’n Anderste grapjas
Lloyd Zandberg
Ons gesprek begin met ‘n grappie.
Ek lag. Hy lag saam.
Ons bestel koffie en gesels oor die Desembervakansie, bekende gesigte van Namibië en sy vermoë om ander mense te laat skater van die lag.
Oorkant my, in ‘n netjies werkshemp – nie heeltemal kantoorblok- of prokureurstyl nie – sit Dawie Prinsloo. Rustig en gereed om ná ‘n welverdiende Desember-blaaskans die spaarvark vet te voer.
Maar kom ons begin by die begin. Daar waar Dawie persoonlikheid en ‘n voorliefde vir storievertel, mense en die lewe ontwikkel het.
“My ma (sy is nog sterk in die gees en die vlees met ons) het in die Kalkfeld-omgewing op ‘n plaas grootgeword en het my pa, ‘n Wes-Transvaalse klong (ongelukkig is sy vlees gevat so 16 jaar terug, maar die res van hom is nog by ons), op Tukkies ontmoet. Hulle het toe diékant toe gekom en saam hier die lewe aangevat.”
Dawie en sy ouer broer het uit dié gesonde huwelik gespruit.
“My pa en sy pa was beide Dirk Cornelis Prinsloo, ‘n naam wat toe ook vasgemaak is aan my broer. Die naam David Hercules Prinsloo is weer van die oupa aan my ma se kant op my losgelaat (David spreek jy Dawid uit, glo ‘n Hollandse spelreël). Ek vermoed die diepe vrees vir verwarring met die Ingilse weergawe het my naam Dawie gemaak. Ek kyk op en is diep dankbaar dat ek nie David Christiaan gedoop is nie; hoe deurmekaar sou die pos dan wees?”
Ek lag soos iets wat te veel helium gesluk het.
Moet myself kort-kort herinner dat ek nie by ‘n eenmanvertoning is nie, maar eintlik besig is met ‘n onderhoud, met ‘n individu wat bedags ‘n bourekenaar van beroep is. Hoe werk dit?
“Van die min goed wat ek eintlik nogal goed kon onthou van my kinderjare af, is grappies en stories. Altyd goed om mense te hoor lag. Moet my egter nie vra om die tien dominante eienskappe van ‘n Amoeba of ‘n Arachnida op te noem nie.”
Ek spoeg my cappuccino se skuim tot op die plekmatjie voor my. Hy is nie alleen nie.
“Ek kan nie juis vir jou sê wat het die bourekenaarding daarmee te doen nie. Enige werk het seker maar sy storiemense. Ek weet net jou rekenmeester-ouens moet ‘n skootrekenaar byderhand hê as hulle ietsie vertel.”
Ons gaan terug tot sy grootwordjare.
En toe, waar was jy op skool en so, vra ek.
“Ek het beide na Pionierspark Laerskool en Academia Hoërskool gestap en getrap tot einde 1989. Ek was maar doodgewoon.”
Dit klink nie na die persoon wat voor my sit nie, maar ek weet daar kom iets wat hy gaan sê, wat die laasgenoemde stelling ironies gaan maak.
“Fietsgery skool toe; my pa was ‘n voorstander van die 'Think NO Bike'-beweging, dus was ‘n 'Fifty' daai tyd net iets wat ek nou oor drie jaar sal word.”
Nes ek gedink het.
“Huiswerk het ek ook getrou gedoen, geen opskure goed op my tas geskryf nie en ook nie my hare ge-'peroxide' nie. Pouse het ek my broodjies geëet en nie agter die busloods ‘n Chesterfield gaan klap nie. Ek onthou net die musiekjuffrou. Karibib sonder lugreëling sou ek trotseer vir haar.”
Ná skool het Dawie BSc Bourekenkunde aan die Universiteit van die Vrystaat gaan studeer.
“My vierjaargraad het ek toe daar in vyf jaar ingedruk. Dit was bittere goeie jare op die Bult daai tyd.”
Ná universiteit toer en werk Dawie in Amerika, en in 1998 sak hy neer op een knie en trou.
“Ek en my eerste, enigste en nog steeds vrou het in 1992 tydens Jool ontmoet.”
Hul is die trotse ouers van drie bulle, naamlik Simon (gebore in 2000), Christiaan (2003) en Benjamin (2008).
“Dis omtrent my verhaal tot en met nou. Ek is nog steeds hier,” sê hy.
“Met jou 'luck',” sê ek.
Ons bestel nog koffie. Die praat lê die wêreld vol.
“Ek het net meer myle op die klok, maar ek is net ‘n gewone, tipiese Homo sapiens-outjie.”
Dis duidelik dat Dawie se lewe ietwat anders uitgedraai het as wat hy oorspronklik verwag het. Uiteraard is dit normaal, dan nie? Die lewe gooi sy draaie.
“ Tot ‘n mate kan mens seker voorspel of jy ‘n kat, hond, vrou, blyplek, kinders en werk sal hê. Die volgorde is dalk nie altyd in die kol nie, maar die Lego’s is daar en jy kan ietsie moois bou.”
Ek knik.
“Jy sal egter nooit weet of jy die mooiste dingetjie gebou het wat jy kon nie.”
Sy pa se afsterwe het ‘n enorme invloed op hom en sy gesin gehad. Die oom is aan kanker oorlede.
“Daai laaste asem sit vas in my kop. Veral as ek daaraan dink hoe hy net die vorige dag so helder was, gepraat en onthou het, en ek nie daar was nie alhoewel ek eintlik kon . . .”
Ek val hom in die rede. Praat uit, dink ek.
“Werk is soms so onnodig.”
Dit klink soos ‘n retoriese vraag.
“Ongelukkig het sy tyd nie gewag vir my nie, al het ek gedink die sand loop nie so vining nie.”
Die gesegde is mos: Uit hartseer ontstaan humor. Of so iets.
Dit kom voor of dit ‘n werklikheid vir hom geraak het. Hoe benader hy die lewe?
“Mens moet goed doen wat vir jou lekker is, niks oorkompliseer nie, die lewe deel met ander, gee waar jy kan en vir iemand of sommer ‘n hoop mens baie lief wees - katte, honde, hase en enige iets wat nie kan WhatsApp nie, is ook iemande.”
Ewe skielik is die donker wolk weg, en ons praat weer lig. Soos ‘n verekussing.
“Dis soos kosmaak: Kies die ding wat jy wil braai of in die oond druk sorgvuldig uit. As jy nie ‘n vark ou is nie, los hom in die winkel en lei liewer die bees of skaap by jou kombuisdeur in en geur na smaak.”
Hoewel Dawie voltyds in die boubedryf werk, word hy gereeld op ‘n verhoog van ‘n soort gesien, waar hy talle mense met sy storievertellings vermaak. Die idee dat jy ‘n deel van jouself aan ‘n gehoor kan gee, is wat vir hom so fraai is.
“Dis ook goed vir my siel om mense te hoor lag, veral mense wat kán lag.”
Hy vergelyk die vertolkings van sy stories soos dié van ‘n boom se wortels.
“Jy kan een storie vat en vir hom lang wortels gee, en afhangende van hoe jy hom water en kos gee, klim sy vrugte elke keer anders uit.”
Hy skryf ook.
“Ja, ek het al so 'n paar stukkies bymekaar gegooi, maar nie ernstig aandag daaraan gegee nie.”
In 2017 besluit Dawie om ‘n T-hemp-reeks te skep. Hy was keelvol vir die normale.
“Kyk, ek is mos glad nie ‘n ‘label’ mens nie.” Hy neem ‘n sluk van die splinternuwe koffie. “Mos grootgeword met PT-broeke en hemde met strepe of blokke op. Jeans was jeans daai tyd en jy het hom by enige winkel gaan koop. Jou voete was vol Grasshoppers, North Star-tekkies en later het jy jou Gypsy gekry, hier in my hoërskooljare.”
Hy verduidelik die T-hempe so: Hy wou iets begin 'label' om dit juis nie te 'label' nie. “En natuurlik ‘n bietjie humor inbring wat skerper as ‘n vetkryt is.”
Die trane rol.
“Dis maar nog bitter op die kantlyn, aangesien ek regtig nog nie tyd gehad het om nuwe goed te doen en die bemarking en verspreiding agtermekaar te kry nie: Vrou, werk, kinders en te kyk dat die honde hulle pille eet, hou ‘n man besig.”
