u2019n Goeie winter-opkikkeraar
u2019n Goeie winter-opkikkeraar

’n Goeie winter-opkikkeraar

Lloyd Zandberg
JB Roux - Net wanneer ’n mens dink selfs pannekoek of warmbloedige slaapmaats kan nie die gryse winter opkikker nie, kom ’n slapbandboek met ’n mooi omslag nadergefladder. Die titel is Mooier as Marilyn en dis geskryf deur Anita du Preez – twéé redes om op aandag te spring. Du Preez het jare gelede ’n romanse-kompetisie, uitgeskryf deur Tafelberg, gewen en haar wenroman opgevolg met nog strooplekker romanses.

Reeds ná die eerste hoofstukke is daar geen twyfel nie: Hier is ’n stórie – en groot dinge lê voor. Desiree de Lange betrap haar chirurg-man waar hy koer met Gloria, sy wulpse ontvangsdame, nogal in haar – Desiree se – gunsteling-eetplek. Gloria word óók deur Vincent in die steek gelaat.

Dis nie lank voor vyf vroue, ’n eklektiese groepie, hulle in Desiree se slaapkamer bevind nie: Desiree self; Gloria (wat kom troos soek); Liz, die vrou by wie Desiree destyds vir Vincent afgevry het; Christine, Desiree se maltrap-vriendin; en Caz, Liz en Vincent se dogter.

Saam besluit hulle, so oor Desiree se kop heen, dat dit tyd is om Vincent op sy plek te sit. Hulle smee ’n wraakplan met Desiree, half teen haar sin, aan die voorpunt: Sy het ’n “makeover” nodig – ’n retro- Marilyn Monroe “look” sal perfek wees – en ’n kamma-kêrel (wat nie weet hy is deel van ’n plan nie): Vincent moet jaloers gemaak word.

Dit klink alles ’n bietjie dik vir ’n daalder, maar Du Preez weet hoe om die onwaarskynlike geloofwaardig aan te bied – ’n handige stuk gereedskap in ’n chick lit-skrywer se kis. So ook die vermoë om jou storie só op te stel dat lesers se belangstelling vroeg geprikkel word en die intrige van daar af asof vanself “gebeur”.

Vincent se kredietkaart betaal vir die “makeover”. Wat die kamma-kêrel betref: Die nommer met die John Lennon-brilletjie wat die genoemde eetplek bestuur, is perfek, maar Desiree sit haar Monroe-sandaaltjie neer: Só ver gaan sy nié.

Die afloop is heerlik voorspelbaar, maar daar is kinkels en onverwagshede wat lesers nie kan voorsien nie. Marilyn Monroe en die 1950’s werk perfek as ’n deurlopende tema wat die verhaal “aanmekaar” moet hou.

Chick lit is fantasie en van nature “over the top”; góéie chick lit word terselfdertyd onderlê deur egte deernis en menslikheid en oortuigende karakterisering – Du Preez se gereedskapkis raak voller.

Mooier as Marilyn is guitig en stout, maar dié aspek is nooit geforseerd of afstootlik nie. Die sensualiteit laat die leser smag na ’n lekker sekstoneel. Wanneer dit wel gebeur, is dié toneel lekker stout, maar nie pervers nie. Dalk net te kort.

Mooier as Marilyn is ’n heerlike boek! - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!