'n Haas is 'n ding wat u2026
'n Haas is 'n ding wat u2026

'n Haas is 'n ding wat …

Dani Booysen
Hop? As 'n padda dan 'n ding is wat spring?

En wat maak 'n konyn?

Nee – nie daai ding waaraan dié kortstert en langoor dierasies glo die meeste van hul tyd bestee nie. Hoewel dit 'n duuuuur besigheid is waaroor mense waarskynlik meer moet praat.

Maak liewer ander, kreatiewe voorstelle.

Hoe kom Dapperrerige Danieltjie hierdie week op die onderwerp?

Ons kleinseun Brian het 'n hasie as troeteldier en om die outjie te aanskou, is ewe prettig as insiggewend. Konyn se kind heet Bugsy, maar ons tienerseun Hermanus Benjamin dink David Haaselhoff is slimmer.

Net om die verskil te verduidelik, wat nie almal dalk ken of altyd onthou nie: 'n Haas is 'n wilde knaagdier, soos in 'n springhaas of 'n berghaas, en konyne is hul mak nefies en niggies; waarskynlik getem om mee te boer lank voor hulle troeteldiere geword het.

Ander aand sit Bugsy binne-in 'n kruiwa om 'n riet waarvan die blaar grond toe hang by te kom. Jip – konyne eet ook vir die vale; iets wat hulle met tienerseuns in gemeen het.

En immer doenig.

Skuinslê word tot die minimum beperk. Bugsy dut een oomblik nog op sy pens of sommer lank uit op die sy, en woerts – weg is hy op 'n nuwe hop-hop-ontdekkingstog.

Wat ook al jou persoonlike gevoelens oor hierdie gediertjies met die kort voorbene en die laaang agterpote is, hulle is beslis nie lui nie.

Maar met die trek van verbande met mensekinders moet jy maar versigtig wees …

Veral deesdae is daar mos meer gevoelighede as ooit oor al wat 'n onderwerp is.

Vir een ou is konynvleis ewe lekker as die beste beeshaas, maar vir 'n ander is net die idee van so 'n steak te taai om te sluk.

[Oppas nou, voor iemand jou haasbek slaan.]

Bugsy se avonture in die tuin laat dink aan die manier waarop al hoe meer mense glo deesdae inligting bymekaarmaak. Knibbel 'n bietjie hier en knaag 'n bietjie daar.

En maak gat skoon sodra iets te bitter of te soet na jou smaak is?

So vinnig soos 'n vlakhaas.

Politici en ander wat benoude spronge maak, word dikwels met katte vergelyk. Humeurige hase sal dus 'n paar histeriese hoppe inkry voor hulle om die hoekie verdwyn?

Daar is 'n idioom oor haastigheid. Kom ons sluit dus hierdie sirkel waar ons begin het.

Hoe meer babas, hoe minder spoed – met vooruitgang? En dan teel ander probleme soos konyne aan.

Nóú is dit tyd vir die hasepad.

Hasie hop hop!

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!