u2019n Huiskat tussen die spiertiere
u2019n Huiskat tussen die spiertiere

’n Huiskat tussen die spiertiere

[email protected]
Yandi Du Plessis
Yandi du Plessis – Ná ek vir meer as ’n jaar lank my beste stoelpatatlewe geleef het, het ek omtrent ’n maand gelede weer by die gimnasium aangesluit. In my studentejare was ek ’n getroue gimganger. As ek wou stokkiesdraai of nié lus was om agter die boeke in te skuif nie, sou ek sommer tjoeftjaf my spanbroek en tekkies aanhê.

Toe Covid sy onwelkome opwagting gemaak het, het ek vinnig besluit om dié lidmaatskap prys te gee. Ons mag byna nie ons koppe by die deur uitgesteek het nie, wat nog te sê gaan ysters pomp tussen ’n klomp vreemdelinge wat hulle sweet en spoeg op die apparate agterlaat!

Ek het ook nie van die idee gehou dat my bankrekening gaan krimp terwyl my bobene breër word nie. So, dit was “totsiens, Virgin Active” en “hallo, Netflix”. Beslis nie die gesondste leefstyl nie, maar ek troos myself aan die feit dat ek beslis nie die enigste een was wat soos ’n ruspe geëet en ’n hele seisoen van Friends (vir die 60ste keer) binne twee dae gekyk het nie.

Ek het egter nou ’n stadium bereik waar ek keelvol vir my eie geselskap is en elke reeks wat die moeite werd is al twee keer gekyk het. Dit was tyd om my boude te lig en iets aan my kluisenaarsituasie te doen. Só het ek opgeëindig tussen al die fris Chrisse en wat ook al hulle vroulike ekwivalente genoem word.

Ek weet nie wat ander mense se ervaring is nie, maar ek probeer net my bes om nié soos ’n idioot te lyk voor al die mense met die bultende biseps en kuite nie. Ek is nog altyd redelik klein gebou, maar dit beteken nié ek is fiks nie. My lyf lyk nogal soos ’n swembadnoedel: sonder enige spiertonus of definisie. Dit laat ’n mens nogal voel of jy sleg afsteek teenoor die mense wat lyk asof hulle eiendom in die gim besit. Dán, behalwe vir die mense wat intimiderend is, lyk sommige van die apparate asof hulle gebruik word om lobotomieë uit te voer. Ek wil nie te waaghalsig wees en my naam met ’n plank slaan nie, en bly maar eerder by die vyf wat ek ken.

Dié klein probleempies opsygesit, was die stap om weer aan te sluit die beste een wat ek in ’n lang tyd geneem het. Sodra jy weer in die ritme kom, is dit asof jy nooit opgehou het nie. Daar is iets baie lonend daaraan om die dag ná ’n intensiewe oefensessie soos ’n hardlywige pikkewyn te loop. As daar iets soos “lekker pyn” is, is dít wat die lyfseer is.

Vir iemand soos ek wat ander mense graag (subtiel) dophou, is die gim ook ’n baie interessante plek. Van die outjie wat omtrent tien minute vir homself in die spieël teen die muur staar terwyl hy sy oorontwikkelde armspiere bult en die meise wat met ’n gesig vol grimering en ’n bypassende oefenpakkie staan en selfies neem, tot die vrou wat gister die hele Huisgenoot op die oefenfiets sit en lees het en die oom wie se PT-broekie miskien té veel gate inhet – dit is beslis ’n baie uiteenlopende groep wat daar byeenkom!

Ek wil amper (let wel: amper) sê ek geniet dit. Én as mens elke maand ’n kleinhuisie vol geld betaal om te sweet voor ander mense in ’n vertrek wat soos voete en chloor ruik, maak jy die beste van die situasie!

Kommentaar

Republikein 2025-04-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer