'n Dekade van koffiekultuur gevier

Slowtown is meer as net lekker koffie, dit is 'n leefstyl.
Tanja Bause
Tanja Bause – “Ek het 'n lys van dinge gemaak waaroor ek passievol is. Op die lys was onder meer wyn, branderplankry, Grand Prix en koffie. Ek het na die lys gekyk en na iets gesoek wat besigheidsin maak en op koffie besluit. Vanjaar is Slowtown tien jaar oud en hoewel dit aan die begin nie maklik was nie, is ek nie spyt nie,” het Dennis de Wet (40), eienaar van Slowtown Coffee Roasters, gesê.

Dennis het op Swakopmund grootgeword en nadat sy familie Kaapstad toe getrek het, het hy sy hoërskooljare daar voltooi.

“Ek het by die Universiteit Stellenbosch my honneurs in BCom: finansiële ontleding verwerf. Ná my studies het ek daar by 'n maatskappy begin werk wat 'n klomp eiendomme besit het.”

Dieselfde maatskappy het hom na die Eiland Man tussen Ierland en Engeland gestuur.

“Die aanvanklike plan was dat ek vir vyf jaar daar sou bly, maar ná een jaar het ek besef dit is nie vir my nie. Ek kon nie langer in die korporatiewe omgewing werk nie. Ek moes uit die kantooromgewing kom en iets vind wat my gelukkig sou maak.”

Dit was in 2008 toe die globale finansiële resessie begin het en Dennis het gedink dit is nou die tyd om 'n nuwe rigting in te slaan en iets te soek waarvoor hy lief is.

Hy het 'n lys opgestel oor dinge waaroor hy passievol is.

“Ek het noukeurig na alles gekyk en alhoewel ek passievol oor alles daarop was, was alles nie moontlik nie.

“Om my passie vir branderplankry te vervul, sou ek Australië toe moes trek. Vir die Grand Prix sou ek te veel op die pad wees en wyn is 'n moeilike bedryf en ek het nie geglo dit is lewensvatbaar in Namibië nie. Ek het geweet ek wil graag terug na Swakopmund trek en koffie het al hoe meer sin gemaak.

“Almal drink koffie, maar niemand verstaan dit nie. Die koffiebedryf was besig om in Suid-Afrika vlam te vat, maar hier in Namibië was die bedryf nog aan die slaap.”

Dit het hom egter nie afgeskrik nie en hy het na 'n geskikte plek vir sy koffiebrandery begin soek.

“'n Vriend het 'n winkel op Swakopmund gehad en gesê ek kan die helfte daarvan vir my koffiebrandery en winkel gebruik. Dit was tien jaar gelede.”



KOFFIEKROEG

“Ek het van die idee van mense in 'n koffiekroeg gehou. 'n Kuierplek waar mens bymekaarkom en gesels oor 'n koppie koffie. Jy breek op met jou meisie, vra die pa of jy kan trou, doen besigheid, vang op met ou vriende. Alles oor 'n koppie koffie.”

Dennis sê hy het snags wakker gelê en oor 'n naam vir sy besigheid gedink en op Swakopmund is alles reeds stadiger.

“Ek wil die teenoorgestelde van kitskoffie wees, wat vinnig en gejaag is. Ons mis oomblikke omdat die lewe vinnig en haastig is. Ons mis die hele proses. Koffie en die maak daarvan is 'n proses. Wanneer jy by die werk is, moet jy natuurlik jou koffie maak, dit drink en werk, maar as jy in 'n koffiekroeg sit, geniet elke oomblik. Sit jou telefoon neer en wees net in die oomblik. Slowtown is 'n simbool nie net vir die dorp nie, maar vir die leefstyl.”

Stadig maar seker het Dennis die Slowtown-handelsmerk begin opbou en mense begin opvoed, nie net in die verskillende koffie uit verskillende lande nie, maar ook oor die verskillende maniere hoe koffie voorberei kan word.

“Ek het in die aande die koffiebone gerooster en die koffie verpak. Gedurende die dag het ek bestellings gevat en koffie verkoop. Ek het die besigheid koppie vir koppie opgebou. Wat vir my die grootste plesier verskaf, is kliënte wat keer op keer terugkom om nog 'n koppie koffie te proe totdat hy of sy die koffie vind wat vir hulle die lekkerste is. Wanneer dit gebeur, het ek geweet ek doen iets reg.”

Dennis het 'n noue verhouding met die koffie-invoerders in Suid-Afrika waar hy sy koffiebone aankoop.

“Hulle verskaf bone van goeie gehalte uit verskillende lande wat ek dan aankoop en hier op Swakopmund rooster.”

Volgens Dennis is daar nie 'n enkele kursus waar jy alles oor koffie kan leer nie en is dit 'n bietjie van 'n leer uit jou foute totdat jy die perfekte manier –vind wat jou koffie uniek maak.



UITBREIDING

Slowtown op Swakopmund het te klein geraak en die brandery is verskuif sodat die koffiekroeg groter gemaak kon word.

“Ons het die brandery Swakopstraat toe verskuif waar ons ook koffie verkoop en ons het die eerste koffiekroeg uitgebrei. Ons het ook winkels in Windhoek in die Grove- en Maerua-inkoopsentrum en in Onafhanklikheidsrylaan. Op Walvisbaai is daar ook 'n Slowtown.”

Intussen het Slowtown uitgebrei en verkoop hulle nie net koppies koffie of gemaalde koffiebone in hul winkels nie, maar ook verskillende toestelle om self koffie te maak, asook ander handelsware soos koppies of hoedens.

“In besigheid is dit altyd belangrik om uit te brei en na ander moontlikhede te kyk. Ons hoofinkomste is die gemaalde koffiebone wat ons onder meer aan hotelle en lodges verskaf, asook die masjiene en toebehore wat daarmee gepaard gaan. Ons het koffiemasjiene vir een persoon; een waar jy die bone self moet maal voordat jy die koffie kan maak. Baie mense vind dié proses terapeuties. Ander wil net 'n knoppie druk en hulle koffie drink. Ons kan sulke masjiene ook verskaf. Ons het masjiene wat in almal se behoeftes sal voorsien. Die belangrikste is die proses van koffiemaak moet vir jou lekker wees.”



TOEKOMS

“In Namibië wil ons die groothandel, die verkoop van die gemaalde koffiebone, toerusting en die opleiding uitbrei. Ek kyk ook daarna om na Suid-Afrika uit te brei. Ek kry baie oproepe van Namibiërs wat daar woon of mense wat hier was wat nou die koffie in Suid-Afrika soek. Ons voer alles vanaf Suid-Afrika in, hoekom kan ons nie soontoe uitvoer nie?”

Dennis het sy oë op Europa en is hoopvol om oor tien jaar daar te kan wees.

“Ek het volle vertroue in ons produk. Mense uit Europa en Amerika kontak my oor koffie. Hulle was in Namibië en wil iets saamvat wat hulle aan hulle tyd hier laat dink. Iets wat hulle terugvat na hulle tyd hier.”

“Dit is vir my baie lekker om byvoorbeeld 'n groep vroue te sien wat een keer 'n week in die koffiekroeg kom sit en gesels. Slowtown word deel van hul daaglikse lewens. Dit is 'n plaaslike produk; mense sê as ek op reis gaan, vat ek my Slowtown saam omdat ek nie ander koffie wil drink nie.

“Die winkel het ook baie goed gedurende die Covid-19-pandemie gevaar, omdat die plaaslike mense ons so goed ondersteun het. Dis hulle wat elke dag weer kom, dit gaan nie net oor die koffie nie, maar oor die kultuur.”



RAAD

“So baie mense sê hulle haat hul lewens, maar besef nie hulle het 'n keuse nie. Niemand hou 'n geweer teen jou kop om daar te wees nie. Jy moet die verandering maak en ja, dit kan 'n risiko wees, maar ten minste het jy probeer. Ek stem saam nie almal is gemaak om hul eie besigheid te begin nie. Verander van bedryf of kry 'n beter plek om te werk. Doen iets waarvan jy hou.

“As jy iets doen waarvan jy hou, sal jy passievol daaroor wees en as jy passievol oor jou werk is, sal jy goed in jou werk wees. Dit is jou keuse; niemand gaan dit vir jou doen nie.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!