'n Eerste vir Afrika

Namibië sal die eerste land op die vasteland wees met 'n kliniek vir NeuroPhysics-terapie wanneer Anke Becker haar droom verwesenlik.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Haar lewe het ver draaie geloop voordat sy uiteindelik haar ware passie ontdek het.

Sy was van 'n paramedikus, 'n ambulanstegnikus en gewapende ­beskermingsbeampte tot 'n bestuurder vir lugvaartsekuriteit by die internasionale lughawe in Kaboel in ­Afghanistan.

Vandag het Anke Becker haar ­lewensdoel ontdek in oefeninge wat jou liggaam se ­natuurlike helingsprosesse deur ligte en beheerde oefeninge gebruik.

Tans is sy op Langstrand waar sy totdat sy weer wêreldreise kan aanpak, werk aan haar webtuiste as Afrika se eerste neuroterapeut (neurotrician). Sy hoop om haar droom van die vasteland se eerste kliniek vir Neuro­Physics-terapie hier te verwesenlik.

Anke vertel sy was nie gereed om ná matriek te gaan studeer nie en het besluit om eerder te gaan werk en geld te verdien.

In 2006 vra 'n vriendin of sy nie in Irak wil gaan werk nie. Haar baas was 'n vlieënier en het 'n kontrak gekry om kontrakteurs in die land as deel van Irak se heropbouprogram rond te vlieg.

Die kontrak het een gekwalifiseerde lugwaar­din op die klein vliegtuig vereis wat ten alle tye vir die duur van die kontrak ­beskikbaar sou wees. Twee mense was nodig vir 'n sesweke-rotasie.

“In daardie stadium in my lewe het ek baie min oor Irak geweet. Altyd lus vir 'n nuwe ervaring, het ek besluit 'kom ons gaan Irak toe!'” vertel Anke.

Die maatskappy het haar op 'n ses weke kursus gestuur om gesertifiseer te word.



VERVUL VELE ROLLE

Anke het die volgende tien jaar tussen Irak en Afghanistan bestee.

Wat begin het as 'n lugbemanningskwalifi­kasie, het gelei tot kwalifisering as medikus, Tussentydse ­Lewensondersteuning (ILS)-ambulanstegnikus, gewapende noue besker­mingsbeampte en later 'n bestuurder vir lugvaartsekuriteit by die Kaboel-lughawe.

“Dit was 'n pad gevul met vele rolle en verantwoordelikhede en ek kon saam met uiteenlopende kulture en gemeenskappe werk,” sê Anke.

Volgens haar het die dag van haar laaste kontrak in Kaboel soggens vyfuur begin waarna sy teen 06:00 met 'n ­gewapende voertuig en koeëlvaste baadjie na die lughawe geneem is.

“Jy beweeg net tussen jou werk en basis vir agt weke.”

Dié skedule is vir 'n week aaneen herhaal. Die roetine sou vir die daaropvolgende sewe dae na die aandskof verander waartydens sy vroegdag gelees, gestudeer en opleiding in die eerste helfte van die dag gedoen het.

Anke het een dag elke twee weke aftyd gehad om persoonlike administrasie te doen totdat dit tyd was om op verlof te gaan.

Verlof was vier weke onbetaald buite die land.

“Ek het gedissiplineerd gebly en dit was vir my lekker om my dae en week elke Sondag te beplan, so dit het goed vir my gewerk. Elkeen is anders, hul doelwitte verskil en elke persoon kom deur hul rotasie op hul eie manier.”

Anke is die dankbaarste vir die waardering vir die eenvoudige dinge wat sy oor die jare ontwikkel het. Dinge so alledaags as om kos te maak en die straat te kan afstap. Dit wat vir die meeste mense nie veel beteken nie, was juis dit wat sy gemis het wanneer sy op kontrak was.

Uiteindelik het sy haar doelwitte bereik as gevolg van waar sy gewerk het, erken Anke. Vandag is sy 'n gekwalifiseerde neuro­terapeut en het sy die voorreg om direk met fenomenale mense soos Ken Ware te werk. Tydens haar verlof het Anke na Thailand gereis en fiksheidskampe bygewoon.

In 2015 het haar crossfit-afrigters in Thailand, Luke en Elise Richmond, haar oor neurofisika-terapie en die effek daarvan op hul fisieke en geestelike uithouvermoë en herstel vertel.

“Hulle was die toonbeeld van gesondheid en fiksheid en ek was gefassineer.”

Anke wou die lewe ten volle leef en het besef neurofisika-terapie was 'n sleutel­element om dit te bereik.



NUWE BEGIN IN PHUKET

In 2016 bedank sy uit haar kontrak in Kaboel om 'n nuwe begin in Phuket in Thailand te maak. Teen dié tyd was Anke reeds 'n ­geregistreerde voedingsterapeut, hipnoterapeut en geïntegreerde leefstylafrigter met aanlyn sowel as aangesig-tot-­aangesig kliënte.

“Ek het verlief geraak op die gevoel om gesond en sterk te voel. Ek het vir tien jaar nie 'n tuisbasis gehad nie en wou vir 'n rukkie iewers nesskop.”

Hoewel kontrakwerk 'n uitstekende manier was om 'n bestaan te maak, het Anke gevoel sy kan nie haarself ten volle uitleef in wat sy glo haar ware doelwit was nie, naamlik om 'n diens te lewer wat meer tot haar gespreek het.

Sy was aangetrokke tot 'n eenvoudige leefstyl met 'n holistiese benadering. Anke het op vryskutgrondslag in Thailand tussen verskeie welstandsoorde gewerk, praatjies gelewer en kliënte gesien. Dit was in dié tyd dat sy met haar studies in NeuroPhysics-terapie begin het. Nadat sy oor jare ­verskeie modaliteite bestudeer het, sou sy uiteindelik in neuroterapie haar nering vind.

As gevolg van haar vorige ondervinding met verskeie kliënte deur ander ­modaliteite, kon sy met groter empatie en deernis na haar nuwe kliënte omsien.

Anke kwalifiseer aan die einde van 2019 as 'n gelisensieerde neuroterapeut en is amp­telik by die Association of Practising Neuro­tricians & Neurotricionists (APNN) ge­registreer. Voor sy gekwalifiseer het, het Anke die kliniek in Australië verskeie kere besoek om tyd saam met Ken en Nickie Ware te bestee.

Haar volgende stap in vroeg 2020 was om vir 'n onbepaalde tyd by hul kliniek aan te sluit. Maar toe tref die Covid-19-pandemie die wêreld en Australië sluit sy grense.

“Ek het vir agt maande sonder verlof in Kaboel gebly; niemand kon uitgaan of inkom nie. Die kennis wat ek deur die onderrig in NeuroPhysics-terapie en ook die programme opgedoen het, het my egter gehelp om die onseker en uitdagende tyd te bestuur.”

In November 2020 keer Anke na Afrika terug. Terwyl die meeste internasionale grense toe bly, besluit sy om haar toekoms op eie bodem te beplan.



WEERSTANDOEFENINGE

Sy beskryf Ken Ware NeuroPhysics-terapie as “'n uiters sagte oefeninggebaseerde behandeling wat jou liggaam se natuurlike helingsprosesse deur baie ligte en beheerde weerstandoefeninge betrek”.

Die terapie het 'n tasbare en duidelike voordelige effek vir mense met 'n wye verskeidenheid van matige tot meer ernstige toestande – wat afwykings, beserings of siektes tot atletiese prestasiedoelwitte insluit.

“Ken Ware NeuroPhysics-terapie is 'n ­gimnasiumgebaseerde program wat met neurotricionists in 'n gewone gimnasium gedoen kan word.

“Aanvanklik word 'n kliënt, afhangend van sy of haar persoonlike behoeftes en omstandighede, deur 'n neuroterapeut gelei. Die kliënt gaan dan op sy eie deur die program totdat hulle voel hulle is gereed om na die volgende program op te gradeer.”

Volgens Anke is die belangrikste beginsel van NeuroPhysics-terapie dat elkeen wat aan die program deelneem, daaruit voordeel trek.

“Dit maak nie saak of jy gewig wil verloor, stres by die werk wil bestuur, jou atletiese prestasie na die volgende vlak wil neem of bloot pynvry wil wees nie.”

Die tydsduur van een-tot-een-sessies kan volgens die kliënt se behoeftes wissel. Volgens Anke pas sy die beginsels van Neuro­Physics ook in alle aspekte van haar lewe toe. Die programme is ook “eindeloos” en volgens haar is dit nie nodig om ooit op te hou om dit te doen nie.

Anke sien gewoonlik 'n kliënt in vier tot vyf een-tot-een-sessies wat oor twee weke versprei word. Van daar gaan kliënte op hul eie voort en bespreek sy in opvolgsessies hoe hulle vorder en of 'n opgradering na die ­volgende program nodig is.

Sy het haar kwalifikasie aan die NeuroPhysics-sentrum in Australië aanlyn en op haar eie pas behaal. Wanneer die teoretiese komponent voltooi is, volg praktiese opleiding en evaluering by die klinieke in Australië.

Anke beklemtoon NeuroPhysics kan “die lewe van enigeen verander en verbeter wat ernstig daaroor is om beheer van hul lewe en welstand te neem”.

“Dit kan wissel van gewigsverlies, om meer energie te hê, meer ontspanne te wees of in jou sport uit te blink.”

Sy is tans in Langstrand waar sy aan haar webtuiste werk en wag vir die wêreld se grense om weer oop te maak.

Die ideaal is om 'n geskikte ligging te vind om haar dienste op 'n ad hoc-basis op ­Swakopmund of Walvisbaai aan te bied. Sy sal ook tussen Namibië en Suid-Afrika pendel om kliënte te sien.



LANGTERMYNDOELWIT

Haar langtermyndoelwit en droom is om haar eie NeuroPhysics-kliniek te open. Tans is daar wêreldwyd net 'n handvol klinieke wat in Australië en Nieu-Seeland geleë is.

“'n Kliniek van dié kaliber sal 'n eerste vir Afrika wees en watter beter plek as Namibië om daarmee te begin. Dit is maklik toeganklik van Dubai en die vrede en ­rustigheid van die land dra natuurlik ook by tot herstel en ontspanning, 'n wenkombinasie!”

Volgens Anke wil Ken Ware juis NeuroPhysics-terapie met die wêreld deel en dit toeganklik vir almal maak – 'n visie wat sy deel.

“Ek sien uit na die dag wanneer dit wêreldwyd as alternatiewe en goedgekeurde terapie erken word.”

In Australië word dit reeds deur die Nasio­nale Gestremdheidsversekeringskema as die “nommer een terapie vir rehabilitasie” erken. Vir meer inligting, stuur 'n e-pos aan [email protected] of gaan loer by www.neurophysicstherapy.global.

Anke se webtuiste behoort binne die volgende week bekend gestel te word. Sy is ook op Facebook by ankebeckernpt.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!