'n Deurbraak vir allergiese rinitis
'n Deurbraak vir allergiese rinitis

'n Deurbraak vir allergiese rinitis

Gerine Hoff
’n Behandeling vir allergiese rinitis en chroniese spontane urtikaria (CSU) wat onlangs in Suid-Afrika goedgekeur is, word deur kenners as ’n eerste en ’n deurbraak bestempel.
’n Allergiese reaksie behels twee fases: Die aanvanklike simptome, soos nies en jeukerigheid, en ’n tweede piek ses tot 12 uur later, wat deur ’n toe neus gekenmerk word.
Gewone antihistamiene teiken slegs die eerste fase, wat deur histamiene veroorsaak word. Die tweede inflammatoriese fase word aan die gang gehou deur plaatjie-aktiveringsfaktor (PAF), bloedselle wat deel is van die allergiese reaksie wanneer dit geaktiveer is.
Die middel rupatadine, beskikbaar in die handel as Rupanase, inhibeer sowel histamiene as PAF-reseptore.
“Dit slaan twee vlieë met een klap,” sê dr. Corli Lodder, ’n algemene praktisyn van Alberton met ’n spesiale belangstelling in allergieë en asma.
Waar ’n pasiënt gewoonlik weer antihistamiene sou moes neem om die tweede fase se simptome hok te slaan, bring een dosis rupatadine langtermyn-simptoomverligting.
“Veelvuldige studies het bewys dit is baie effektief en dit het beter as sekere ander antihistamiene gewerk,” sê dr. Willie Visser, hoof van dermatologie aan die Universiteit Stellenbosch
Dit is die eerste middel wat antihistamiene en anti-PAF kombineer.
Anti-PAF is veral belangrik vir die behandeling van CSU, waarin PAF ’n rol speel.
Dit word gekenmerk deur galbulte, eriteem (kollerige rooiheid van die vel wat bleek word as daarop gedruk word) en jeukerigheid oor die hele lyf. Dit gaan soms gepaard met angio-edeem (swelling van die gesig, veral rondom die mond en oë).
“Dit is normaal om te kry as jy allergies vir iets is,” sê Visser. “Maar ons het ’n groep pasiënte wat dit nie kry omdat hulle allergies vir iets is nie.”
Die oorsaak is hoofsaaklik outo-immuun van aard, sê hy.
“As jy langer as ses weke urtikaria het, met of sonder angio-edeem, dan het jy chroniese, spontane urtikaria.”
Die galbulte verskyn en verdwyn weer binne ’n kwessie van ure, maar die toestand is chronies en kan jare neem om op te klaar.
Dit word meestal met hoë dosisse antihistamiene behandel – soveel soos vier keer die aanbevole dosis. Dit is dikwels nie doeltreffend nie en verhoog die risiko van newe-effekte van die medikasie.
“Daar is baie pasiënte wat nie goed reageer op net die gewone antihistamiene nie.”
Studies het egter gewys die meeste van die pasiënte met CSU het verbetering getoon wanneer hulle met ’n standaarddosis rupatadine behandel is.
Rupatadine is veilig en hou nie soos ander antihistamiene ’n risiko vir hartgeleiding in wanneer dit in hoë dosisse geneem word nie, sê Visser.
Dit is ook minder geneig om lomerigheid te veroorsaak.
Dit hoef net een keer elke 12 uur in pilvorm geneem te word. Dit is met of sonder ’n voorskrif beskikbaar en is veilig vir kinders en volwassenes ouer as 12 jaar, maar is nie geskik vir swanger vroue nie. – Netwerk24/Rochelle Human

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!