Ná die storms wag vermaaklike eindstryd

Wanderers-rugbyklub, steeds in sy 100-jarige bestaansvieringe, het die stryd gewonne gegee dat Western Suburbs hom in die eindstryd teen Unam vervang.
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Vyf weke later as wat geskeduleer is, behoort môre se Premierliga-eind­stryd uiteindelik 'n respektabele afsluiting van die Namibië Rugbyunie se onstuimige klubseisoen te bring.

FNB Universiteit van Namibië, wat boaan die puntelys geëindig het en FNB Rehoboth in 'n naelskraapse halfeindstryd (27-24) uitgeskakel het, sal egter teen 'n nuwe teenstander opgeweeg word.

FNB Western Suburbs is tot die eindstryd bevorder ten spyte dat hy sy halfeindstryd op 16 Oktober by FNB Wanderers met 20-13 verloor het. Die Khomasdal-klub het agterna 'n klag teen Wanderers ingedien vir die beweerde gebruik van onkiesbare spelers in beide die premier- en reserweliga-halfeindstryde.

Ná weke se prosedurele vertraging het die dissiplinêre komitee uiteindelik 'n skuldigbevinding teen Wanderers gelewer, wat gevolglik die oorwinnings van beide hul eerste en tweede span verbeur.

Willem van Zyl, voorsitter van Wanderers-rugbyklub, het dié week bevestig dat die klub (ten spyte van stewige gronde) hul appèl teen die uitspraak onttrek het – vanweë redes wat die klub en hul regsverteenwoordiger binnekort bekend sal maak.

“Sonder om die spel in oneer te bring, sal ons ons kant van die storie voorstel, want wat almal gedink het gebeur het, is glad nie die geval nie,” het Van Zyl gesê.

“Dit het alles te doen met verskillende interpretasies van reëls wat onduidelik is en wat grys areas bied. Ons sal meer besonderhede bekend maak sodra ons ons skriftelike antwoord afgehandel het.”

Wanderers, wat hierdie seisoen twee keer verloor het (teen FNB Rehoboth en FNB Reho Falcon, albei weg) en die enigste span is wat sedert April 2016 'n ligawedstryd by die Unam-stadion gewen het, word in die eind­stryd vervang deur Suburbs, wat vier nederlae gely het, insluitend die halfeindstryd.

Die feit dat afrigter Rohan Kitshoff se Wanderers-span hoogs gemotiveerd sou gewees het om met nog 'n ligatitel die klub se eeufeesvieringe 'n hupstoot te gee wat sedert verlede jaar deur die Covid-19-pandemie ontspoor is, het die 2021-eindstryd van nog 'n mededingende element beroof.

Die uiters frustrerende gewag vir die formaliteite in die raadsaal om voor môre se eindstryd afgehandel te word, het ook gedwonge veranderinge meegebring in die personeel wat spesifiek by Unam beskikbaar is.

Ondanks tuisvoordeel het Unam op 9 Oktober vir Western Suburbs met net sewe punte (36-29) geklop in hul enigste ontmoeting vanjaar, op die laaste naweek van die enkelronde-ligaseisoen.

Unam, kampioenspan van 2015, 2016 en 2017, het opnuut boaan die puntelys geëindig en sal onder hoofafrigter Johan Diergaardt altyd 'n sterk uitdaging bied.

Die klub het egter ook die afgelope tyd ietwat van 'n slagoffer van sy eie sukses geword en moes sy topspelers vervang wat na professionele kontrakte in Europa gelok is, asook die vleuel Oderich Mouton en heelagter Lorenzo Louis afstaan aan die nasionale span wat Zimbabwe, Kenia en Brasilië tans in 'n vierhoekige toernooi op Stellenbosch pak.

Die stut Wilfred Saunderson het 'n eenjaarkontrak opgeneem om klubrugby vir Ponsania in Pole te gaan speel, terwyl die talentvolle Chad Plato, vleuel van die Wêreldbeker-toernooi in 2019, glo ook na 'n onbevestigde klub in Wes-Europa op pad is.

Prins !Gaoseb (flank) en Max Katjijeko (slot of flank) is weg na klubs in onderskeidelik Israel en Spanje, terwyl Peter Diergaardt (flank) saam met die Western Suburbs-senter PJ Walters 'n klubgeleentheid in Tsjeggië aangegryp het.

In !Gaoseb se afwesigheid het nog 'n flank, Cameron Langenhoven, die kapteinskap oorgeneem, maar dié is saam met die hakers Shaun van Wyk en Bigman Kaura moontlik op die krukkelys.

Teen druktyd het geen van die twee finalisklubs nog hul wedstrydgroepe vrygestel nie.

Aan die Western Suburbs-kant is die stut Chemigan Beukes hul enigste verteenwoordiger in die nasionale span in Stellenbosch, wat dus die klubeindstryd sal misloop. Die klub se agterspelers Ricardo Swartz, Gino Wilson en PJ Walters was in Juliemaand op Namibië se toer na Ivoorkus, maar is nie weer gekies is.

Môre se reserweliga-eindstryd, waaruit die titelhouer Wanderers II ook geskors is, sal nou tussen Western Suburbs en FNB Kudus II betwis word.

• Namibia Media Events sal albei eindstryde môre regstreeks vanaf Hage Geingob uitsaai (afskoptye 13:45 en 16:30).

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!