u2019n Buchter met hart en siel
u2019n Buchter met hart en siel

’n Buchter met hart en siel

Ná sy soektog na ’n plek ‘waar dit nooit reën nie’, het Crispin Clay het ’n tuiste vir sy passievolle ywer gevind.
Tanja Bause
Tanja Bause - Crispin Clay is nie in Lüderitz gebore nie, maar sy passie vir die dorp, die omgewing, sy mense, kultuur en geskiedenis maak hom in enigiemand se boek ’n volwaardige Buchter.

Hy werk al vir jare aan die voorpunt om die dorp van ekonomiese ondergang te red, toeriste te lok en die erfenis te bewaar.

“Ek kom uit ’n familie wat wêreldwyd bekend is en dit is baie groot skoene om te vul. My oupa was lord Robert Baden-Powell, wat die stigter van die Padvinder seunsbeweging was en saam met sy suster Agnes die Padvinder meisiesbeweging begin het.”

“Hy het ’n boek vir jong mans met die titel Paddle your own boat geskryf, wat ek gelees en as my mantra geneem het.”

Crispin is in Zambië gebore en het daar grootgeword. Hy is later Brittanje toe om te gaan studeer.

“Ná drie jaar se nat, winderige, koue Walliese weer het ek besef dat ek psigologies allergies is vir reën. Ek het vir my ouers gesê dat ek na ’n plek gaan soek waar dit nooit reën nie. Dié plek het ek hier in Lüderitz gevind.”

Voordat hy egter Lüderitz toe getrek het, het hy vir drie jaar Engelse onderrig by ’n skool in Windhoek gegee. Hoewel hy van die kinders en die klasgee gehou het, het omstandighede hom gedwing om te bedank.

“Ek wou trou en het onder meer besef ons sal nie van my salaris kon lewe nie. Ek het bedank en ’n bottelstoor in Lüderitz gekoop en getrek. Ek het die bottelstoor vir die volgende 39 jaar besit.”

‘GEDOEN WAT ONS KON’

Teen die middel 1970’s het Crispin agtergekom die klein dorp is in ’n ernstige resessie en het dringend hulp benodig.

“Ek het gedink ek hier en daar kan bydra om die dorp te red. Ek het onder meer binne drie jaar 22 verhoogvertonings na Lüderitz gebring. Ek het egter besef ek betaal uit my eie sak vir die plesier van die inwoners en dat ek dit nie regtig kon bekostig nie.”

Hy het ook die Lüderitz-stigting op die been gebring wat vandag nog aktief is.

“Daar was geen dorpsraad het nie, nadat Lüderitz in 1987 bankrot verklaar is, maar ons as die stigting het allerhande planne begin maak om te red wat ons kon.

“Die eerste stap in 1981 was om toeriste na Lüderitz te lok en die maklikste manier om dit te doen, was om feeste aan te bied. Die eerste groot fees waarvan ek die voorsitter was, was Lüderitz se eeufeesviering in 1983. Dit was ’n reuse-sukses, maar volgens my net die toetslopie, omdat vyf jaar later die 500-jarige Dias-fees internasionaal gevier sou word en ons deel daarvan moes wees.”

Crispin was in Kaapstad op die Dias Nasionale Feeskomitee aangestel om Namibië te verteenwoordig.

“Ons het die fees baie suksesvol aangebied ’n paar maande voor die land se onafhanklikheidsproses begin het.”

Dié twee feeste en die reëling daarvan was hoogtepunte vir Crispin.

“In 1986 het ek, my vrou en ons seun per trein na Suid-Afrika gereis. Hy is in die Drakensberg Seunskoor aanvaar en ons het hom na die skool vergesel. Tydens die reis het ek ’n lied Sing a song for Dias vir die koor geskryf. Die koor het net uit seuns bestaan; net so was Bartolomeu Dias se bemanning net mans. Van Dias se reis is ’n musiekblyspel gemaak en uitgevoer by al die plekke waar 500-jaarvieringe gehou was. Ek was baie trots, omdat die Drakensberg Seunskoor die enigste groep uit Suid-Afrika was wat toegelaat was om oral op te tree te midde van destyds se internasionale kultuurboikot teen die land.

“Die toewyding en passie wat Dias en Adolf Lüderitz gehad het vir wat hulle doen, was nie bloot uit nuuskierigheid nie. Hulle was toegewyd tot die moontlikhede van wat hulle kon ontdek. Op ’n manier is dit soos my eie passie om Lüderitz van ekonomiese depressie te red.

“Ons het gedoen wat ons kon; die meeste hiervan nooit opgeteken nie, behalwe in ons eie notules van vergaderings. Maar dis nie die punt nie, die punt is wat sou gebeur het as ons dit nie gedoen het nie?”

1990 EN DAARNA

Ná onafhanklikheid het Lüderitz begin ontwikkel en het ook weer ’n eie dorpsraad gekry.

“Ons het in 1993 die teerpad gekry. Onthou, in 1974 is die pad net vanaf Lüderitz tot Aus en vanaf Keetmanshoop tot Seeheim geteer. Die sowat 110 km tussen Aus en Seeheim was nooit geteer nie; daar was net nooit genoeg geld nie.”

“Nou het ons ’n teerpad gekry, maar terselfdertyd het die spoorlyn uitmekaar geval. Met ons eeufees het ons gereël dat ’n trein vir 400 mense Lüderitz toe kom. Met die Dias-fees het hulle nog ’n disko-wa agteraan gehaak wat baie gewild was. Jy kon in die aande die wa van kant tot kant sien swaai.

“Van toe af het daar elke jaar ’n spesiale Paasnaweektrein en ’n Julie-vakansietrein dorp toe gekom; totdat dit in 1996 rond gestop is omdat die spoorlyn te gevaarlik vir passasierstreine geword het.”

Die dorp het begin ontwikkel namate verskeie visfabrieke geopen het toe viskwotas aan die dorp toegeken is – nie soos voor onafhanklikwording toe kwotas aan Suid-Afrika, of dan Walvisbaai, toegeken was nie.

Die Lüderitz-stigting het dormant geword totdat dit in 2008 weer in die lewe geroep is.

“Iemand het my kom vra of die stigting die Dias-paneel wat by die dorpsraadkantoor aangebring is se glas kan vervang wat stukkend geslaan is nie. Ons het dit gedoen en vyf jaar later het iemand met ’n voorhamer probeer om die 19 mm dik gepantserde glas te breek. Ek kan nie verduidelik hoe iemand so iets kan doen nie; sulke vandalisme gaan my verstand te bowe.”

In 2014 het die ou houtbrug wat oor die getyrivier na die Diaz kruis toe gelei het, in duie gestort.

“Ek het in Julie daardie jaar talle briewe aan mense geskryf dat die brug dringend herstelwerk benodig en nie meer veilig was om te gebruik nie. Op 8 November het die dorpsraad die brug afgesper en borde opgerig dat dit gevaarlik is om daarop te loop. Sewe dae later het die brug in duie gestort.”

Crispin het die Dias Bridge Committee in die lewe geroep en geld vir die bou van ’n klipbrug begin insamel.

“My droom was om ’n Portugese boogbrug uit klip te bou. Maar dit sou N$4 miljoen kos en dit was te veel. Ons het nou besluit om ’n laagwaterbrug vir N$2 miljoen te bou. Tenders is reeds uitgegee en die geld is deur die komitee en die dorpsraad beskikbaar gemaak. Ons hoop die brug sal teen einde van die jaar klaar wees.”

Crispin is deesdae ’n toergids en met passievolle vertellings wys hy sy dorp en omgewing aan toeriste wat met passasiersbote in Lüderitz aankom.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!