarskap van die perseel aan die Tsumeb-dorpsraad oor te dra. “Die kontrakte is klaar onderteken; hulle moet dit nog net laat registreer,” het sy gesê.

Die waarnemende hoofbeampte van die Tsumeb-munisipaliteit, me. Caroline Damaseb, sê egter die saak is nie so eenvoudig nie. “Die proses gaan voort, maar dit is nog nie afgehandel nie.” Sy wou nie uitwei oor die oponthoud in die oordrag van die eiendom nie, maar het wel gesê dit hang nie net van die dorpsraad af nie. “Die verkoper is die een wat die oordrag moet doen.” Volgens haar moet “sekere kwessies” eers opgeklaar word, hoofsaaklik “onderhandelinge oor ander grond wat Weatherly op die dorp besit”.

Damaseb kon ook nie spesifieke planne vir die ontwikkeling van die beplande toerismesentrum deel nie, maar sê dit is een opsie wat die dorpsraad sal ondersoek. “Die item is op die agenda vir die dorpsraad se maandelikse vergadering op 31 Julie,” het sy gesê.

Planne om die toring en omliggende geboue vir toerisme te gebruik, kom al lank en amptelike aansoeke is reeds vanaf 2016 gedoen.

Die mynskag sit tussen verskeie histories geboue waarvan sommige van die 1920’s dateer.

Een van die geboue word verhuur aan ‘n nagklub, en talle inwoners meen dit is onaanvaarbaar.

Verskeie ander ondernemings huur ook eenhede op die perseel, waarvan een ‘n nieregeringsorganisasie is wat fietsry vir fiksheid op die dorp aanmoedig.

Mynbou was sedert die ontstaan van die Koperdorp, soos Tsumeb alom bekend staan, die hartklop daarvan. Vir Weatherly het die liefdesverhaal met sy Tschudi- kopermyn 13 km buite die dorp in Junie 2018 tot ‘n einde gekom, nadat ‘n roetine-ontploffing onverwags ‘n vloed grondwater veroorsaak en kerngebiede van die oopgroefmyn onder water gelaat het. Weatherly International is in September 2018 van die Londense aandelebeurs gedenoteer terwyl die maatskappy onder die administrasie van FTI Consulting geplaas is. Filiaalmaatskappye soos Weatherly Namibia Mining is nog in bedryf, volgens FTI.

Die De Wet-skag is sedert 1996 ook ‘n slagoffer van grondwatervloede. Bekend as die ‘Ou Dame van Kopermynbou in Namibië’, word die mynstruktuur gereeld deur entoesiastiese fotograwe afgeneem.

Bouwerk aan die skag is in 1949 begin en dit is tot 'n diepte van 1 006 meter gesink, met 'n pompstasie 30 meter onder die oppervlak. Dit het in laat 1953 in produksie gekom, en het aanvanklik afvalrots gehys, maar later is erts uitgehaal.

Teen 1957 was die voorbereiding van die De Wet-skagblok voltooi, en erts op vlak 26, 28 en 30 is gebreek. Dié dieper erts was geoksideer en het gepaard gegaan met talle waterdraende splete. Dit het tot verdere druk op die myn se reeds enorme pompbehoeftes gelei, en die gebruik van sementasie vir die ontwikkeling van hierdie dieper vlakke genoodsaak, volgens tsumeb.com.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!