'n Droom kán die verskil in Afrika maak
Dit is nie verkeerd om van 'n beter wêreld in Afrika te droom nie, maar dan moet planne betyds in werking gestel word.
Liesl Louw-Vaudran
'n Vriend merk op dat ek Deon Meyer se Koors moet lees om te verstaan wat in die plattelandse gebiede van die Sentraal-Afrikaanse Republiek aangaan, asook in die ooste van die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK). En selfs dalk die noorde van Mosambiek.
Deon Meyer? Regtig?
Ek weet hy is die gewildste skrywer in Afrikaans, maar verkies tog maar my Nuruddin Farah of Tayie Selasi om iets te probeer verstaan van die siel van die vasteland.
Maar hy was reg. 'n Scenario waar alle tekens van beskawing uitgewis is en mense van hand tot mond leef en veg vir oorlewing is nie heeltemal vergesog in sekere oorloggeteisterde dele van Afrika nie.
In die plattelandse gebiede van Mosambiek se Cabo Delgado-provinsie – ja kom ons erken maar dat almal hulle oë daarvoor sluit en dit probeer wegwens – is 200 mense al wreed vermoor en hele dorpies afgebrand. Spookdorpies, vertel 'n kenner nou die dag vir my in Maputo.
Mense is te bang om in die landerye te werk uit vrees vir aanvalle deur die misterieuse bendes wat kwansuis Moslem-ekstremiste is, maar geen gesofistikeerde wapens of propaganda gebruik nie. Ons weet ook nie regtig wat die einddoel is van hul terreur nie.
Feit is dat mense teruggedruk word in 'n staat van oorlewing en vrees vir hul lewe.
En dan is daar, in skerp kontras, die droom vir 'n beter Afrika.
DLAMINI-ZUMA HET EERSTE GEDROOM
Soos Rapport die naweek tereg aangedui het, is dit eintlik Nkosazana Dlamini-Zuma wat eerste gedroom het – eintlik al in 2014 tydens 'n toespraak in Ethiopië. Skaam jou pres. Cyril Ramaphosa om haar so blatant te plagieer.
Sy het haar “drome” vir die eerste keer uiteengesit in 'n brief aan Kwame Nkrumah, oudpresident van Ghana, wat in 2063 geskryf sou wees – 'n honderd jaar ná die stigting van die Afrika-unie (AU) waarby hy betrokke was.
Sy skryf van nywerhede in die ooste van die DRK en in Zambië se kopergebied, Sillicon Valleys in Kigali en Maseru en hoëspoedtreine wat die vasteland deurkruis.
Haar “droom” het uiteindelik die AU se Agenda 2063 geword wat veronderstel was om dié unie se bloudruk tot 'n voorspoedige en vreedsame vasteland te wees. Natuurlik makliker gesê as gedaan.
Maar 'n mens moet glo daar is 'n kritieke massa van innoverende jong mense wat regtig spoorlyne van die Kaap tot in Kaïro wil aanlê en massiewe sonkraginstallasies in die woestyn wil oprig. En dat hierdie ontwikkeling betyds sal gebeur sodat mense nie moed verloor nie.
Mense moet genoeg hoop hê om te kan ontsnap van die skrik scenarios wat hulle voordoen.
Maar dan moet die tydsberekening reg wees.
Ek vra vir die Mosambiekse professor wat hy dink gedoen moet word aan die krisis in die noorde van sy land sodat dit nie hand uitruk nie. Nog soldate stuur om die moordbendes uit te wis, soos sommige voorstel?
Hy huiwer nie 'n oomblik nie: pomp onmiddellik soveel geld in die gebied in en skep soveel werksgeleenthede moontlik.
Skep vervaardigingsaanlegte. Cabo Delgado is baie ryk aan edelstene, hout en aardgas. Om die waarheid te sê, dit kan teen 2023 een van die grootste gasprodusente ter wêreld wees. Gee vir al daardie gefrustreerde jong mense hoop, 'n ideaal, iets om na te streef.
'n Droom kan die verskil maak, solank dit net betyds in werking gestel word, anders is dit dalk vir hulle te laat.
* Louw-Vaudran is 'n konsultant by die Instituut vir Sekerheidstudies.
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie