’n Kersfees verweef met ubuntu
Met “Jingle Bells” en “Little Drummer Boy” wat reeds oor luidsprekers in winkelsentrums en op speellyste van radiostasies weerklink, is dit moeilik om van die Kersstemming te ontsnap. Saam met die ewige spesiale aanbiedings en Kersklingels wat gister se pryse vandag optower in ’n rooi baadjie voel dit vreemd onvanpas om eerder te smag na stilte en kaal bome as om nou al te moet wonder wat in wie se pakkie onder die boom hoort.
Vir my is die grootste geskenk dié tyd en alle tye van die jaar die gesondheid van myne en dié wat my hart van vol lê – die wete dat die drie stoele van my Kerstafel wéér vol is. Of dit nou op ’n kampstoel langs die see of by ’n mooi gedekte tafel langs ’n rivier is – solank myne by my is is dit vir my elke dag van die jaar Kersfees.
Met die wêreld om ons wat al kleiner word en grense wat danksy die wêreldwye web aanhou krimp en verdwyn, is dit heel gepas om te sien wat maak ander buite jou eie kring.
In die Filippyne word die reuse- lanternfees (Ligligan Parul Sampernandu) jaarliks op die Saterdag voor Oukersaand in die stad San Fernando, die Kersfeeshoofstad van die Filippyne, gevier.
Elf barangays (dorpies) neem aan die fees deel met inwoners wat alles uithaal om die oordadigste lantern te bou. Oorspronklik was die skeppings eenvoudig, sowat ’n halwe meter in omtrek, gemaak van papel de hapon (Japannese origami-papier) en het ’n kers die lig verskaf. Vandag word dit egter uit ’n verskeidenheid materiaal gemaak, is sommige tot ses meter hoog en is gloeilampe verantwoordelik vir die lig wat daardeur skyn.
In Swede val die fokus op die Gävle-bok wat in die middel van ’n kasteel in die dorp Gävle opgerig word. Die bok is 13 meter hoog en die tradisie is inwoners wat moet probeer om dit af te brand. Nie so ’n eenvoudige takie nie. Sedert 1966 is die bok 29 keer suksesvol afgebrand – die laaste keer in 2016.
Volgens Oostenrykse tradisie is dit St. Nicholas wat soet kinders met Kersfees beloon, terwyl sy bose medepligtige Krampus die stoutste kinders in sy sak stop en wegdra, waarheen weet nugter.
In die eerste week van Desember trek jong mans soos Krampus aan en verjaag al wat ’n kind is met slepende kettings en klingende klokke – enige beplande kattekwaad vinnig vergete.
In Japan is Kersfees nie veel van ’n viering nie, en afgesien van ’n paar klein sekulêre tradisies soos geskenke uitdeel en liggies in vensters is dit grootliks ’n rariteit in die land. Tog het ’n nuwe, prettige tradisie in onlangse jare sy kop uitgesteek – ’n fees op Kersdag met die kolonel se eie Kentucky Fried Chicken!
Die feesmaal word met Desember se afskop reeds op KFC Japan se webtuiste geadverteer en jy kan die Kolonel se emmer hoender sommer van prentjies af bestel as jy nie Japannees kan lees of verstaan nie.
In Ysland is dit die Yule-kêrels wat die dertien dae voor Kersfees hul verskyning maak en vir elke aand van Yuletide óf oulike geskenkies in kinders se mooiste skoene bêre óf vrot aartappels in die stoutes se skoene sit. Miskien is die mees onortodokse Kerstradisie te vinde in Noorweë, waar inwoners in die feestyd hul besems wegsteek. Die tradisie dateer eeue terug toe mense geglo het hekse en bose geeste kom op Oukersaand uit op soek na besems om op te ry.
Tot vandag toe steek baie inwoners hul besems op die veiligste plek in die huis weg om te keer dat dit gesteel word.
Of jy glo in die Seuntjie in die stal en die boodskap van hoop en verlossing wat Hy gebring het of nie, jou Kersfees is jou Kersfees.
Maar mag die gees van ubuntu in jou en joune se huis bly dwarrel; die werklike betekenis van “menslikheid” en die mantra van “ek is, want ons is”; die geloof in ’n universele band van deel wat elke mens ongeag ras of geloof met mekaar verbind.
Dalk is dit juis dít wat die wêreld nou nodig het – ’n deel met ander oraloor die wêreld, ’n leen van ander kulture en tradisies saam met dit wat jy en jou geliefdes vier.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie