’n Hart vir diere

Marlice van Vuuren, ambassadeur van die veld
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Die trane loop toe sy haar arms om haar geliefde Dumby Bear slaan.
Ná agt jaar herken haar “ou teddie­beer” haar wraggies nog.
Sy gaan sit langs die bruin hiëna op die grond en druk hom teen haar vas. Hoe het sy nie na hom verlang nie. Marlice van Vuuren (40), dierefluisteraar, bewaringsghoeroe en veldvrou, is terug op haar grootword-plaas Harnas naby Gobabis in die ooste van Namibië.
Twee episodes van die tweede Groen: Namibië-reeks op kykNET (wat in Julie begin het) is hier geskiet.
Vertel sy oor dié ervaring: “Dit was vir my baie emosioneel, maar ook baie besonders. Die meeste van die diere wat ek help grootmaak het, is al dood. Maar Dumby leef nog.
“En hy het my dadelik herken. Ek het by hom gaan sit en hom vasgehou en net sommer lekker gehuil oor my ou teddiebeer,” vertel Marlice.
Die verfilming van die olifantprojek by Kamanjab was vir haar ’n ewe emosionele ervaring.
Die mens-dier-konflik in dié boerderygebied in die noordweste van Namibië is reeds jare lank ’n tameletjie. Die skade wat die olifante aan infrastruktuur soos damme, krippe en draadheinings op plase aanrig, was al in 2008 ’n besprekingspunt tydens die landboukongres. Destyds is besluit om brandrissiekonsentraat, gemeng met ou olie of ghries, aan boere se waterinstallasies en ander strukture te verf om die olifante weg te hou. Die diere se reuksintuig is immers 100 keer meer sensitief as dié van die mens.
Danksy ’n skenking van drie nekbande elk deur die bierbrouery, Namibia Brew­eries, en die ministerie van die om­gewing en toerisme, hoop die Van Vuurens om inligting in te samel wat konflik in die toekoms sal help vermy. Deur die bewegings van die nagenoeg 150 olifante in die omgewing te monitor, kan ­boerderybedrywighede aangepas word om skade tot die minimum te beperk, vertel sy.

Sy aan sy
Dit duur sowat sewe minute vandat die verdowingspyl die logge, grysvaal lyf getref het, tot die middel sy werk doen.
Marlice moet haar storie ken waar sy met die Land Cruiser-bakkie deur die ruigtes tot by die reusedier vleg. Toe die olifantkoei met ’n sug aarde toe sak, is sy en die res van die grondspan daar. Hulle werk vinnig. Binne ’n halfuur word bloed getrek en ’n 14 kg nekband met ’n satellietsender om haar nek gesit word. Dan laat spaander sy en die span. Wanneer die olifant wakker word, moet hulle ver weg wees.
Bo hulle sirkel haar man, Rudie (43), in sy Cessna oor die gebied. Hy is die “oë” van die operasie. Binne twee dae moet satelliet-nekbande om ses olifantkoeie in die groter ­Kamanjab-omgewing geplaas word om hul bewegings te monitor. Omdat olifanttroppe matriargaal is, help dit nie om die nekbande om die bulle te sit nie. Die bekende wildvanger Jan du Preez help Rudie om vanuit ’n helikopter die ­olifante op te spoor en die koeie te identifiseer.
Die Kamanjab-olifantprojek is een van verskeie bewaringsinisiatiewe van die Van Vuurens wat in dié kykNET-reeks te sien is. Dit is deur Homebrew Films vervaardig, met Hanné Koster as regisseur. Die reeks word ook in Engels as Wild Jobs Namibia op Namibië se nasionale televisiediens, NBC, uitgesaai.
Die Van Vuurens, eienaars van die N/a’an ku sê-wildlewestigting naby Windhoek, het meer as ’n jaar gelede al met die beplanning en verfilming van dié tweede reeks van 13 episodes begin.

Slag met diere
Marlice se dierekroos op N/a’an ku sê tel meer as ’n 100. Met my besoek aan die Van Vuurens op dié plaas digby Windhoek, maak sy en Rudie die optelsom: 16 jagluiperds, ses luiperds, ses rooikatte, vyf leeus, 15 wildehonde, 52 bobbejane, vyf vlakvarke, ’n stinkmuishond en ’n swartpoot-wildekat. O ja, en moenie die driebeen jagluiperd, Lucky, van Volkswagen Polo-advertensiefaam vergeet nie.
Google ’n mens “Marlice van Vuuren”, spoeg die soektog vondse soos “The Cheetah Wisperer” en “The Lion Girl” uit. Programme oor die bewaringswerk wat sy en Rudie doen, word gereeld op internasionale TV-kanale soos National­ Geographic, BBC en CCN uitgesaai.
Net soveel as wat haar vriendin Angelina Jolie die glansgesig van Hollywood is, het Marlice die glansgesig van be­waring in Suider-Afrika geword.
Maar dit is nie net die natuur en diere waaroor sy passievol is nie. Die ­gemarginaliseerde San-mense van Namibië en die maatskaplike, ekonomiese en ­politieke uitdagings wat hulle beleef, lê haar ewe na aan die hart. Marlice praat ook die Ju/’oansi-dialek van die San vlot.
Dit is hier op N/a’an ku sê, ’n 6 000 hektaar plaas oos van Windhoek, waar die Van Vuurens se bewaringsdroom in 2006 wortel geskiet het. Dit is ook hier waar hulle my op ’n loom Saterdagmiddag gul ontvang. Om anderhalfuur of wat uit dié twee se besige lewens vir ’n onderhoud te “boek”, is nie maklik nie.
Rudie, ’n mediese dokter, is ook die private geneesheer van die Namibiese president, dr. Hage Geingob. Dit beteken hy is soms vir dae aaneen weg van die huis wanneer hy die staatshoof op amp­telike besoeke vergesel.

Koei en kalf as lobola
Marlice, of Vlooi soos haar familie en vriende haar noem, se kinderdae was ’n lang, sorgvrye avontuur. Sy en haar broers, Schalk en Nico, het op Harnas in die Kalahari grootgeword waar ma Marieta en pa Nick van der Merwe ’n wildlewestigting en -bewaringsoord op die been gebring het “om die wêreld ’n beter plek vir mens en dier te maak”.
Gedurende die week het hulle op Gobabis skoolgegaan en in die koshuis gebly en naweke was die San-kinders en die diere wat op Harnas versorg en gerehabiliteer is, hul maats.
Ongelukkig was hartseer en pyn hulle nie vir altyd gespaar nie. Pa Nick is in 2001 aan Kongokoors dood en Nico in 2006 terwyl hy aan die uitmergelende Desert Dash-fietswedren deur die Namib deelgeneem het.
Twee episodes van die nuwe Groen: Namibië-reeks is op Harnas geskiet. “Dit was vir my baie emosioneel, maar ook baie besonders. Die meeste van die diere wat ek help grootmaak het, is al dood. Maar Dumby, ’n bruin hiëna leef nog. Hy het my dadelik herken. Ek het by hom gaan sit en hom vasgehou en net sommer lekker gehuil oor my ou teddiebeer,” vertel Marlice.
Rudie, ’n kranige sportman, het Marlice in 1998 ontmoet toe Schalk, saam met wie hy in daardie stadium rugby gespeel het, hom ’n koei en ’n kalf as lobola vir sy suster beloof het. Twee jaar later is hulle getroud. “Schalk was in die hospitaal met ’n sny aan sy been en toe ek een middag tydens my saalrondes by hom kom, vra hy ek moet tog asseblief sy suster op ’n ‘date’ vat, hy sal my met ’n koei en ’n kalf vergoed,” onthou Rudi met ’n ondeunde vonkel in sy oë. “Ek het toe net begin praktiseer en moes nog by een van die ander dokters in die praktyk geld leen om vir die ete te betaal.”
“Vir my was dit liefde met die eerste oogopslag,” vertel Marlice. “Van hom weet ek nie . . . hy was maar stadig uit die blokke. Ek moes al die aanvoorwerk doen,” lag sy en raps hom gemaak-verontwaardig op die arm.
Ek het die Van Vuurens in 2003 leer ken toe Rudie een van die enigste sportmanne ooit geword het om in een jaar vir sy land in twee Wêreldbekertoernooie te speel – rugby én krieket. Joernaliste het behoorlik oor hul voete geval om met hom ’n onderhoud toe voer.
Waar ons oor ’n koppie koffie kuier, kyk ons uit oor die savanna-landskap. Hull twee seuns, Zacheo (9) en Nicklai (4), speel ’n ent van waar ons sit saam met hulle maat Klein-Piet. Hy is een van die San-kinders in die Clever Cubs-skool op die plaas. Toe Nicklai kom koeldrank vra, vertel Marlice: “Hy is na my pa vernoem en Zacheo na Rudie se pa, maar eintlik moes dit andersom gewees het. Zacheo het my pa se geaardheid en Nicklai is weer my skoonpa uitgeknip.”
Hulle leef net so sorgeloos saam met die San-kinders en die diere soos Marlice en haar broers destyds. En die bewaringsbloed loop ewe dik deur haar seuns se are, vertel Marlice. Wanneer bewaringswerk hulle die land vol neem, is die twee dikwels by.
“Toe ons die renosters verskuif het uit gebiede waar die stropers bedrywig is, kon hulle nie verstaan waarom word hul horings afgesny nie. Ek het verduidelik dat die stropers net in die horing belangstel en dat hulle baie geld op die swartmark kry omdat daar Oosterlinge is wat die fyngemaakte renosterhoring as medisyne gebruik. Nicklai was verskriklik ontsteld en het vir my gesê, ‘Maar Mamma, dan kan hulle mos net sowel naels eet’. Dit pla hulle nou nog en hulle vra gereeld vrae daaroor,” sê sy.

Lewensdroom kry gestalte
In 2004 het Rudie ná sewe jaar as nasionale speler uitgetree en al meer betrokke geraak by die twee passies in hy en Marlice se lewe: Die versorging van die San-mense en die bewaring van diere.
“Ek het nie in die stad geaard nie,” vertel Marlice oor die tyd toe sy en Rudie as jong getroudes in Windhoek gewoon het. “Hoewel ek toe nog betrokke was by die Harnas-stigting se administrasie en bemarking, wou ek voltyds in die natuur wees en omsien na wat my die naaste aan die hart lê: Die San-mense en diere.”
Sy en Rudie het toe met die Lifeline-­kliniek by Epukiro in die Kalahari begin en gratis na die gesondheidsbehoeftes van die San omgesien. In 2005 kon hulle danksy ’n skenking van €20 000 van ’n bekende Nederlandse sakeman en vriend van hulle, Jan Verburg, die gebou koop waarin die kliniek was. ’n Voltydse suster en dokter is aangestel om beter na die nagenoeg 5 000 pasiënte om te sien wat die kliniek jaarliks besoek.
In 2006 het Verburg deur middel van sy welwillendheidsfonds, Burg­land Charitas, €350 000 geskenk sodat die Van Vuurens ’n lodge op N/a’an ku sê kon bou. Die inkomste hieruit help om hul bewaringsdroom te finansier.
“Ons het ’n Artikel 21-maatskappy gestig en ploeg die wins terug in bewaring, asook in die onderwys-, opleiding- en bemagtigingsprojekte vir die San-mense. Ons wou N/a’an ku sê uit die staanspoor méér as ’n toevlugsoord vir diere te maak, maar dit as bewaring- en navorsingsentrum gebruik van waar ons die konflik tussen mens en dier kan bestudeer, die dinamika daarvan ontleed en mense op innoverende maniere bemagtig om dit beter te bestuur,” sê Rudie.
“Dit help nie ons neem heeltyd net probleemdiere in nie. Ons moet vasstel hoekom ontstaan konfliksituasies op plase en wat is die redes waarom boere byvoorbeeld van roofdiere wil ontslae raak.”
Roofdiere soos luiperds, jagluiperds, of bruin hiënas is nie noodwendig gewoontejagters wat nie gaan ophou om skape, bokke of kalwers te vang nie, sê hy. Meeste van die tyd is sulke vangste bloot opportunisties.
Wanneer ’n boer die Van Vuurens se hulp inroep, bepaal hulle hoe die probleemdier se jagpatroon lyk en hoeveel skade hy veroorsaak. “Ons eerste doel is om te keer dat hy nie in gevangeskap geneem word nie en as heel laaste uitweg, sal ons ver­skuiwing na ’n gebied oorweeg waar konflik nie gaan plaasvind nie. Die ideaal is om vir die boer die hulpmiddels te gee om sy probleem te bestuur.”
Dit doen hulle deur vir die roofdier ’n halsband met ’n satellietsender aan te sit sodat sy bewegings ge­monitor kan word en vasgestel kan word watter tipe prooi dié dier vang.

Huisvriende met die
Pitt-Jolies
Moenie dink as mense Marlice ontmoet vra hulle haar oor bewaring uit nie. Eerste ding wat hulle wil weet, is hoe sy en Angelina ontmoet het.
Die Van Vuurens en die Pitt-Jolies is reeds jare lank goeie vriende en stuur gereeld vir mekaar e-posse. In 2010 het hulle Kersfees op N/a’an ku sê deurgebring. Marlice lag toe ons onthou hoe Windhoekers se monde het behoorlik oopgehang toe Brad (Pitt) en Angelina doodluiters met hul kroos Kersinkopies in een van die winkelsentrums gedoen het.
Vertel sy: “Dit was eintlik Maddox wat ons paaie laat kruis het. Angelina was kort ná sy hom in 2002 aangeneem het, in Namibië waar dele van die fliek Beyond Borders in die Namib verfilm is. In een van die tonele moes sy ’n aasvoël vrylaat en ek is gekon­trakteer om daarmee te help.”
Terwyl Angelina een dag op stel besig was, het Marlice gehoor hoe Maddox ontroosbaar huil. Marlice se moedersinstink het oorgeneem en sy het die kinderoppasser gaan vra of sy kan help. Terwyl sy besig was om Maddox in haar arms te sus, het Angelina se persoonlike assistent opgedaag en ’n kabaal opgeskop oor haar “vermetelheid”.
“Angelina het daarvan te hore gekom en my die volgende dag vir ete genooi om verskoning te vra vir haar assistent se optrede,” vertel sy. Hulle het kontak behou en toe die Pitt-Jolies Namibië in 2006 kies as die plek waar Shiloh gebore moet word, het die Van Vuurens aanvank­lik hul hande vol gehad. “Sy wou met alle geweld hê die bevalling moet by die kliniek op Epikuro plaasvind en ek moes net keer,” sê Rudie. “Gelukkig het hulle toe op Swakopmund besluit.”
In 2010 het hulle oor Kerstyd met die kinders op N/a’an ku sê kom vakansie gehou. “Ek dink hulle het toenemend agtergekom in Namibië word hulle nie deur paparazzi agtervolg nie. Die mense hier respekteer hulle privaatheid en ek dink dit is vir hulle baie lekker,” sê Marlice.
Dit was juis aan die einde van daardie vakansie wat Angelina een dag doodluiters ingestap het terwyl hulle in die huis doenig was en ’n mediaverklaring wat sy sommer op ’n stuk papier met die hand geskryf het, voor hulle neergesit het. Daarin is aangekondig dat die Pitt-Jolie Foundation US$2 miljoen vir die bewaringsprojekte van N/a’an ku sê be­skikbaar stel in ’n poging “om Shiloh deel te maak van haar geboorteland”.
In Mei verlede jaar het Shiloh vir haar negende verjaarsdag drie N/a’an ku sê-jagluiperdjies present gekry. Hulle is kort tevore op die plaas gebore en omdat hulle ma diabetes ontwikkel het toe sy dragtig was, kan sy hulle nie self grootmaak nie. “Ons het die wyfie na haar vernoem en gesê sy moet die twee mannetjies se name self kies en sy het op Odyssey en Wonder besluit,” vertel Marlice. ’n Maand later kon ma Angelina tydens ’n blitsbesoek aan die plaas darem die jagluiperdjies namens Shiloh vashou en liefkoos.
Dis reeds sterk skemer toe ons in die veld afskeid neem van dié drie woelige sibbe ná hulle ons met bollemakiesies en boomklimmery vermaak het.
Op pad terug sê Marlice: “Soms wens ek mense was meer soos diere. Hulle is net wat hulle is. Sonder voorgee en valsheid . . .”
*Hierdie is ’n aangepaste weergawe van die oorspronklike artikel wat in die Julie 2016-uitgawe van SARIE verskyn het.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer