'n Bek vol tande vir Moedersdag
'n Ma kan nie kies waarmee sy op Moedersdag bederf word nie.
Tradisioneel staal sy haarself vir 'n bos peperduur blomme of ingevoerde sjokolade waarmee die naaste winkelsentrum haar geliefdes ingeloop het. Of sluk sy met 'n glimlag die té sterk of té flou koffie en amper gebrande spek, eiers en roosterbrood vir haar ontbyt-in-die-bed verrassing. As sy gelukkig is, word almal al dié lyding gespaar en koers die gesin restaurant toe sodat sy haar rusdag in styl kan geniet. Aangesien dit haar dag is, kan sy die uiteetplek kies. Maar sy kies nietemin een waarheen sy weet die kinders wil gaan. Want dis wat ma's doen.
So is Moedersdag dan ook in die Booysen-huis gevier.
Knuppeldik kom ons skemeraand tuis. Reg vir 'n lekker fliek, knus kombers en die rusbank.
Soos dikwels, speel die bure se kinders en hul hond in die straat. Wat 'n mooie dierasie, het ek nog altyd gedink. 'n Straatbrak perfek vir 'n fliek waarin hy in jou hart inkruip en jy die snesies naby moet hou. Glad nie soos my willewragtags waarmee ek my hande vol het nie. En gaan hê as ek nie die buurhond veilig agter sy slot en grendel kry voor ek my hek oopmaak nie.
Klim dus doodgerus uit die kar om die versoek aan die tienerbuurseun te rig. En net daar verander Lassie in Cujo. Storm dreigend op my af, oë dol, tande onheilspellend skerp in sy grommende bek. Selfs kwyl wat drup, is ek in retrospek oortuig.
Dié hond kom nie gelukkige Moedersdag sê nie, besef ons soos een man. Hardloop is nie opsie nie en mooipraat gaan nie help nie. Staan en vat jou pak soos 'n ma, wéét ek.
Nóg ek, nóg Cujo is seker van die volgende stap. Ek's nog nooit gebyt nie en dit lyk nie asof hy al ooit mensvleis geproe het nie. Hy hap vinnig, terugskouend beslis halfhartig en hol huis toe. Ek's verbaas omdat dit so vrek seer is. Dankbaar toe ek sien dit voel veel erger as wat dit is. Maar moedeloos toe ek besef ons volgende stop is die hospitaal.
Ná wat soos 'n ewigheid voel, is ek gespuit en gepleister terug op pad huis toe. En besef ek meteens verbaas hoe mooi die laaste ligstrale van Moedersdag is.
Verbaas wéét ek buurhond het my die mooiste geskenk van alles vir Moedersdag gegee: Vrede. Die onverwagse vrees het oerinstinkte in my wakker gemaak. En in dié proses al die onsinnige bekommernisse van die moderne lewe op die vlug laat slaan. As 'n woedende hond jou wil rol, is daar nie tyd of plek om te wonder of jy vannag wéér tevergeefs gaan moet skape tel nie. Moedeloos aan die verkeersknope en lang rye en dun beursies in winkels te dink nie. Jy worrie net oor die nóú. Oor die ander klein jakkalsies het jy tog meestal geen beheer nie. En die meeste van die tyd dra jou wingerd tog heerlike, sappige druiwe. Wat jy net kan geniet as jy nie die jakkals agter die berg gaan haal nie.
Vir die eerste keer in 'n lang tyd kon ek met oorgawe die Sondagaandfliek geniet, was my kombers ekstra knus en my rusbank sagter as wat ek onthou. En was die warmte van my kind se hand en my man se skouer 'n saligheid wat ek kon koester.
Môre sal vir homself sorg.
Vir nou is ek maar katvoet vir Cujo. Maar eendag is eendag, dan gaan ek Lassie se kop vryf.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie