’n Engeljuffrou in die Ooste

Helené Bam
Helené Bam

“Stuur jou kind skool toe. Dit is die beste ding wat jy vir jou kind se toekoms kan doen.”
Só sê me. Maria Davids, ’n onderwyseres by Tui Ni Duse voorskool in Gobabis.
Onder die skadunet is drie vroue besig om in groot, blink potte vir meer as 80 woelwaters middagete te kook. Hier kry die kinders nie net elke dag ’n opvoeding nie, maar ook ’n maaltyd. Gedurende pouse skarrel en speel die kinders in die sand, met die skool se geliefde brak, Swartmond, wat lê en snork terwyl aan sy ore en stert getrek word.
“Hier is die kinders veilig. Hulle leer belangrike goed en ons berei hulle voor vir wanneer hulle graad 1 toe moet gaan,” sê Davids. Sy werk nou al meer as drie jaar as ’n onderwyseres en volgens haar doen ouers hul voorskoolse kinders ’n onreg aan deur hulle by die huis te hou.
“As jou kind by die huis is, het ’n mens nie altyd lus of tyd om konstruktiewe en leersame ­aktiwiteite saam met hulle te doen nie. Dit is ­belangrik dat hulle moet leer tel en dat hulle kleure, vorms en seisoene kan identifiseer vóór hulle die dag graad 1 toe gaan.”
Davids meen kinders wat voor­skoolse onderrig ontvang, het die potensiaal om beter op skool te vaar as kinders wat nié die geleentheid gegun is nie.
Een van die klaskamers is ’n ou tent met gate in die sypanele. Die tweede klaskamer is ’n vraghouer. “Dit raak baie warm hierbinne,” sê een van die kinders en vee die sweetdruppels van haar voorkop af voor sy weer buite in die sand neerplons en verder speel.
Die vaal mure van die vraghouer is met die kinders se kleurvolle kunswerke en tekeninge versier. Plak­kate met rympies en ’n daaglikse tyd­skedule, waarby daar streng gehou word, pronk ook teen die muur. Storieboeke, blokkies en kryte is op die rak gepak – hier word nie net gespeel nie, maar ook hard gewerk.
“So jonk soos wat die kinders is, hoop ek hulle sal glo hulle is tot enig­iets in staat. Om ’n kleuterskool en voorskoolse juffrou te wees, moet jy ’n vrou van liefde wees en ’n baie groot hart hê. Kyk al hierdie kindertjies; ek wil net die beste vir hulle hê. Hulle het ’n blink toekoms voor hulle omdat hulle hier by ons was,” sê Davids.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer