’n Ander soort Kersverhaal
’n Kersfeeskomeet. Wil jy nou meer!
Elke Desember, kort voor die feestyd, kom strooi komeet 3200 Pheathon ons naghemel vol sterre.
Geminides word dan ook as die room van meteoorreëns beskou waartydens tot 120 verskietende sterre per uur getel kan word.
Verskietende wense in die land met maklik die mooiste naghemel ter wêreld (sê ek!). Jy kan nie vir meer vra nie.
Dié sterrereën skop reeds oor ’n week en ’n half af en bereik vanjaar weer sy hoogtepunt op die aand van 14 Desember – tien dae voor Kersfees. Die maan sal vanjaar egter ’n bietjie te helder wees, wat beteken ons gaan nie al die splintersterre so mooi kan sien nie. Dalk ’n goeie tyd om dan ook die maan te bewonder!
Ek dink dié is reeds ’n pragtige Kersverhaal.
Maar daar is meer . . .
Sien, die mensdom se bewondering van sterre en hemelligame is oeroud. Die Rome en Grieke het geglo komete, verskietende sterre of sterrereëns is ’n teken van iets groots wat gaan gebeur of gebeur het.
Die sterre práát al eeue lank met ons.
Een voorbeeld is die verskyning van die Betlehem-ster in die oeroue Kersverhaal wat die skaapwagters en wyse manne tot by Jesus se geboorteplek gelei het. (Wie weet, dalk moet Kersfees se Geminides-sterrereën die mensdom weer na ’n oeroue waarheid lei?)
Die verskyning van sterre is in die geskiedenis ook soms aan meer sinistere gebeure gekoppel. Dit sluit in die moord op Julius Ceasar, terwyl die Egiptiese koningin Cleopatra ook glo haar eie “komeetsterre” gekry het ná haar dood.
Dis ook nie net mense wat hulle deur die sterre laat lei nie. Navorsers meen selfs miskruiers gebruik die sterrehemel, oftewel die melkweg, om hul weg te vind.
Heng, ons kan daarby baat om weer ons ware noord te vind! Want tussen vrot visse in ons leierstoele en die geduldige gewag vir ’n reëndruppel om in sewe jaar se stof te plof, was dit ’n uitdagende jaar.
Kyk net op.
Jy het nodig om jou te verwonder aan net één wonderskone, maanlose sterrehemel op die mees afgeleë plekke in ons land. Want die sterre práát ja . . . As ons maar net sou luister.
Ek het die voorreg gehad om groot te word op ’n plaas, waar ons elke nag die sterrehemel kon sien. Eendag het ’n maatjie uit Windhoek kom kuier. Ons was tien jaar oud. Hy het sy stoel weggedraai van ons kampvuur en die hele aand na die sterre sit en staar. Hy sê hy het nie geweet daar is so baie sterre nie en hy het ook nie geweet dis so mooi nie.
Die hemelligame praat oor die onbegryplike wonders van die hemelruim en hoe nietig ons is; oor die skepping soos ons nie eers kan begin om te verstaan nie. (Wat is die mens?) En oor ’n baie groot Skepper.
Luister na hul vertellinge.
Dis ’n ander soort Kersverhaal.
Dalk kan die Suiderkruis ons ook help om weer rigting te vind.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie