'n Baldadige Kerskous vir rykes
'n Baldadige Kerskous vir rykes

'n Baldadige Kerskous vir rykes

Jo-Mare Duddy Booysen
Wat kry 'n stinkryke, wat enigiets onder die son kan bekostig, vir Kersfees?

Volgens Bloomberg is 'n vurige Ferrari Enzo een van 'n handvol baldadige geskenkidees waarmee selfs die puntenerigste miljardêr erg in sy noppies sal wees.

'n Toenemende tendens is om 'n hele passasierskip en sy bemanning vir 'n week in die feestyd te huur vir 'n paar honderd van 'n ryke se vriende of vir 'n familiereünie. Vir dié geskenk kan tussen US$500 000 en US$1 miljoen per week opgedok word. 'n Geskenk wat menige ryke van vreugde sal laat borrel, is 'n kis van die Franse sjampanjemaker Bollinger se skaars verouderde sjampanje, wat skaarser as hoendertande is. Enige gegewe jaar bring slegs tussen ses en nege vate na vore, wat ná 12 jaar van veroudering deur gretige rykes opgeraap word.

Die koste vir 'n 2005-vintage is US$975 per bottel. En tot US$5 000 per bottel word vir ouer weergawes opgedok.

'n Uiters gesogte item is die modeontwerper Tommy Hilfiger se 2003-Ferrari Enzo, wat in Januarie deur RM Sotheby's in Scottsdale, Arizona, onder die hamer gebring gaan word. Dié kersierooi blits het 'n rapsie meer as 3 600 myl op die klok en Hilfiger het dit uit die boks gekoop. Daar is slegs 400 Ferrari Enzo-motors gemaak en klassieke motorkenners verwag dat dié een vir meer as US$3 miljoen gaan verkoop. “My leefstyl het verander en deesdae verkies ek om in my Rolls-Royce of my Maybach te ry,” het die 65-jarige Hilfiger aan Bloomberg gesê.

Om in duur styl met die tyd tred te hou, kan 'n Greubel Forsey-horlosie met saffierglas vir US$1,275 miljoen aangeskaf word. Slegs agt word vervaardig en dit word eksklusief in die VSA verkoop, wat die skaarsheidswaarde die hoogte in laat klim.



straler in roosgoud

'n Buitengewone geskenk wat in die luukse afdelingswinkel Neiman Marcus se Kersfees-katalogus pryk en in 2017 sy debuut gaan maak, is 'n private straler in roosgoud. Dié Cobalt Valkyrie-X gaan een van die vinnigste suiervliegtuie (piston aircraft) ter wêreld wees en het plek vir die vlieënier en drie passasiers. Dit kom teen 'n prys van US$1,5 miljoen.

Vir die ryke wat ontevrede is met luukse hotelverblyf is daar 'n maatskappy genaamd Blink, wat in 'n oogwink (drie tot vyf maande) 'n opwiphotel op enige plek sal oprig, kompleet met fynproewersetes, personeel en aktiwiteite. Die interieur word volgens die ryke se smaak ingerig en hy of sy kan self die wyn in die kelder kies.

Opwiphotelle wissel in prys, maar drie nagte vir ses gaste in Marokko gaan 'n stywe US$177 600 kos, dieselfde as die prys van vier nagte vir dieselfde groep in Bolivië.

Die kersie op die koek van duur geskenke is egter 'n superluukse huis in 'n eksklusiewe Hawaise enklawe, die Kohanaiki-ontwikkeling. Dié gholflandgoed wat tussen mere en welige groen heuwels nestel, word bestempel as die nuwe speelplek van die rykes, en vir 'n nessie daar kan tot US$22,5 miljoen opgedok word. Die toegangstarief beloop US$100 000 en die jaarlikse heffing US$25 000. Die ontwikkeling met sy 80 huise het die leuse “gaan groot of gaan huis toe”. – Netwerk24/Bloomberg

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!