u2019n Hele ander wu00eareld
u2019n Hele ander wu00eareld

’n Hele ander wêreld

Lloyd Zandberg
Wanneer ek vir mense vertel ek kyk nie graag TV nie, kry ek die gevoel hulle vermoed daar’s ‘n gaping in my opvoeding.

As kleuter of selfs laer- en hoërskoolleerling het ek menige Vrydagaand op ‘n krismisbed saam met my sibbes voor die kassie gelê, maar ék was die een wat eerste aan die slaap geraak het of elke tien minute wou weet wat gaan nou gebeur.

In daai stadium was DStv nie so ver gevorderd soos vandag nie, en net mense wat vir die staat werk of oor ‘n mediese graad van ‘n soort beskik, het die luukse voorreg van DStv gehad. Party dominees in ons kontrei het dit ook gehad.

In die konteks van my opvoedingsjare was dit eenvoudig nie moontlik nie. DStv was duur en buite die bereik van my ouers se salarisse. Ons was wel bevoorreg genoeg om ten minste een keer ‘n week ‘n tipe vleis deur ons dermkanale te kry, en af en toe ‘n pizza wat by die voordeur afgelewer word, maar nie naastenby bevoorreg genoeg om DStv te kon bekostig nie.

Vermoedelik het die keuse van inhoud wat die SABC aangebied het, my entoesiasme vir TV-kyk destyds al ‘n knou gegee. Dit was in die middel van my hoërskooljare toe ek finaal besluit het om eerder ‘n boek op te tel of ‘n legkaart te bou of selfs in die kombuis te help, as om vir ure na iets op TV te staar wat niks meer as my retinas roer nie.

Natuurlik is nie alles op TV vervelig, nie-opvoedkundig of pure bog nie. Deesdae kry mens wonderlike programme, dokumentêre inhoud en aktuele kanale wat werklik indrukwekkend is. Dis nie dat ek teen TV gekant is nie, ek verkies net om my tyd op ander maniere deur te bring. Wyses wat ek as opvoedkundig, aktueel en konstruktief beskou.

Die ontstaan van onder meer Netflix, Showmax en Google Play het ‘n warboel kykgenot bekend gestel. En daar is regtig iets vir almal. Die spreekwoord in Engels sê: If you can’t beat them, join them – en het uiteraard sy plek in my huis ingeneem en onlangs, dis ietwat vreemd, bevind ek myself meer gereeld voor die kassie.

Ek noem graag hier dat die TV wat ek tans besit nog een van die boepensmanne is. My TV lyk of haar water gaan enige oomblik breek, tensy sy al ‘n week oor haar volle termyn is.

Maar die vooruitgang van tegnologie het geweldig baie op planeet aarde beïnvloed, en sekerlik was die oes van vindingryke veranderinge die grootste op die bome wat in die TV-bedryf groei.

Met die ontwikkel van HD, na 4k en vandag selfs 8k verander jou sit- of TV-kamer in ‘n woud, kombuis, operasiesaal, kinderboek of straathoek. Dis wonderlik om te dink die beeldgehalte is van so ’n aard jy kan jouself ten volle in die situasie inleef.

Intussen besluit ek ek kry vir my Netflix. As jy, liewe leser, nie weet wat dit is nie, is ek jammer om te hoor, maar doen jouself die guns. Ek, ja die ou wat nie eintlik ‘n voorstander van TV is nie, is versot op die unieke inhoud wat beskikbaar is. Weens my liefde vir die verhoog, musiek en toneelspel is daar ure en ure se kykgenot wat my naam tussen hakies het.

Só skop ek af met ‘n dokumentêr oor die wyle jazz-sanger Amy Winehouse. Kort voor lank sit ek met ‘n boks tissues en ‘n bak springmielies in my hand. Ek kan my oë nie vir ‘n oomblik van die kassie afhaal nie. Buiten dit is die gehalte van die beeld, al is dit in my TV se laaste trimester, ongelooflik. Die oorspronklikheid van die inhoud gaan my verstand te bowe. Dis asof jy saam met Amy die donker ingaan. Dis feitlik baanbreker. Ná Amy se swart verhaal beweeg ek oor na ‘n reeks wat oor straatkos en die ontstaan, impak en eenvoud daarvan verduidelik. Ek proe, ruik en voel elke bestanddeel wat in die program verskyn – ongelooflik as ek daaraan dink.

Street Food, die betrokke progam, is werklik iets uit ’n ander wêreld. In die eerste episode maak die program ‘n draai in een van my gunstelinglande ter wêreld, Thailand. Ek was jare laas daar en mis dit elke dag meer en meer. Terwyl hulle in Bangkok is, onthou ek die spesifieke straat, met sy klanke, reuke en gevoel. En daar sit ek Vrydagaand in my tuiste op dieselfde ou leerbank, met dieselfde kombers, maar vir ‘n oomblik kuier ek in Thailand.

En dis die wonderlike ding van TV: Dit neem jou na plekke waar jy nooit gedink het jy kon gaan nie. Verlede naweek rook en en Amy in haar woonstel in Camden, Londen. Gisteraand loop ek in Koh Sanstraat in Bangkok, Thailand.

En oormôre gaan ek Turkye toe, ons gaan hot air balloons ry.

Ek het wel hoogtevrees, maar ek behoort oukei te wees.

En dit kos my net N$170 ‘n maand. Goedkoper as ‘n wegneemete hier in die hoofstad.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!