'n Beroep op rasionele denke
'n Beroep op rasionele denke

'n Beroep op rasionele denke

Dani Booysen
ANONIEM SKRYF:

Denver Kisting smeek, vir die soveelste keer, by wyse van die rubriek “Ek sê maar net" om 'n plekkie vir die LGBTQ-gemeenskap in die Namibiese son.

Ondenkbaar, gegewe die feit dat Namibië in sy sekulêre konstitusie ongeëwenaarde vryhede aan al haar inwoners beloof en Namibiërs in die algemeen 'n progressiewe gemeenskap is?

Myns insiens is dit 'n samevloeiing van twee kwessies.

Eerstens is die Namibiese gemeenskap oor die kop gemoker met homoseksuele seks.

As mense (veral oor gays) gesels, is daar gedurig ongurige en kru verwysing na seks, selfs onder skynbaar opgevoede persone.

Mense vergeet dat homoseksualiteit nie net 'n uitdrukking van die seksuele is nie, maar ook 'n uitdrukking van romantiese liefde.

Parallel hiermee is natuurlik die grootste sondaar (!) naamlik godsdiens, en te wete Christenskap.

As jy in die 21ste eeu leef maar jou denkwyse bepaal word deur 'n versameling boeke wat 2000 jaar gelede geskryf is deur mense wat nie geweet het waar die son heen gaan as dit donker word nie, het jy 'n geweldige dilemma.

'n Pratende slang, pratende donkie en 'n stap-vir-stap gids hoe om jou slaaf te behandel, is van die enkele kwessies wat die slaafse navolging van dié bundel fabels jou 'n helse dosis cognitive dissonance op die hals kan haal. Dink aan die enorme etiese vraagstukke waarmee jy moet worstel as jy in Romeine (LW, Nuwe Testament) lees dat alle owerhede en gesag deur God aangestel is. Skrifte soos hierdie is gebruik om apartheid in Suider-Afrika en slawerny in die negentien eeuse VSA te regverdig. Selfs die verkiesing en presidensiële manewales van ene Trump.

Vandag weet almal dat diskriminasie teen mense as gevolg van velkleur oneties, doodeenvoudig verkeerd en 'n misdaad is.

Paulus skryf in sy eerste brief aan die Korinthe (LW, Nuwe Testament) dat vroue nie in die kerk mag praat nie. Bid dit jou aan! Was jy al in 'n kerk waar vroue nie mag praat nie? Dalk 2000 jaar gelede; nie vandag nie!

Op 'n vraag van sy dissipels sê Jesus in Markus 10 (LW, Nuwe Testament) dat mense wat skei en met ander trou egbreuk pleeg teenoor die vorige huweliksmaat. Sonder om “maar” by te voeg. Nadat hy alreeds in die vorige vers gesê het dat niemand mag skei wat God saamgevoeg het nie.

Laat hierdie kwessies jou nie wonder oor die moreel-aanvegbaarheid van die Bybel in sy geheel nie?

Hierdie cherry-picking deur Christene reduseer hulle geloof tot iets oppervlakkigs en is natuurlik verantwoordelik vir die honderde Christen-denominasies wat daar vandag bestaan.

Soos 'n software license agreement hanteer hulle die Bybel. Kliek net onder “I agree”, salig onbewus van wat in die ooreenkoms is.

So, Christene, voel gerus vry om nog 'n uitsondering te maak.

Of is dit die homoseksuele seks wat julle pretensieuse agterente se deksels is?

Doen dit sonder verwyl, al is dit net om die veelgeroemde liefde - blykbaar die sentrale tema van julle geloof - vir een keer onvoorwaardelik uit te leef.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer