'n Ding vir 'n ovaalbal
Die Wêreldbekerrugbytoernooi skop op 20 September in Japan af – die eerste keer wat dit in Asië, buite die tradisionele hartland van rugby, gehou word.
En skielik voel vier jaar gelede soos gister. Eerste op die lysie was om alles van hemp tot serp tot keppie te kry wat wys “hier is 'n Namibiër”.
Langs die pad kry ons vlae, kleintjies vir in die hand swaai, grotes vir in die lug swaai of om die lyf draai. Op elkeen se rugsak word ook 'n vlaggie bo in die hoek vasgeplak.
Met die opklim op die vliegtuig oor die waters Londen toe is almal in die familie in 'n Namibiese T-hemp geklee. Kyk, as jy toe nog nie geweet het vir wie ons skree nie, het jy beslis 'n sigprobleem. Reeds met die afklim van die vliegtuig af op Heathrow is met die stempel van die paspoort gevra of ons daar is vir die rugby. En as Namibië in Afrika is, is dit in Suid-Afrika?
Ons bly in 'n kosmopolitaanse buurt met klomp klein winkeltjies en kulture van oraloor die wêreld. Ons Boere-Engels gly gemaklik saam met die Engels wat gekleur is met aksente van properse Britse Engels tot Pakistanse Engels. Die hotel wat vir vyf dae ons tuiste is, word omring deur 'n keur van wegneemetes wat van hoenderboudjies en subs tot hamburgers insluit. Die moskee aan die oorkant maak ons soggens met hul oggendgebede wakker.
Saans maak ons die groot oopskuifvensters oop en sit in die reusevensterbanke en luister en kyk na almal wat verbyloop – veral die Engelse bergie wat vroegoggend met sy winkeltrollie verbyloop en vriendelik groet en vra of ons ook lekker geslaap het. Die oggend van die wedstryd is die lug skielik grys en hang die wolke swaar en dik. Tipies Namibiërs is ons bly vir die reën en verbeel ons ons ruik Afrika se nat grond in die Londense beton.
Die ontbyt is gepas properse Engels. Varkworsies, baked beans, eiers, spek en brood. Met die uitstap op pad na die stadion sif die reën in vlae neer. Die Namibiërs is bekommerd. Vir die eerste keer bekommer ons ons oor ons mede-Namibiërs wat later die dag die magtige All Blacks in The Stadium moet aandurf. Wat as hulle so bly soos ons is oor die reën en skoon vergeet om te duik en te skrum?
By 'n kroeg naby die stadion sien ons nog Namibiese vlae. 'n Gedeelde vlag en land word eensklaps 'n snoer wat ons saam in die vreemde oor baie Heinekens bind. Die nuwe vriendskappe word verseël met 'n Jägermeister, soos wat Namibiërs doen. Al verskil is dat die Jägermeisters in Londen nie yskoud bedien word nie, maar sommer so van 'n rak af gehaal en kamertemperatuur bedien word.
Op 'n dubbeldekkerbus in die hoek van 'n reuse- kuierarea word Namibiese vlaggies op ons wange geverf. Met die hulp van 'n karaokemasjien en beelde van duine in die agtergrond sing ons “Land of the Brave” asof ons deel van 'n massakoor is, en wen elkeen 'n sleutelhouer met die William Webb Ellis-trofee wat daaraan klingel.
Met die instap in die reusestadion word ons simpatiek op die skouers geklop wanneer gesien word die vlae wat ons swaai, is vir Namibië en nie die magtige All Blacks nie. Om die simpatie te beklemtoon, word ons op pad na ons sitplekke verskeie kere vir 'n swartbitter Guinness-bier in plastiekbekers gestick. Skuins voor ons is George Keegan en Sean Fitzpatrick met 'n regstreekse uitsending besig. Ons Namibiërs is letterlik 'n hand vol in 'n see van swart vlae, maar ons harte bars bo die stadion se omvoudakke uit.
Nooit as nooit se nimmer sal die trots, liefde en nimmereindige lojaliteit soveel wees as toe “Land of the Brave” The Stadium se sitplekke en gange gevul het nie.
Selfs nie eers toe die Namibiërs met 14 – 58 teen die All Blacks moet bes gee nie.
Met die uitstap word die simpatieke Guinness-biere van die All Blacks-ondersteuners vervang met 'n stywe handdruk, 'n klap op die skouer en 'n “your boys are amazing, you must be so proud”. Natuurlik is en was ons. Mag dit in 2019 weer so wees.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie