'n Fees van klassieke musiek

Yandi Du Plessis
Die Namibiese Nasionale Simfonieorkes (NNSO) sal sy heel eerste konsert vir 2021, die Classical Music Festival, op 13 Maart aanbied.

Dié aanlyn konsert sal aan jong talentvolle musiekstudente die geleentheid bied om saam met 'n strykorkes op te tree – soos die tradisie met die jaarlikse Baroque Festival was.

Die konsert sal begelei word deur die bekende dirigent, mnr. Alexander Fokkens, en word moontlik gemaak deur die finansiële ondersteuning van Bank Windhoek.

Die konsert word in samewerking met die Kollege van die Kunste (Cota) gereël.

Die coronaviruspandemie het musiekopvoerings vir ’n jaar lank laat stilstaan. Die direksie van die NNSO het besef die samelewing moet aanpas by die nuwe omstandighede. Musikante, soos kunstenaars, akteurs of atlete, het geleenthede nodig om op te tree om hul talente en vaardighede verder te ontwikkel, selfs al verg dit kompromieë.

Die konsert word nie voor ’n gehoor opgevoer nie. Daar word egter baie moeite gedoen om die konsert regstreeks uit te saai – danksy die ondersteuning van die Duitse ambassade, sowel as Paratus as tegniese vennoot.

Die regstreekse uitsending is gratis en die aanlyn gehoor kan die konsert gemaklik vanuit hul huise “bywoon”, met die bykomende voordeel dat enigiemand buite Windhoek by die konsert kan aansluit.

Luidens ’n mediaverklaring wat vandeesweek uitgereik is, is die NNSO “verheug om dié konsert te beplan en oorweldig deur die positiewe reaksie wat hulle tot dusver ontvang het.”

Die NNSO-voorsitter, me. Irmgard Rannersmann, het gesê: “Ons is opgewonde dat ons met die opvoering van hierdie produksie 'n bydrae kan lewer tot die ‘nuwe normaal’ post-Covid-19. Hierdie produksie, wat tradisioneel die Baroque Festival genoem word, benodig net 'n kleiner strykorkes. Aangesien die NNSO-musikante gretig is om weer saam op te tree, wil ons hierdie jaar nie net op die jong studente-soliste fokus nie, maar ook twee stukke vir ’n strykorkes uitvoer. Ons is vol vertroue dat Namibiese musiekliefhebbers in groot getalle sal inskakel om na die konsert te kyk.”

Die NNSO het sy waardering en dank aan Bank Windhoek uitgespreek vir die deurlopende finansiële bydrae die afgelope jaar.

Die konsert sal op 13 Maart om 19:00 uitgesaai word en sal ongeveer 75 minute duur. Die skakel kan gevind word op www.nnso.info.

Vir enige verdere navrae, kontak me. Carine Förtsch by 081 127 2723.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!