'n Glimlag op die ashoop
'n Glimlag op die ashoop

'n Glimlag op die ashoop

Dani Booysen
WILHELM STEENKAMP SKRYF:

Dis Sondagmiddag rustyd op ons ou verste suidelike hawedorpie Lüderitz.

Soos gewoonlik het restaurantwerkers maar min rus en ek ry die vullis weg na die asgate. Ek doen dit self omdat corona mos ons lewe oorgevat het en alle uitkontraktering tot stilstand gekom het.

Ek kla nie, want ek het in die Suide grootgeword waar jy nie kla as jy moet werk om brood op die tafel te sit nie, want geld was nog altyd skaars hier.

Ek laai die vrag vullissakke op my Ford Ranger Wildtrak met sy "Chillie Orange"-kleur, soos hy beskryf word in sy boekie. Dit was ‘n tweedehandse winskoop met slegs 18 000 km op die klok en het my spaarsamige sak gepas. Eintlik behoort dit ‘n jong windgat se bakkie te wees, het ek gedink toe ek dit aanskaf op my 56-jarige ouderdom.

Wel, nou dra dit vullissakke saam met die amper 60-jarige na Lüderitz se asgate.

Ek sit die musiek waarvoor ek so lief is hard genoeg sodat my een beter oor dit goed kan hoor, maar sonder dat ek dalk iemand in sy Sondagslapie steur. Net vir myself en vir die Liewe Heer, wie alomteenwoordig is.

So nader ek die asgate, waar ek stilhou en vinnig aflaai om die miljarde vlieë so gou moontlik te ontglip. Ek spring in die windgat bakkie sodat die vlieë nie saam met my die luukse ruimte kan kom deel nie en trek weg met ‘n gevoel van “dis afgehandel”.

Toe trek ‘n beweging my aandag. Ek kyk so in die ry om en trap die briek so vining dat my jig amper my beendere verlaat.

Waar ek sopas die vullissakke afgelaai het, krap ‘n figuur in die sakke vir ‘n stukkie kos. Ek sien in my gedagtes die wit wurmpies in die sakke se inhoud en druk die bakkie in trurat.

Ek roep die persoon deur ‘n halfoop venster nader en ontvang ‘n opkyk-spierwitglimlag. Ek verstar en roep weer: “Kom hier asseblief!”

Die figuur strompel in 'n swart sweetpak, hopeloos te groot, teen die steil opdraand uit en kom staan voor my met 'n breë glimlag. "Ja meneer?"

Ek verstar verder, want dit is ‘n sy, 'n vrou, 'n ma wat hier staan. “Hoekom krap jy in die gemors?” vra ek.

"Ek soek kos, meneer. Vir my kinders."

Ek soek hulpeloos na iets om te gee, want ek ken arm, honger en wanhoop. Niks. Tot ek ‘n N$10 raakvat iewers vandaan. Ek druk ditr deur die halfoop ruit. Sy buig, knik en sê, steeds met die glimlag: “Dankie my pa!"

En ek ry.

Die Here roep my by die begraafplaas tot stilstand.

N$10! Is dit wat ek jou gegee het jou lewe lank, as jy my gevra het? Sy het jou nooit gevra nie; net die glimlag.

Ek sien haar nou gereeld daar by die vullisgate en ek kan meer gee. Steeds die dankbare glimlag en ek wonder steeds. Sou ek in dieselfde omstandighede so kon glimlag?

Ons wanhoop oor corona, maar wat van kos en klere? En ons geestelike honger? Waar eindig ons daarsonder?

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer