u2019n Blomlose Moedersdag
u2019n Blomlose Moedersdag

’n Blomlose Moedersdag

Weens streng maatreëls wat gepaard gaan met die invoer van blomme gaan verskeie bloemiste nie betyds voorraad vir Moedersdag ontvang nie.
Yandi Du Plessis
Yandi du Plessis - Weens die landswye inperkings in Namibië en Suid-Afrika wat eers onlangs verslap is, het verskeie uitdagings ontstaan met die vervoer van goedere tussen dié twee lande.

Die invoer van blomme vanaf Suid-Afrika blyk ‘n uitdaging te wees, veral met Moedersdag om die draai.

As jy in die verlede jou moeder of enige spesiale vrou in jou lewe op Moedersdag wou bederf, was ‘n bos blomme altyd ‘n veilige keuse.

Namibiese bloemiste soos Karibu Flowers Namibia, Blumen Margot, Blossoms Florist Swakopmund en Tamonika het vandeesweek bevestig hulle is weer oop vir besigheid ná die inperking effens gelig is.

Weens streng maatreëls wat gepaard gaan met die invoer van plantmateriaal, onder andere blomme, en vertragings wat die inperking meegebring het, gaan verskeie bloemiste egter nie betyds voorraad vir Moedersdag, wat eerskomende Sondag gevier word nie, ontvang nie.

Die pandemie is nie die enigste rede vir ‘n valerige Moedersdag vir Namibiërs nie. Namibiese bloemiste voer meeste van hul voorraad van Suid-Afrika af in en streng invoermaatreëls is deur die Namibiese ministerie van landbou, water en grondhervorming aangekondig. Dié proses is egter deur die inperking vertraag, vandaar die leë rakke, ofte wel emmers, in blommewinkels.

Afhangend van die tipe plantmateriaal wat ingevoer word, moet die handelaar dokumente bekom wat verseker die flora is nie ‘n gesondheidsrisiko vir Namibië nie.

‘n Invoerpermit moet deur die ministerie uitgereik word waarop al die gesondheidsvereistes aangedui word. Dié vereistes sluit in beperkings en verklarings ten opsigte van prosedures voor die aflewering, insluitend die hantering van die flora, waaraan plantmateriaal moet voldoen voor dit in Namibië toegelaat word.

Alle plantmateriaal moet deur 'n fitosanitêre sertifikaat vergesel word wat deur die land van oorsprong uitgereik is en moet aan die permitvereistes voldoen. Die fisosanitêre vereistes hang af van die tipe produk en waarvoor die flora gebruik word.

Aansoeke om invoerpermitte moet ten minste 14 dae voor die verwagte aankomsdatum in Namibië ingedien word, vandaar die vertraging.

Met aankoms in Namibië moet alle plantmateriaal verklaar word. Besmette plantmateriaal met siektes of insekte, ongeag die waarde daarvan, sal vernietig word of na die land van herkoms teruggestuur word op die invoerder se koste.

Só het mnr. Frans van Wyk, besturende direkteur en geleentheidskoördineerder by Tamonika Events & Floral Expressions, die maatreëls verduidelik. Hy sê na verwagting sal voorraad wel betyds vir Moedersdag wees.

“Ná baie moeite kon ons dit selfs regkry om blomme van die Kaap af in te voer. Proteas is altyd in aanvraag, veral op spesiale dae. Ons is nou in volle swang met voorbereidings vir Moedersdag, en gaan dit so spesiaal as moontlik probeer maak,” sê Van Wyk.

Ander bloemiste soos Blumen Margot in die Eros-woonbuurt kan egter nie voorraad betyds vir Moedersdag kry nie. Kliënte wat graag blomme wou koop moes ongelukkig weggewys word, omdat die vrag glo by die grens vertraag is aangesien blomme nie as ‘n noodsaaklike produk beskou word nie.

Die winkel se emmers is leeg. Dit is ‘n hartseer gesig so kort voor dié spesiale dag.

‘n Personeellid van Karibu Flowers Namibia het gesê hulle is ook tans in dié bootjie en sal ongelukkig nie betyds voorraad vir Moedersdag kry nie.

“Ons is nie seker wat aangaan nie. Daar is sover nie aan ons gekommunikeer wat die vertragings veroorsaak nie. Op party plekke hoor ons ons het ‘n sertifikaat vir noodsaaklike goedere nodig om die blomme hier te kry, ander sê weer dit is nie nodig nie. Dit is vir ons baie hartseer, ons winkel is leeg.”

Miskien is dit ‘n goeie idee om jou naaste bloemiste vooraf te bel en uit te vind of hulle wel voorraad het.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!