Dis 2019, ek moet saamstem.
“Op die oomblik is daar so 17 modelle wat al by die Boeremark en een maal by die Kersmark op Hentiesbaai was. Van die goed laat mens dink; party mense verstaan dit glad nie. Nie jou tipiese 'My pa is sterker as jou pa'-goed nie. Jy kan hoor hoe gaan dit so zjooom oor hulle koppe.”
Ek wil by hom weet wat hy as skerp humor beskou.
“Enigiets wat bietjie nie by die 'beat' hou nie. Gary Larson (tekenprentkunstenaar) is vir my jou tipiese wals wat ‘n mens moet dans, al is die musiek vals.” Nog ‘n stukkie beeldspraak wat my 'move'.
Dawie het al telkemale op die Wika- en Kuska-verhoë sy verskyning gemaak.
“Dit kan nogal oorweldigend wees. Dis een ding om iets by ‘n braai te vertel, maar 800 mens, dis ‘n moerse braai.”
Tydens sy optredes doen hy ook ‘n paar vertolkings wat histeries en baie gewild is.
“Die Duitse ding kom al eintlik ‘n lang pad. Ons bure was Duits. Horst en Marion Lisse. By hulle het ek leer 'Oats'-pap eet met Milo op. Dit bly vandag nog ‘n wenner.
“Saterdae het ons saam met hulle na die hondeklub toe gegaan. Soms, ingesluit hulle Mutti, sommer in ‘n Datsun 120Y met ‘n groot wolfhond en ‘n skaaphond wat agter saam met ons op die sitplek sit. Daar aangekom met kwyl en hare wat die K9-vriende so mildelik gedeel het met ons, het ons (eintlik Horst) gesorg dat al die bome natgelei word. Terwyl Janco en Lady die hindernisse, wat deel is van so ‘n klub, met gefokusde effektiwiteit aanpak.”
Hy spot effens en sê as dit nie vir die Duitse hand was nie, sou hier ‘n klomp goed vandag nie in Namibië bestaan het nie.
“Die Duitse tannie-karakter is eintlik ‘n juffrou wat aflos by ‘n Afrikaanse skool, en hoe sy dan die laerskoolklas met die eerlike effektiwiteit, wat sou eie is aan hierdie nasie, berispe en veral klem lê op hulle voorkoms en die tekortkominge. Dit was die eerste ding wat ek in 2015 by Wika gedoen het.”
Ek gooi hom ‘n strikvraag. Elke mens op hierdie aarde het iets wat hy nie noodwendig met ander deel nie.
“Ek hou van ou goed, Art Deco moes my tyd gewees het. Ek luister ook nog nou en dan na van my kinderplate. Oom Tielman se vlieër en Mafoetatjie die seekoei is regtig twee van jou ysterstories van doerietyd.”
Hy woon al jare in Namibië. Party mense vind aanklank by die kus, die binneland of die woestyn.
“Dis ‘n baie onregverdige vraag; daar is soveel ongelooflike plekke in ons land. Kom ek sê dan maar so, ek sou met ‘n swaar hart gaan 'honeymoon' hou het op Karibib, al het die kamer lugreëling gehad, en ons kon verniet bly, en mens kon spek en eiers elke oggend kry net voor jy die winkel met die mooiste khaki-klere kon gaan beloer.
“‘n Wyle verder is Swakopmund, wat nog altyd vir my na aan die hart gelê het. Daai fyn bruin van die duine aan die eenkant en die woelige see aan die anderkant wat bladskud. Min plekke waar mens die Groot Hand so duidelik sien.”
Hy raak stil, skep ‘n asem en sê: “Ai, steel ek nou by wyle oom Des Erasmus.”
Met dit besef ons ons albei moet glip. Elders. Die dag se verrigtinge aanpak en die spaarvarke voer.
Nog een vraag. Wat koester hy?
“Daai herinneringe en saamwees wat jy vir jou kinders gaan gee, is al wat by jou en hulle bly.”
Ons skud blad.
“Lank ná jy die winkel se deure toegetrek het.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie