’n Anderse Kersfees
Elvira Hattingh
Ek het iets op die hart, maar die woorde sukkel net. Soms doen die lewe die woorde-ding egter vir jou.
Ek sien ‘n plasing in die sosiale media. “Kersfees sal die jaar nie dieselfde wees nie, want ons het mense begrawe wat families bymekaargehou het.”
Eina. Dit raak aan rou senupunte. Al my liefde en simpatie aan hierdie ouers wat ‘n kind in sy 20’s moes groet.
En aan die wesie-babas wat nooit hul mamma sal ken nie. En aan dié wat ‘n ma of pa of ouma of oupa moes groet. En dié wat nou sonder ‘n suster of broer moet voortgaan. En dié wat nou met gesondheidsprobleme moet voortleef.
Ek kén julle, ek sién julle en ek is een van julle. Dalk sou ons 2021 (en ook 2020) liewer wou vergeet.
Hierdie jaar en sy verpestelike siekte het té veel van ons gevat. Ek weet ook Kersfees sal nie dieselfde wees nie. Dalk eendag weer, maar hierdie ene, hy is ‘n anderse een.
Maar ek dwaal af.
Nog iemand vra in die sosiale media dat mense asseblief sensitief en goed moet wees vir dié wat vanjaar iemand verloor het – en ook dié wat iemand tien jaar gelede verloor het.
“Ons kan nie die wat ons verloor het, ophou liefhê nie. Ons kan nie ophou treur nie, ‘n deel van ons is vir altyd weg. Tye soos dié beklemtoon ons verlies. . .”
Ek verstaan.
Ek sien soveel stukkende harte wat met dapper glimlagte met hul lewens probeer voortgaan. Midde die verdowende stilte van ‘n geliefde se stem, midde ‘n “vir altyd”. Nooit is ‘n baie lang tyd, ‘n graf met sosiale afstand tussen geliefdes is ‘n baie eensame plek.
Maskers steek te veel weg. Dié dalk dat ons met woorde sukkel, sprakeloos is.
Baie van ons kon nie groet nie. Ek sou wat wou gee vir ‘n laaste oomblik, ‘n laaste handdruk, ‘n laaste woord . . . maar baie van ons geliefdes was in hul laaste lewensure alleen met God.
Geïsoleer.
Ek is baie jammer. Miskien troos dit om te weet jy staan nie alleen in hierdie anderste Kersfees nie. Miskien help dit om te weet hulle is nou beter af as dié van ons wat agterbly.
Omicron. Steeds is die einde niet.
Ek weet nie of sy weet daar is vars blomme op haar graf nie.
En dan onthou ek ‘n vorige Kersfees. Sy het gesê dis vir haar só mooi, die gedig (en lied) deur Koos du Plessis en Jannie du Toit: “Skenk ons 'n helder Somerkersfees in hierdie land, o Heer.”
Kersfees kom, Kersfees kom inderdaad. ‘n Anderste Kersfees, dié.
En dan lees ek van die Kersfees-komeet wat kom en ek onthou ‘n mens moet na die hemel opkyk. En uit my laerskooldae kom neurie die woorde van ‘n lied as ons Vrydae saal toe moes gaan ... “As ek in eerbied wonder en al U werke elke dag aanskou: Die son en maan, die aarde, stêrre, wolke . . .”
Want as ek opkyk, besef ek dit gaan nie oor my nie. Ook nie oor 'n aangename lewe op hierdie stukkende aarde van ons nie.
Welkom, o stille nag van vrede onder die Suiderkruis. Wyl stemme uit die ou verlede oor sterrevelde ruis. Hoe gepas vir so ‘n Kersfees!
Mag elkeen wat iemand dierbaar verloor het, egter vertroosting en vreugde in hierdie anderste Kersfees vind. Mag julle vrede vind.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie