'n Hond soos Goldie
Goldie was 'n spanjoel, 'n goue bondel ore en liefde, wat daarvan gehou het om met 'n lek van 'n baie nat tong vir jou te sê hoe bly is sy om jou te sien.
Goldie was, soos die tweebenige inwoners, ook 'n koshuisbrak – in haar geval in die ware sin van die woord. Saans, net voordat die ligte een vir een in die koshuis sou afgaan, sou Goldie 'n laaste draai deur die gange loop om nag te sê. Sy het natuurlik geweet by watter kamer wag 'n stukkie tuisgemaakte beskuit of 'n stukkie oorskiet van 'n hamburger of 'n peanutbotter-en-stroop-broodjie.
As gunstelingkoshuisbrak het sy ook haar lêplekkies in die eetsaal gehad waar sy geweet het iewers, as sy lank genoeg gewag, gaan 'n frikkadel of van daardie donkerpienk Weense worsies vloer se kant toe kom.
Wanneer die koshuis deur die dag stil geraak het, het Goldie die pad gevat.
In die somer was haar gunstelingkuierplek die Eersterivier waar sy geswem het. Wanneer die hitte teen skemer eers effens begin daal het, het Goldie met 'n papnat spanjoellyfie die eetsaal oopbek ingestorm en haar op die wit vinielvloere kom droogskud.
Tot die dag wat Goldie nie teruggekom het nie. Die oggend was sy nog by ontbyt in die eetsaal waar sy gretig stukkies afvalroereier onder die tafel opgeraap het. Met aandete was sy weg. Met die son wat somertyd laat in die Wes-Kaap sak, is daar onmiddellik 'n soekgeselskap bymekaar gemaak om vir Goldie te gaan soek.
Sy was nie ver nie en is gekry skaars 'n paar meter van die koshuis waar sy oor die pad gehardloop het en deur 'n padbuffel raakgery is. Goldie se spanjoellyfie was slap waar dit gebreek langs die pad gelê het. Haar ore nog papnat van waar sy iewers vir oulaas van die Eersterivier se koue water gedrink het.
Onmiddellik is begin om 'n gepaste begrafnis vir Goldie te beplan. Die hulp van Alice is ingeroep om met 'n gewyde Xhosa-lied in te sit om te laat weet Goldie speel nou in die hemel se riviere. Die Vrydag van Goldie se begrafnis is sy toegedraai in 'n gunstelinghekelkombers uit Calvinia, wat 'n mens-koshuisbrak se lyf tydens ysige Kaapse winters toegevou het. Abraham, die koshuis se tuinbestuurder, het sy kruiwa as lykswa ingespan.
Goldie se hekelkomberslyfie is gewyd op die kruiwa gesit en gepas omring met varkore wat in die tuin gepluk is. Alice en haar span kombuispersoneel het agter Abraham gestap en het ingesit met 'n Xhosa-begrafnislied wat deur murg en been gesny het.
Oral in die buurt het van kat tot hond, wat gereeld saam met Goldie op die Eersterivier se walle gespeel het, met 'n huiltjank hul hartseer geweeklaag. Ons het in 'n hartseer kromrugbondel agter Alica en haar groepie begrafnissangers ingeval. Gestap tot in die hoek van die tuin waar die varkore en die skadu van 'n ou akkerboom die geilste was. Goldie se gunstelinglêplek as die Bolandse hitte op sy felste was. Haar begraweplek van hoender- en skaaptjoppiebeentjies en sokkies en soms 'n plakkie.
Abraham het 'n diep gat gemaak en Goldie en haar hekelkombersie saam met haar koubeentjies gebêre. Ná die teraardebestelling is ons na die hoekkamer, waar ons Old Brown Sherry in koffiebekers geskink en 'n heildronk op Goldie gedrink het. Die Rolling Stones se “Paint it Black” het deur die kamer gedreun.
“I see a red door and I want it painted black
No colors any more I want them to turn black
I see the girls walk by dressed in their summer clothes
I have to turn my head until my darkness goes.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie