Ná beroerte tem hy 100 km deur Visrivier

Athanasius Muronga en Julia Janse van Rensburg was die twee Namibiese wenners in die 65 km afstand.
Andrew Poolman
Namibiese drawwers het verlede naweek hul land trots gemaak toe hulle albei kategorieë oor 65 kilometer by die jaarlikse Windhoek Light Visrivier ultra-marathon gewen het.

Athanasius Muronga van Noord­oewer het 'n vierde agtereenvolgende titel ingepalm toe hy die 65 km wedloop in 8 uur 6 minute en 24 sekondes voltooi het – meer as 4 minute vinniger as die tweede geplaasde Willem Moolman uit Suid-Afrika.

Die ultra-marathon het Saterdagoggend by Hobas begin en het Sondag in die vroeë oggendure by Ai-Ais klaargemaak toe die laaste deelnemer net ná eenuur die oggend aangekom het.

Muronga se wentyd was aansienlik stadiger as sy vorige kere. Toestande langs die roete het dit volgens deelnemers die moeilikste wedloop sedert die eerste Windhoek Light Visrivier ultra-marathon in 2011 gemaak.

Muronga het gesê hy was baie trots om 'n vierde agtereenvolgende titel te wen. “Dit was baie moeilik vandag, maar ek het besluit hierdie is my land en ek sal nie toelaat dat iemand my op my tuiswerf klop nie.”



STERK VROUE

Die Windhoeker Julia Janse van Rensburg het een van die beste vertonings in haar loopbaan as langafstandatleet gelewer deur die vroue se 65 kilometer-titel te buit.

Van Rensburg het in 8 uur 45 minute 9 sekondes die roete voltooi wat deelnemers tot die uiterste beproef het.

Deur die laaste waterpunt by Kochas Drift, 20 km van Ai-Ais, het sy in 'n toptien-posisie deurgedruk. Haar wentyd sou haar sesde in die mans se 65 km resies geplaas het.

Janse van Rensburg sê sy is verras deur haar vertoning.

“Ek is meer van 'n padhardloper en het nie regtig verwag om vandag te wen nie, maar ondanks die toestande het ek dit regtig geniet. Soms was die riviersand baie los en ons moes teen 'n wind van voor hardloop, maar ek kon darem vorder.”

Van Rensburg se tyd was 15 minute stadiger as laasjaar se 65 km-kampioen Sandra le Roux van Kaapstad, wat vanjaar haar visier op die 100 km-ren ingestel het.

Die ervaring met haar eerste probeerslag in 2016 het Le Roux gehelp om die langste afstand se titel agter haar naam by te voeg.

“Nadat ek die 65 km-titel verlede jaar gewen het, het ek vir 'n ander uitdaging gesoek en besluit om die grote te doen. Dit was 'n bietjie moeiliker as verlede jaar omdat ek in die donker moes hardloop. Dit was vir my baie belangrik om hierdie byeenkoms weer aan te pak en ek is so bly dat ek die wedloop kon voltooi en dit kon wen,” het Le Roux gesê.



REKORDBREKER TERUG

Straks die topprestasie van die 2017-weergawe van die Windhoek Light Visrivier ultra-marathon was die Suid-Afrikaanse hardloper AJ Calitz. Verlede jaar het die Stellenbosser uiteindelik die hardnekkige rekord van Ryan Sandes verbeter toe hy die afstand in 6 uur 39 minute en 52 sekondes afgelê het – 17 minute vinniger as Sandes se tyd in 2012.

Vanjaar het hy na Namibië teruggekeer net twee maande nadat hy 'n beroerte gehad het waarvan hy merkwaardig herstel het.

Calitz en 14 ander hardlopers het vir die 100 km-ren aangetree en net voor die sonsopkoms in die spoelvallei neergedaal by 'n uitkykpunt wes van Hobas. Calitz het Ais-Ais ná 8 ure 55 minute 09 sekondes bereik – 'n wentyd aansienlik stadiger as vorige jare, maar 'n ongelooflike prestasie gegewe sy ernstige gesondheidsterugslag net meer as twee maande gelede.

“Vanjaar was moeiliker, want ek was nie so goed voorberei soos voorheen nie en die canyon het niks maklik gemaak nie – dit was warm, dit was koud, dit was baie sanderig. Maar dis baie bevredigend om te wen,” het Calitz gesê.



VOLHOUBAARHEID

Altesame 70 hardlopers het vir die 2017 Windhoek Light Visrivier ultra-marathon ingeskryf, van wie agt nie Ai-Ais bereik het nie.

Die organiseerder Tinus Hansen van Africa Extreme Promotions het gesê 'n besluit is geneem om die aantal inskrywings uit oorweging vir die omgewing tot 70 te beperk, maar dat hulle baie meer kon akkommodeer.

“Mense praat oor dié byeenkoms; dis beslis een wat in jou leeftyd voltooi moet word. Die omgewing is mooi en baie mense wil hier kom hardloop,” het Hansen gesê.

Die borge Namibië Brouerye deur Windhoek Light het weer 'n beduidende bydrae tot bewaring in die land gelewer deur al die inskrywingsgeld aan 'n fonds te skenk vir die opgradering van ablusiegeriewe by Kochas Drift, wat 'n gewilde stoppunt op die Visrivier Canyon-staproete is.

NBL se hoofbestuurder vir borgskappe, mnr. Ian Stevenson, sê die stap was gegrond op 'n besluit verlede jaar toe die inskrywingsgeld ingestel is om Namibië se wilde perde te help bewaar.

“Dit is elke korporatiewe burger se verantwoordelikheid om tot toerisme by te dra en Windhoek Light het dit as 'n baie spesiale projek aangepak. Windhoek Light wil graag seker maak daar is volhoubaarheid agter die pragtige land wat Namibië is, om dit te behou en bekend te stel sodat almal vanuit 'n internasionale perspektief kan sien.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!