u2019n Hartjie van Bibi nu00e1 Israel se verkiesing
u2019n Hartjie van Bibi nu00e1 Israel se verkiesing

’n Hartjie van Bibi ná Israel se verkiesing

Derde keer is skeepsreg, sê Benjamin Netanyahu, premier van Israel, wat homself nou in ’n derde verkiesing ná mekaar tot oorwinnaar by die stembus verklaar het.

’n Peiling nadat die stembusse gesluit het, dui daarop dat Netanyahu waarskynlik reg is en dat hy uiteindelik sy grootste politieke teenstander Benny Gantz verslaan het.

Netanyahu het ’n “dankie” en ’n hartjie-emoji getwiet.

Die peiling dui daarop dat sy regse Likoed-party die 59 setels gaan wen wat hulle die grootste groep in die Knesset (parlement) sal gee, maar hulle sal nog twee setels vir ’n volstrekte meerderheid nodig hê.

Netanyahu het die verkiesing “die grootste oorwinning in my lewe” genoem.

Maandag se verkiesing was die derde in die laaste jaar nadat nie Netanyahu of Gantz ná die eerste en tweede verkiesing ’n parlement kon saamstel nie.

Netanyahu (70) is Israel se langs dienende premier. Indien hy wel gewen het, sal dit sy vyfde termyn as premier inlui. Hy was premier van 1996 tot 1999 en weer van 2009 af.

Die verkiesing is gehou twee weke voordat hy op twee aanklagte van korrupsie in die hof moet verskyn. Hy ontken skuld. Hy het glo geskenke van ryk sakemanne aanvaar en gunste uitgedeel om beter mediadekking te kry.

Selfs as hy skuldig bevind word, kan Netanyahu aanbly as premier totdat die laaste regstappe uitgeput is.

Gantz, leier van die Blou-en-wit-party, het nie dadelik erken dat hy verloor het nie, maar het wel erken dat die peiling ná die stemming nie goed vir sy party lyk nie.

“Ons moet nog ’n verkiesing voorkom. Israel het eenheid nodig, ons het versoening nodig, ons het ’n leierskap nodig wat verenig en dit is iets wat ons sal voortgaan om Israel te bied,” het Gantz gesê.

Avigdor Lieberman, leier van Yisrael Beiteinu, wat in die vorige verkiesings die finale stem kon hê deur een van die partye as alliansie-vennoot te kies, het gesê hy sal sy verkiesingsbelofte hou en nie een van die religieuse partye steun nie.

Pres. Reuven Rivlin van Israel sal in die volgende paar dae die leier wat die sterkste uit die verkiesing gekom het, vra om ’n regering saam te stel.

Saeb Erekat, die sekretaris-generaal van die Palestynse Bevrydingsorganisasie (PLO), het getwiet dit is duidelik dat “okkupasienedersettings en apartheid in Israel se verkiesings gewen het”.

Netanyahu het belowe om ingevolge pres. Donald Trump van Amerika se vredesplan Joodse nedersettings in die besette Wesoewer te annekseer.

Die Palestyne het die plan verwerp.

Meer as 600 000 Jode woon in 140 nedersettings wat sedert 1967 in die besette Wesoewer en in Oos-Jerusalem gebou is. Die wêreld beskou die nedersettings ingevolge internasionale wetgewing as onwettig. Amerika het aangekondig dat hy nou die nedersettings as wettig beskou. – Netwerk24/Reuters, BBC

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!