’n Bittersoet totsiens
Die tyd het amptelik aangebreek en hierdie is die laaste rubriek wat ek vir die koerant skryf. My hart is seer, my woorde is baie en my trane stroom. Totsiens sê was nog nooit maklik nie.
Ja, daardie is ’n cliché, maar op die oomblik gee ek regtig nie om nie. Tyd vlieg en dinge verloop nie altyd soos wat jy hoop dit moet nie. Hierdie jaar was ’n jaar in my lewe wat ek nooit sal kan vergeet nie. Dit simboliseer die tyd waarin ek die meeste lewenslesse geleer het en dit kon nie gebeur het sonder ’n geloofsprong nie.
Skaam, onervare, pas van die skoolbanke af en nat agter die ore het ek die grootmenswêreld aangedurf met niks meer as geloof nie. My eerste werk – geen mens kan die gevoel beskryf nie.
Aan die begin voel jy so bemagtig en kan skaars wag vir jou eerste salaris sodat jy daai foon kan koop waarvoor jy al hoe lank by jou ouers soebat en smeek.
Min weet jy dat jy ’n pad gaan stap met iets wat aan jou boud klou soos ’n stout kleuter in ’n speelgoedwinkel: Verantwoordelikheid.
Ja, die woord word so baie genoem en steeds is dit moeilik vir mense om dit te wees. Ek het dit sommer gou ’n prioriteit gemaak om eers my verantwoordelikhede na te kom en daarná te kry wat my hart begeer.
Kom ons sê maar net ek is nou nog besig met verantwoordelikhede en daar is geen teken van wat my hart begeer nie. Ek is nietemin trots op myself dat ek die hele jaar kop bo water kon hou.
Ek het met trots aan my vriende gesê ek is ’n werkende vrou met verantwoordelikhede; ek kan nie saamgaan wanneer hulle my uitnooi om uit te gaan nie.
Hulle was nie baie beïndruk nie.
Ek gaan nie lieg en sê my werk was sonskyn en rose nie, want ek het al so ’n klomp moeilikheid aangevang dat ek soms gewens het ek kan iewers in ’n gat gaan wegkruip en verdwyn.
Ek het aan my gesonde verstand begin twyfel en wou dikwels my hare uit my kop trek.
Die waarheid in die woorde “ek is moeg” het die eerste keer vir my sin gemaak. Laat ek dit so stel: Dit was ’n rowwe tyd op ’n baie onstuimige see.
Ek kan net die Here dank dat my boot sterk genoeg was om die storm te hanteer. Almal se ondersteuning was vir my ’n riem onder die hart.
Dit was darem ook nie alles sleg nie. Daar was die goeie tye waar die reënboog my dae baie lekker en heeltemal te gou laat verbygaan het. Ek het meer gelag en geleer in dié kort tydjie as wat ek ooit gedink het moontlik was. My dae is opgevrolik deur my kollegas se glimlaggende blikke wanneer ek soggens my opwagting by die werk gemaak het.
Sulke mense ontmoet mens net een keer in ’n leeftyd, en ek was baie gelukkig om dit so vroeg in my lewe te kon doen. Dit het my help besef die wêreld daar buite is dalk wreed, maar positiwiteit en ’n goeie, regverdige houding teenoor ander bepaal hoe ver jy in die lewe kom.
Die een ding wat regtig aan my hartsnare getrek het, was hoe ontsteld almal was oor my besluit om weg te gaan.
Ek het baie hard daaroor gedink en nagte omgehuil in die hoop dat ek die regte antwoord kry en nie ’n verkeerde besluit neem nie. Die toekoms is onseker, maar die mens is nie gemaak om te weet wat volgende gebeur nie.
Dit is ’n avontuur en jy sal jou eie Dwayne Johnson (held) moet wees in die storie wat jy kies om te skryf.
Die dankies wat ek aan elkeen moet gee vir hul impak op my lewe tydens my paar maande by die werk is baie.
Ek stap hier weg met ervaring, waardevolle kennis en ’n hele paar lewenslange vriende en vriendinne wat al meer soos familie voel.
Van my kant af is dit totsiens, vaarwel, au revoir, auf wiedersehen, namaste, en mag die engel van geluk en voorspoed op elkeen van julle se skouers tjorts!

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie