N/au2019an ku su00ea: 217 dierelewens in weegskaal
N/au2019an ku su00ea: 217 dierelewens in weegskaal

N/a’an ku sê: 217 dierelewens in weegskaal

Die ministerie van die omgewing en toerisme het beveel dat die dierewelsynsorganisasie se diere óf vrygelaat óf uitgesit moet word.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg







N/a’an ku sê het Dinsdag ’n hofbevel in die hoërhof teen onder meer die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme by die hoërhof ingedien om te keer dat 217 van hul diere vrygelaat of uitgesit word.

Die diere sluit in 80 bobbejane, ses blouape, 17 meerkatte, vyf leeus, tien rooikatte, vyf luiperds, 70 skilpaaie en 24 wildehonde.

Volgens die hofbevel het mnre. Penda Shimali, Johnson Ndokosho en/of Jeremia Amutenya van die omgewingsministerie in Augustus vir N/a'an ku sê ingelig dat alle “vrylaatbare” diere vrygelaat moet word en dié wat nie vrygelaat kan word nie, moet uitgesit word.

“Die besluit kom neer op die moord van hierdie diere en moet ter syde gestel word soos vervat in artikel 18 van die Namibiese grondwet,” lui die hofbevel.

Volgens die hofbevel kan geen van hierdie 217 diere weer in die natuur vrygelaat word nie.

“Dié straf druis teen die diereregte in, is onredelik, onwettig en ongrondwetlik.”

N/a’an ku sê is volgens die hofbevel ook ingelig dat alle diere daar onwettig is en geen vervoerpermitte is uitgereik om die diere na N/a’an ku sê se rehabilitasiegeriewe te vervoer nie – dié diere ingesluit wat deur lede van die publiek daarheen vervoer is.

Die hofbevel is teen die minister van die omgewing, bosbou en toerisme as eerste verweerder uitgereik, asook die minister van justisie, die prokureur-generaal, die aanklaer-generaal, die omgewingskommissaris, asook die hoof van die direktoraat van wildlewe en nasionale parke in die omgewingsministerie.

“Die gewetenlose eise en bevele van die eerste verweerder en beamptes van die ministerie is onwettige optrede en in stryd met diereregte. Hulle tree ook strydig op met die dierebeskermingswet, asook teen die verdrag van die Wêreldorganisasie vir Diereregte waarvan Namibië ’n lidland is,” lui die hofbevel.

“Die diere word nie onwettig aangehou of vervoer nie, want die Natuurbewaringsordonnansie 4 van 1975 beperk of reguleer nie N/a’an ku sê se regte om mak wilde diere en diere in nood te besit, te vervoer of te versorg nie.”

Die N/a’an ku sê Stigting is in 2006 deur dr. Rudie en sy vrou Marlice van Vuuren gestig.

Vir die afgelope 12 jaar was die bewaringsorganisasie betrokke by operasies om mens-dier-konflik te verminder. Van hul projekte sluit in ’n dierewelsynsorganisasie wat fokus op wild- en grondbewaring, dierenavorsing- en gemeenskapsuitreikprojekte.

“Me. Van Vuuren word internasionaal erken as een van Namibië se bekende bewaringspersoonlikhede en het saam met die Jolie-Pitt-stigting bewaringsbeleggings in die land gemaak, soos ’n veilige hawe vir renosters en olifante,” lui die hofbevel.

N/a’an ku sê verskaf werk aan tussen 150 en 230 mense wat wilde diere rehabiliteer of toerisme bevorder.

Volgens die hofbevel beloop N/a’an ku sê se jaarlikse uitgawes vir diere meer as N$2 miljoen wat kos, medisyne, veeartsdienste, onderhoud van dierekampe, sekuriteit en navorsing insluit, asook bomas vir diere om van traumasituasies te herstel.

“Dit is N/a’an ku sê se doel om alle wilde diere in nood te rehabiliteer en in die natuur vry te laat, maar al hierdie diere wat sedert 2008 hierheen gekom het, kan om verskeie redes nie gerehabiliteer of in die natuur vrygelaat word nie,” lui die hofbevel.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer