’n Brexit-bonus: Beleggers vlug na SA

Jo-Mare Duddy Booysen
Gerrit van Rooyen - Suid-Afrika is ’n onwaarskynlike toevlugs­oord vir beleggers wat deur Brexit die skrik op die lyf gejaag is.
Sedert die skok-besluit van die Britte om die Europese Unie te verlaat, het beleggers onder meer na die buurland gestroom.
Toe die voorspellers en ontleders verlede Vrydag verkeerd bewys is met die Brexit-besluit, het wêreldmarkte die ritteltits gekry en Suid-Afrika is dit nie gespaar nie.
Die JSE het op die dag van die aankondiging met 3,4% geduik en opbrengste vir die Suid-Afrikaanse staatseffek vir aflossing in 2026 het van 8,82% tot 9,02% gestyg omdat beleggers ’n groter premie vir risiko verwag het.
Die onverwagse meevaller vir Suid-Afrika begin nou eers vorm aanneem. Volgens data van die JSE het buitelandse beleggers verlede week ’n netto R14,6 miljard aandele gekoop, die grootste kapitaalinvloei in een week sedert Maart 2009. Buitelanders het ook R5,9 miljard se netto staats­effekte gekoop.
In die afgelope week het buitelanders meer gekoop. Tot Donderdag het buitelanders ’n netto R13,7 miljard se plaaslike aandele en weer ’n netto R5,9 miljard se staatseffekte gekoop.
In teenstelling met baie ekonome en ontleders se verwagtinge het internasionale beleggers nie weens Brexit-vrese risiko vermy nie, maar eerder meer risiko begin loop.
Dit is aangevuur deur ’n aanname dat sentrale banke wêreldwyd rentekoerse kan verlaag. Oor hoe volhoubaar die lopie is, is daar nog onsekerheid.
Sedert sowat 52% van die Britte gekies het om die EU te verlaat, het aandelemarkte in Brittanje, Amerika en Suid-Afrika amper die volle verliese wat hulle daardie dag gely het, uitgewis.
Die JSE se indeks vir alle aandele het verlede Vrydag van 53 585 punte tot 50 086 gedaal, maar teen sluitingstyd Vrydag tot 52 334 herstel.

Geldeenheid
Die rand het van R14,41 verlede Donderdag tot R15,46 Maandag teenoor die dollar getuimel, maar Vrydagmiddag tot R14,61 verbeter.
Weens die onsekerheid wat Brexit oor Brittanje se ekonomie skep, was daar ’n slagting in die waarde van die pond. Die rand het in die afgelope maand met 15,9% teenoor die pond versterk – van R22,49 tot R19,40.
Mohammed Nalla, hoof van strategiese navorsing van Nedbank Capital, sê ontleders het die mate onderskat waartoe vrese van ’n Brexit die Amerikaanse Federale Reserweraad (Fed) sou beïnvloed om ’n rentekoersverhoging uit te stel. Daar is nou handelaars wat verwag dat Amerika eers in 2018 weer rentekoerse sal verhoog, berig Bloomberg.
“Die mark reageer eintlik meer op Amerika as op Brexit,” sê Nalla. Die verwagting dat Amerikaanse rentekoerse nie nou verhoog gaan word nie, lei daartoe dat beleggers in meer riskante lande wat hoër opbrengskoerse bied, soos Suid-Afrika, belê.
Sulke waagmoed is goed vir die vooruitsigte van die rand, inflasie en wêreld-aandelemarkte.
Buitelandse geld vloei ook na ander ontluikende lande, sê Nalla.
Hy waarsku egter die lopie kan kortgeknip word omdat daar nie noodwendig oortuigende redes vir die Amerikaners is om rentekoersverhogings uit te stel nie.
Jean-Pierre du Plessis, ’n vasterente-strateeg van Prescient Investment, sê die negatiewe verwagtinge oor Amerikaanse rentekoerse is “heeltemal oordrewe”.
“As jy kyk na die verbetering in die Amerikaanse ekonomie en werkloosheidskoers wonder ’n mens waarom die Fed nie rentekoerse verhoog nie . . .”
Du Plessis sê die mark se geloof dat sentrale banke elke keer gaan ingryp as die wêreldekonomie pap lyk, is gevaarlik, want dit is nie ’n uitgemaakte saak nie.

Onsekerheid
John Cairns, ’n valutahandelaar van RMB, sê ander plaaslike nuus het ook die rand in die afgelope week ondersteun, onder meer dat die Mededingingstribunaal die samesmelting van die bierreuse Anheuser-­Busch InBev en SABMiller goedgekeur het, onderhewig aan sekere voorwaardes.
Wanneer die transaksie van US$104 miljard voltooi word, sal dit tot groot buitelandse kapitaalinvloei na Suid-Afrika lei.
Suid-Afrika het in Mei ook ’n handel­surplus van R18,7 miljard aangeteken, die grootste maandelikse handelsurplus nog. Ekonome het volgens ’n Bloomberg-peiling ’n surplus van net R4,1 miljard verwag. Die groot handelsurplus dui egter ook op ’n daling in die vraag na invoergoedere, sê Kevin Lings, ekonoom van Stanlib. Die Switserse beleggingsmaatskappy Credit Suisse sê Suid-Afrika en Mexiko se geldeenhede het die afgelope week die sterkste vertoning gelewer omdat dit baie ondergewaardeer is. Maar volgens Credit Suisse sal die rand se versterking nie volhoubaar wees nie weens die land se sterk finansiële bande met Brittanje.
Onsekerheid is aan die orde van die dag vir die volgende paar maande en jare. Britse politici moet op die volgende stap besluit, en die Britse The Independent berig een uit elke tien Britte glo ’n Brexit gaan nie regtig gebeur nie.
Volgens ’n Opinium-peiling is tot 7% van die “verlaat”-stem­mers, sowat 1,2 miljoen mense, spyt oor hul besluit. Dit het gelei tot ’n nuwe term: “Begret”.
As hulle hul stemme sou kon terugneem, is die “verlaat”-meerderheid so te sê uitgewis. Die Britte is nou verdeeld oor die prioriteite vir die onderhandelings. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!