’n Aangepaste vleisbees vir Suider-Afrika
Die geskiedenis van die Bonsmara is boeiend. Terselfdertyd het navorsing wat tot die skepping van dié ras gelei het, ook ’n grondslag vir die teling van verskeie ander beesrasse gebied.
Elvira Hattingh - Die Bonsmara is die enigste beesras wat ontwikkel is uit ’n weldeurdagte en wetenskaplik nagevorste kruistelingsprogram en boonop oor ’n uniek gedokumenteerde geslagsregister beskik.
Boonop was die spreekwoordelike vader van dié ras, prof. Jan Bonsma, wat spesifiek ’n vleisbees vir Suider-Afrika wou ontwikkel, die eerste in beesgeledere om met die “’n man moet meet-beginsel” vorendag te kom.
Tydens ’n Bonsmara-opleidingsdag wat op Dinsdag 11 April in Windhoek aangebied is, het die Bonsmara-teler en –wetenskaplike me. Hella Coetzee aan studente gesê die Bonsmara het ’n lang geskiedenis in Suider-Afrika wat waarskynlik reeds begin het toe die voorkeurras in dié streek die Afrikanerbees was.
Boonop vier die Namibiese Bonsmara Telersgenootskap vanjaar hul 41ste bestaansjaar.
“Tradisioneel is daar hoofsaaklik met Afrikaners in Suider-Afrika geboer, hoofsaaklik as gevolg van hul gehardheid, bestandheid teen droogte, goeie moedersinstink, weerstand teen parasiete en bosluise en die feit dat hulle maklik was om te onderhou.
“Dit was ’n goeie bees om mee te boer, maar algaande het ’n behoefte ontstaan vir beeste met ’n beter konformasie, beter vleisproduksie, swaarder speen- en karkasgewigte asook sterker groei en bespiering,” het Coetzee gesê.
NUWE VEREISTES VIR BEESTE
Sy sê boere wou dié nuwe vereistes behaal deur Afrikaners met Europese vleisbeeste soos die Korthoring, Hereford, Sussex, Simmentaler en Switsers te kruisteel. Al hierdie beeste beskik oor eienskappe soos genoegsame vleis en goeie bespiering.
“Skielik het boere ongekende probleme met die Europese beeste ervaar en die vermoede was dat dit weens die feit is dat ons weiding drasties verskil van wat in Europa beskikbaar is.
“Tropiese degenerasie het kop uitgesteek en die Europese beeste het al kleiner begin raak, hul vrugbaarheid het afgeneem, hul hare en vel het grof geraak en baie het gevrek as gevolg van siektes wat deur parasiete en bosluise versprei word. Al die kalwers het gevrek.”
Coetzee het gesê daar is aanvanklik vermoed dat ’n voedingstekort tot die probleme gelei het.
“Ons gras het ’n tekort aan proteïen. Dit is veral laat in die jaar ’n probleem – net voor die volgende reënseisoen. Dan moet lekaanvullings gewoonlik gegee moet word,” het sy verduidelik.
VOEDSELTEKORT NIE DIE OORSAAK
“Wetenskaplikes het in 1937 by die Messina-toetsstasie begin met ’n voedingstoets onder ’n groot klomp Europese verse. Hulle het die verse voldoende kos met genoeg proteïen gegee en verwag dat die beeste weer groter sou word, beter groei sal toon en vrugbaar sal wees – soos in Europa.
“Dit het nie gebeur nie. Prof. Jan Bonsma het ontdek dat voedsel nie die probleem is nie, maar eerder die feit dat die diere nie aangepas was om in ons warmer temperature te funksioneer nie.
“Dié wat onverdraagsaam teenoor die hitte was, het nie op die verbeterde kosinname gereageer nie,” het Coetzee gesê.
Sy sê Bonsma het tot die verrassende ontdekking gekom nadat hy ure en ure daagliks agter die beeste aangeloop het, hulle asemhalings getel het, hulle voortdurend geweeg het en gemeet het hoeveel hulle eet.
“Tropiese degenerasie het meer met hitte as voer te doen en die fenomeen kom vandag nog voor. Veral in gevalle waar daar sonder ’n plan of doel links en regs gekruisteel word,” het Coetzee gesê.
“Bonsma het besluit hy wil meer aspekte toets soos beeste se asemhalingspoed en hulle gereeld weeg. Hy het 14 verskillende liggaamsmetings gedoen, wat insluit hul skouerhoogte, liggaamshoogte en -breedte, hul veldikte, liggaamstemperatuur en hul pols.
“Hy het begin om hul hare per cm2 te meet en bosluise te tel. Hy het die vorm van hul koppe aangeteken,” het Coetzee gesê.
ONTWIKKEL ’N VLEISBEES VIR AFRIKA
Dis ook dié werk wat gehelp het dat Bonsma by die Mara-navorsingsentrum aangestel is om aan ’n multiras-projek deel te neem. Hy het verskeie studente gekry wat onder hom gewerk het.
“Die idee met die projek was om ’n unieke ras vir Suider-Afrika te ontwikkel wat onder die gegewe omstandighede kon aanpas, produseer en reproduseer.
“Bonsma het vel en hare as die belangrikste eienskap identifiseer wat vleisbeeste toelaat om onder ekstensiewe omstandighede aan te pas en te produseer.
“Vandag nog is hierdie ’n belangrike maatstaf – die bes aangepaste beeste het ’n blink, gladde vel, wat gesond vertoon. Hulle veloppervlak is groot genoeg, wat hulle help om makliker af te koel,” het Coetzee gesê.
“Temperatuur het ’n groot uitwerking op die fisiologiese werkinge in ’n bees se liggaam. Sodra hulle te warm kry, word dié funksies beïnvloed en werk dit minder doeltreffend. Dit sluit byvoorbeeld die produksie van hormone in.
“Dit kan daartoe lei dat beeste minder vrugbaar is en koeie nie op hitte kom nie. Dieselfde gebeur tydens droogtes. Die beeste het al hul energie nodig vir die basiese funksionering van hul liggame voor hulle kan voortplant.”
AFRIKANER MOET HOOFRAS WEES
Coetzee het gesê by die navorsingstasie is kruisteling met ’n plan aangepak.
“Dit het jare geneem ’n goed beplande, sistematiese kruisteelstelsel uit te werk wat daarop gefokus het om sekere eienskappe in die beesras te kweek.
“So kon Bonsma vasstel dat beeste onder hittestres begin ly het sodra hulle meer as 50% Europese bloed gehad het.
“Dit het hom oortuig - Afrikanerbeeste moes steeds die hoofras in die kruisteelprogram wees, maar die Hereford en Korthoringras is ook spesifiek vanweë sekere eienskappe ingesluit, soos goeie vleisgehalte en melkproduksie, goeie groei en ’n karkas wat laat ryp word,” het Coetzee gesê.
Sy vertel Bonsma het ’n unieke metode van skaal-fotografie ontwikkel om te kyk of die beeste wat hy teel al kleiner of groter raak.
“Die gevolg is dat die Bonsmara die enigste beesras is wat deur weldeurdagte en wetenskaplike kruisteling ontwikkel is. Dit het ’n unieke, gedokumenteerde geslagsregister. Kruisings is op wetenskaplike data baseer.
“Hy het ook geteel vir die wigvorm, waarvolgens bulle swaarder in die bors moet wees en koeie swaarder in die heupe.
“Hierdie is die oorsprong van die idee dat beesboere alles moet meet en rekordhouding moet toepas. Bonsma het dikwels gesê ‘’n man moet meet’, want alleen deur te meet, weet jy wat jy doen. Anders weet jy nie hoe goed jy vaar en of jy vooruit boer nie,” het Coetzee gesê.
Sy sê Bonsma het kruistelings met Afrikanerkoeie en Hereford- en Korthoring-bulle gedoen. Die regte diere is met die hand uitgekies en moes gedurig oor-en-weer gekruisteel word sodat die regte genetiese eienskappe oorgedra kon word.
Die eindresultaat was ’n Bonsmara, wat 5/8 Afrikanerbloed, en 3/8 Hereford- en Korthoringbloed het.
“Die stamvader van die Bonsmara was ’n bul genaamd Edelheer – die eerste Bonsmara-bul in die geskiedenis. Alle Bonsmara-familielyne kom altyd terug na hom,” het Coetzee gesê.
’n Naam moes vir die nuwe ras gekies word en daarvoor is ’n samestelling van Bonsma se van en die Mara-navorsingsentrum gemaak om by Bonsmara uit te kom.
RAMP AFGEWEER
Die Mara-navorsingsentrum het oor honderde Bonsmaras beskik, maar toe vergeet die ministerie van landbou om weer om finansiering vir dié beesprojek aansoek te doen en Bonsma onttrek hom aan die projek.
Hy het by ’n universiteit gaan klasgee.
“Die hele projek en jarelange navorsing was op die spel weens ’n administratiewe nalatigheid. Alles kon nie net laat gaan word nie.
“Die Bonsmaras is na kommersiële plase verskuif, waar boere aangehou het met rekordhouding en die projek verder aan die lewe gehou het. Soveel so dat die Bonsmara Telersgenootskap in 1964 gestig is sodat die rekords van die beeste versamel kon word. In 1976 is die Bonsmara Beestelersvereniging begin,” het Coetzee gesê.
MODERNE TYE
Coetzee sê sekere eienskappe van Bonsmaras is vandag al meer verfyn.
“Ons het ook nou ’n groter-, medium- en kleinerraam bees vir verskillende omgewingstoestande. Dit is egter steeds ’n goedaangepaste bees vir vleisproduksie in Suider-Afrika.
“Ons selekteer steeds vir die beste Bonsmaras.
“’n Goeie Bonsmara is die respiratoriese tipe – wat beteken die dier se veloppervlak is groot in verhouding met sy gewig. Dit help om aanpasbaar in die hitte te wees.
“Bonsmaras is ook baie vrugbaar, kalf maklik, handhaaf lae geboortegewigte, het goeie weerstand teen parasiete en bosluise, goeie uiers, genoeg melk, ’n goeie voeromset en ’n goeie konstitusie. Hulle het ook ’n goeie konformasie, wat beteken hulle toon sterk manlikheid of vroulikheid en hulle het gladde, gesonde velle,” het Coetzee gesê.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie