'n Herberg vir 'n nuwe liefdeswind
My liefste klein(ste)seun,
Toe my lomp arms jou bitter tenger lyfie op 'n snerpende Augustusdag vir die eerste keer toevou, wéét my halwe-eeu-hart soos sy nog nooit geweet het nie dat ek alles moontlik sal doen om jou teen die winters van die lewe te beskerm.
Verwondering ongeken oorweldig my. Want om ouma te wees, is anders as om ma te wees. Anders as om lewensmaat en vriendin te wees. Anders as om die vróú te wees wat ek tot nou toe was.
Toe jou ogies nuut en helder knip-knip rondsoek en uiteindelik myne vind en jou fluweel handjies soos vlinders rondfladder en myne plek-plek vir 'n oomblik raak, besef ek: Ek bang nie ryp, sneeu of ys nie. Vir jóú sal ek die son gaan vang.
Die Augustuswind waai nie net buite jou hospitaalkamer in Windhoek nie, my kind. Hy warrel ook stofstorms oral in jou land, loei sy verandering gevaarlik dwarsoor die wêreld. Hy skreeu om die hoeke van die sinkhuisies in Katutura en die wolkekrabbers van wêreldstede, vreet deur leë beursies van mense sodat gulsige vetkatte goue horlosies kan dra.
Die wind van vandag waai háát, my kind. Saai verdeeldheid, plant onverdraagsaamheid wat vrees laat gedy. En wat ons uiteindelik uit hierdie dorre aarde pyn en lyding laat oes.
Dis nie die wind se skuld nie, my seun. Dis óns s'n – hierdie mense-moeras waarvan jy nou deel is. Ons omgord ons met selfmoordbomme, jaag met karre in skares in. Politici met 'n godkompleks dreig mekaar met kernwapens, blaas die toorn van ewe selfsugtige én kortsigtige massas aan.
Ons mors met die grond en die water en als wat groen is en lewe, kleinman. Maai renosters en olifante en ietermago's af. Als wat nog in Noag se ark oorbly en ons vir 30 stukke silwer kan verraai.
Ons slaan mekaar agter geslote deure, moor en roof, gooi klein mensies soos jy vir die wind op ashope. Gaan soek vergeet in drank en dwelms. Armoede het ons menslikheid weggewaai, kabouter.
Die wind was nie altyd so nie, liefie. Hier by ons was hy in Augustus vol belofte. Het hy die kilheid van Junie en Julie kom wegwaai. Ons winterharte vir die lente van 'n nuwe seisoen kom ontvries. 'n Seisoen van nuwe lewe – soos die stokroossaadjie wat die oggend van jou geboorte dapper deur die koue grond in my tuin gebars het.
Namibië se Augustusvlae bring lente, my bokkie. Met diepsoet bloeisels van hoop, van 'n nuwe begin. Van wéér probeer. En glo dié keer sal ons dit regkry.
Ons kan dit weer die wind van lewe maak, Ouma se seun. Ons kán weer onskuld so helder soos jou oë laat blom. Nie net ek en jy en Mamma en Pappa en ons hele familie nie, maar Namibiërs en die wêreld sáám.
Daar's 'n Groot Boek waaruit Ouma nog baie vir jou sal lees. Een van die stories gaan oor die Liefde.
Hoe dit groter as alles is, hoe dit enigiets kan regkry. As 'n mens dit net so styf vashou soos ek jou nou vashou.
Vat my hand, klein Brian. Dan stap ons in die stofpad af en ons gaan wys die wind weer hoe om in die regte rigting te waai.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie