Nu00e1 22 jaar trap tiran
Nu00e1 22 jaar trap tiran

Ná 22 jaar trap tiran

Gambië se pres. Yahya Jammeh is in die verkiesing verlede week deur Adama Barrow, ''n oudveilig­heidswag en nou sakeman, verslaan.
Ronelle Rademeyer
Erika Gibson - Pres. Yahya Jammeh van Gambië se profesie dat hy vir ''n miljard jaar sou regeer as Allah dit só wou hê, is verlede week eensklaps ongedaan gemaak toe hy deur ''n onbekende opposisiekandidaat in die land se presidentsverkiesing verslaan is.

Adama Barrow, ''n oudveiligheidswag en nou sakeman, het met ''n koalisie van sewe opposisiepartye meer as 45% van die stemme op hom verenig en só verhoed dat Jammeh vir ''n vyfde termyn herkies word.

Jammeh het 22 jaar gelede in ''n staatsgreep aan die bewind gekom. Sy oorgawe van mag ná ''n vreedsame verkiesing word as ''n deurbraak vir die land gesien.

Jammeh het die afgelope week die internet en internasionale oproepe laat blokkeer.

Geen buitelandse verkiesingswaarnemers is toegelaat nie.

By stemlokale het kiesers geduldig in die stof tou gestaan – nie om ''n kruisie te trek nie, maar om ''n albaster op die kleurbord van hul kandidaat te plaas.

Daarna was hulle op die plaaslike radio­stasies aangewese om die uitslae te hoor.

Die ysere hand waarmee Jammeh, ''n toegewyde Moslem, die land regeer het, was sigbaar in die teenwoordigheid van gewapende soldate oral.

Met die nuus dat Barrow gewen het, het die vreugdevure hoog gebrand. Die soldate het verward rondgestaan sonder ''n idee of hulle teen die vrolikes moes optree.

Die nasie se asem is opgehou om te sien wat Jammeh se reaksie gaan wees, maar teen gisteroggend het hy Barrow as die oorwinnaar gelukgewens en gesê hy aanvaar die uitslag.

Sedert hy as ''n 29-jarige soldaat die bewind oorgeneem het, het Jammeh jare lank geen betogings of open­bare verset geduld nie.

Hy het homoseksualiteit verbied. Terselfdertyd het hy beweer hy kan vigs en onvrugbaarheid genees. Hy het kritiese koerante gesluit.

“Ek glo nie daarin om mense dood te maak nie. Ek glo daarin om iemand eerder vir die res van sy lewe te laat opsluit,” het hy ­gesê.

Hy het ook onomwonde verklaar dat hy gebiede wat vir hom gestem het, sou ontwikkel maar dat diegene wat teen hom gestem het, niks moes verwag nie.

Barrow is in 1965 in Basse, ''n piepklein dorpie, gebore.

Hy het in 2000 as veiligheidswag by ''n supermark in Londen gewerk terwyl hy studeer het om eiendomsmakelaar te word.

Hy het nog nooit enige pos in die staatsdiens of regering beklee nie, maar belowe dat hy gaan help om nuwe lewe in die land se ekonomie te blaas en werk te skep.

Die Gambiërs se albasters het gepráát.

-Netwerk24/BBC/Al Jazeera

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!