'n Baksteen van 'n boek
'n Baksteen van 'n boek

'n Baksteen van 'n boek

Karin Eloff
Elke behoue brief wat Nelson Mandela tydens sy 27 jaar agter tralies geskryf het, is opgeneem in dié boeiende primêre bron, wat ongelukkig ook plek-plek vervelig volledig is, skryf Jan-Jan Joubert.

Hierdie baksteen van 'n boek is van groot historiese belang: Niemand sal ooit weer navorsing oor (tans) die mees bewonderde Suid-Afrikaner, oudpres. Nelson Mandela, kan doen sonder om dié swaargewig-navorsingsgenoot as sentrale en primêre bron te raadpleeg nie.

Dit omvat elke liewe behoue brief wat Madiba tydens sy 27 jaar in die tronk geskryf het, en dit is gepas dat Sahm Venter, wat jare reeds by die Nelson Mandela-stigting betrokke is, die reusetaak onderneem het om dit byeen te bring.

Sy het die projek so deeglik en omvattend benader dat die boek 'n ­kruisverwysende konkordansie word wat 'n mens help om die ingewikkelde wisselwerking te verstaan van al die ­strugglefigure waarmee en waaroor Mandela gekorrespondeer het. Daarsonder sou dit ongetwyfeld wees soos die dramaturg se beskrywing van die ­telefoongids: 'n indrukwekkende rolverdeling, maar nie veel aksie nie!

Daar is spesifiek in die eerste paar jaar van Mandela se korrespondensie nie veel handeling nie, omdat hy ingrypend deur die gevangenisowerhede gesensureer is. Namate die wêreldwye druk op die apartheidstaat toegeneem het, het hy wel die selfvertroue en beweegruimte verkry om oor ietwat meer as familiekwessies en jeugherinneringe te skryf.

'n Mens kan gevolglik nie ontken dat veral die eerste helfte van die boek nogal vervelig is om ­volledig te lees nie. Daar is baie ­herhaling en etlike familieverwysings waarvan die belang beperk is.

Dit was volledigheidshalwe sekerlik nodig om alles in te sluit, maar soos die redakteur self in haar inleiding uitwys, is die doelwit eintlik dat die leser en navorser die boek proeseltjie vir proeseltjie kan lees – om daardeur ­byvoorbeeld meer wys te word oor Mandela se verhouding met sy vrou, sy kinders, die owerhede of sy ­politieke kamerade.

In hierdie verband slaan die mens­likheid van Madiba sterk deur. Sy briewe aan sy vrou, Winnie (Madikizela-Mandela), is teer en romanties. Met die uitsondering van 'n nogal interessante gespanne tussenspel omstreeks 1979 waar 'n mens sprake van 'n verwydering vermoed, is die hegtheid van hul verhouding sowel wetenswaardig as bewonderenswaardig, veral gegewe die uiters moeilike omstandighede met een en dikwels albei van hulle in aanhouding.

Dit is uit dié briewe duidelik dat Winnie dikwels op moedverloor se vlakte was, al het sy so 'n uitdagende beeld aan die buitewêreld voorgehou. Haar posisie het verder versleg toe sy verban is na Brandfort, waar sy niemand geken het nie, nie die taal kon praat nie en ook geen werk gehad het nie.

Boonop het die polisie haar wreed behandel. Dit is moeilik om die ­bewering dat dié brutalisering aanstigtend was tot haar eie latere onaanvaarbare gedrag in die wind te slaan.

Wat aandoenlik is, is haar man se opregte kommer oor haar welstand en sy dankbaarheid jeens die prokureursegpaar Pieter en Adele de Waal wat haar met menslikheid bygestaan het.

Nelson Mandela het dikwels in sy latere lewe aangevoer sy ­grootste mislukking is dat hy nie gedurende sy kinders se grootwordjare daar kon wees as rigtende en ondersteunende hand nie. Dat daar rede vir sulke berou was, is duidelik as 'n mens kyk na die uitdagings waarmee die Mandela-familie te kampe het.

Ook sy korrespondensie met ­politieke medestryders is fassinerend. Uiteraard is hierdie skrywes skerp gesensureer, maar dis tog interessant hoe hy, as jy met aandag lees (en danksy die redakteur se omvattende voetnote), soms probeer het om bood­skappe in kode uit te kry.

Meestal bestaan hierdie briewe egter uit die vaerwordende herinneringe aan die goue jare van die 1950's en die groot name van die destydse swart intelligentsia.

Wat kontak met die owerheid betref, is verskillende fases waarneembaar. Aanvank­lik handel dit met ­eentonige ­reëlmaat oor die weliswaar ontredderende vergrype van die tronkpersoneel in die ­beperkte ruimte van die tronk­omgewing, wat ontstellende maar stadige leesstof is.

Mettertyd, veral nadat die ­destydse minister van justisie, Kobie Coetsee, met hom kontak bewerkstellig het in die ­destydse Volkshospitaal (vandag Kaapstad Mediclinic) het hy hom met groter selfgeldendheid en saaklikheid teenoor die gevangenisowerhede begin uitdruk.

Dis 'n teksboekvoorbeeld van 'n verskuiwende politieke magspel. Hierdie versameling briewe is dus 'n onmisbare byvoeging tot ons land se geskiedenis-kroniek, maar dis soms taai leesstof.

Dit kon nie vollediger of ­deegliker gedoen word nie, en moet as sodanig aangeprys word. 

• Jan-Jan Joubert is 'n politieke joernalis en die skrywer van Wie gaan in 2019 regeer? – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer