'n Dekade van liefdadigheidswerk

’n Foto spoor vir Dieter Maree aan om te gee
Tanja Bause
Tanja Bause



Sowat tien jaar gelede het mnr. Dieter Maree 'n foto in 'n plaaslike koerant gesien wat sy lewe handomkeer verander het. Die foto was van 'n klein meisie, Claudia, wat saam met haar familie op die vullis­hope buite Okahandja gewoon het. Maree het navrae oor die foto gedoen en uitgevind waar en wanneer dit geneem is.

“Ek het ná sowat agt jaar in die buiteland teruggekeer Namibië toe ek die koerantberig sien. Ek het daar en dan geweet ek moet 'n verskil in die lewens van mense maak.

“Ek het 'n groot pot gehad en kos van vriende gekry en begin kosmaak. Ek en vriende het met 25 bakkies kerrie-en-rys Nau-Aib toe gery en vir Claudia en haar familie gaan soek om vir hulle kos en klere te gee. Dit is hoe ek in gemeenskapswerk betrokke geraak het. Tien jaar later doen ek dit nog steeds,” het hy gesê.

Ná die uitreik na die mense op Nau-Aib se stortingsterrein het hy onmiddellik met planne begin om nog meer uitreikwerk te doen.

“Ek het begin om klere, kos en toiletware in te samel en uit te deel. Ek het met die manne wat op Windhoek se strate woon kennis gemaak en hulle begin help.”

Dit pla hom min dat die projek nie 'n naam het nie.

“Die naam is nie belangrik nie; wat wel is, is die werk wat ons insit en die mense vir wie ons help. Ons is bloot 'n klomp mense wat ander mense kán en wíl help.”

Sy hulp is nie beperk tot klere en kos nie. Hy help ook met die aankoop van skooluniforms, skoolboeke en voor onderwys verniet was, het hy talle kinders se skoolfonds betaal.

“Ons help waar ons kan en gewoonlik wanneer ons help, sien ons 'n ander nood wat ons kan verlig.

“Ons was besig om bome op boomplantdag op Karasburg te plant toe die een man van Karasburg ons vertel die winters in die Suide raak baie koud. Hy het gesê die kinders het dikwels nie genoeg warm klere nie.

“Dit is hoe ons wintersprojek vir die Suide begin het. Ons gee vir die afgelope paar jaar vir mense in die Suide – veral komberse.”

Maree het ook talle bome in Windhoek geplant wat hy op Sondae natlei. Een Sondag het 'n man wat langs die straat staan en werk soek vir hom gevra of hy van die water kan kry omdat hy baie dors is.

“Ek het besef die mense kom van ver af om werk te soek; sonder kos en water sit hulle daar en hoop. Dit is hoe die Sondag brunch-projek begin het. Nou maak ons Sondae kos en lewer dit met water by die manne af.”

Hy is tans besig om Kersfeesbokse vir 200 kinders op Otjinene bymekaar te maak.

“Vir die laaste uitreik van die jaar wil ons Otjinene toe gaan en vir 100 seuns en 100 meisies gelukkig maak. Ons wil op 12 Desember die presente gaan uitdeel en is op soek na Krismisbokse waarin verkieslik een koekie seep, waslappie, tandepasta, tandeborsel, potjie petroleumjellie, lekkers, kleurpotlode, 'n kinderboek en 'n speelding moet pas.

“Mense kan hul verbeelding 'n bietjie laat gaan om die boks prettig en opwindend te maak vir 'n kind wat niks het nie. Die boks word dan in Kerspapier oorgetrek en met 'n plakker voorsien wat byvoorbeeld aandui dis vir 'n meisie van drie- tot vierjarige ouderdom.”



OUD EN JONK

Dieselfde dag word ook kos uitgedeel en die dag word met waatlemoene afgesluit.

“Ek is ook op soek na mense wat nie net 'n boks wil skenk nie, maar saam wil kom en die dag saam met die kinders wil bestee; wat Kersliedere wil sing en waatlemoene wil oopsny.”

Hulle wil ook graag 'n paar kospakkies aan die bejaardes, sowel as waardigheidspakkies aan die jong meisies uitdeel.

“Gemeenskapswerk is soos 'n rollende bal. Ek sê nie jy moet my projek ondersteun nie; ek sê net almal kan iemand help. Kom bymekaar as 'n groep vriende, as drawwers, as hondeliefhebbers, kollegas, ek gee nie om nie, maar kom bymekaar en help iewers of iemand. Dit hoef nie groot te wees nie of baie te kos nie; soms is die tyd wat jy gee genoeg, maar doen iets om die lewe vir iemand anders te verbeter, makliker te maak of op te helder,” het Maree gesê. 

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!