’n Goeie tyd om te groet
Elvira Hattingh – ’n Goeie tyd om te groet, is as julle as vriende uitmekaar kan gaan. Dis hoe ek van koebaais hou.
Ek weet nie wie so gesê het nie. Nee, dit was nie ’n filosoof of ’n Hansie Slim nie, dalk het ek dit maar hier by myselwers sit en uitdink.
Ek moet sê, ek en die ander siele wat vakansietyd in Windhoek agtergebly het, het nou baie tyd om goeters te sit en uitdink. Ná die “vakansiewegraping” sit niemand hier in die verkeer vas nie, niemand staan in lang rye by winkels of vertrap jou in inkopiesentrums nie, want hier is niemand nie.
Miskien het dié van ons wat agtergebly het, ’n apokalips gemis? Ons dwaal soos spoke deur ’n leë stad en maak einde-van-die-wêreld grappies asof daar geen môre is nie!
Om terug te kom by koebaais – ek groet nie diegene wat nou, ná die wegraping, elders verkeer nie. Ek gaan inderdaad my pen neerlê as dit by nuusskryf kom.
Ek het my hart uitgeskryf, aangehou skryf tot ek myself leeggeskryf het. My pen se ink sal weer vloei, eendag as die stories en woorde hom weer volgeloop het.
Soos die reënmeters tydens hierdie reënseisoen ook nog sal vol raak. Só sê die weerman, terwyl ek opnuut na Windhoek se leë blou lug staar. (Boere, bly maar vir eers in Henties, dis nog nie tyd vir ploeg en plant nie.)
Ek weet nie of ek ooit weer vriende met weerkenners sal wees as dit by nuusskryf kom nie. Net om die flak te kry (ék, die boodskapper) as die wolke nie trek soos hy beloof het nie!
Kan 'n eerlike weerman nie maar net sê "vandag sal dit warm en bewolk wees met 80% kans dat my voorspelling verkeerd is" nie? Want, sowaar, dan skryf ek dít!
Alle grappies op ’n stokkie. Nooit het ek gedink toe ek jare gelede as ’n vars joernalissie (en afgestudeerde student) met my eerste joppie in die mediabedryf begin het, dat die ware leerskool eers ná universiteit begin nie.
Dit was ’n hengse avontuur, ’n klipharde leerskool en ’n ervaring wat ek vir niks sal verruil nie.
Buiten die voorreg om die blad te kon skud van bekendes soos onder andere dr. Ridwan Mia, Engeland se Smokie-band, Nianell, Chris Chameleon en Coenie de Villiers, is joernalistiek die een werk wat jou na plekke neem.
Mauritius, bees- en veilingkrale, Staatshuis, presidente, ministers, afgebrande sinkhuisies in Otjomuise, agter die stuurwiel van 'n vuurrooi Ferrari, in konferensies en tot by die wêreld se slimstes.
Ek moes inloer by die tannie wat porseleinpoppe regmaak, die bodem van ons leë Von Bachdam en die Swapo-kongres, tot by Okahandja se renjaers en die skooltjie waar verstandelik gestremde kinders jou hart steel.
Ek groet met groot verwagtinge vir die toekoms en dankbaarheid – want ons as joernaliste het ál die avonture danksy Blou Bollie se lesers. Sonder ’n leser en sonder nuusmakers vloei geen ink deur ons penne nie.
Geseënde nuwe jaar.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie